Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dié ouens wil Eskom lei

Hulle het senuwees van staal of hulle het ’n sterk masochistiese streep weg.

Andy Calitz, voorheen hoof van LNG Canada en ’n eertydse elektriese ingenieur by Eskom, het aan Bloomberg bevestig hy het aansoek gedoen vir die pos as uitvoerende hoof van Eskom. Foto: The Globe and Mail

Dit is die mense wat aansoek gedoen het vir die pos as uitvoerende hoof van Eskom – Suid-Afrika se staatsbeheerde kragmaatskappy wat vasgevang is in ’n doodspiraal, soos wat die vorige uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, dit noem.

Bloomberg het vasgestel Andy Calitz, ’n voormalige uitvoerende hoof van LNG Canada wat sy loopbaan as elektriese ingenieur by Eskom begin het, het wel vir die taai pos by Eskom aansoek gedoen.

Die warm stoel moet teen Oktober gevul word, want Hadebe het in Julie weens gesondheidsredes bedank en dit word nou tydelik gevul deur die voorsitter van Eskom, Jabu Mabuza.

Calitz, wat later ook senior poste by die internasionale oliereus Shell beklee het, het aan Bloomberg bevestig dat hy aansoek gedoen het vir die pos by Eskom.

Volgens sy LinkedIn-profiel het Calitz sy ingenieursgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy het ook ’n BCom-graad by Unisa, ’n MBA van die Universiteit van die Witwatersrand, en ’n bestuurskwalifikasie van Harvard. Hy het wye internasionale ervaring opgedoen in sy loopbaan by Shell. Hy was in 1995 en 1996 ’n senior hoofbestuurder vir bemarking en transmissie by Eskom.

Dit sal die nuwe hoof se taak wees om Eskom se omdraaiplan te bestuur en die staatsonderneming in drie te verdeel, soos wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër vanjaar in sy staatsrede belowe het.

Dan Marokane, vorige hoof van groepkapitaal by Eskom, het ook aansoek gedoen, volgens ’n anonieme bron met wie Bloomberg gepraat het. Marokane wou nie aan Bloomberg enige kommentaar lewer nie.

Nog ’n anonieme bron het aan Bloomberg gesê sakeleiers het aan Eskom se direksie aanbeveel dat hulle Brian Dames en Jacob Maroga, twee vorige uitvoerende hoofde van Eskom, ook vir die pos moet oorweeg.

Dames was van 2010 tot 2014 uitvoerende hoof van Eskom, en Marokane was oor dieselfde tydperk in ’n senior pos by Eskom. Dames was hoof van Eskom in ’n tyd toe oudpres. Jacob Zuma toenemend begin inmeng het met die aanstelling van direksies by staatsondernemings.

Maroga is self onder ’n wolk weg by Eskom en hy het geglo hy is onbillik afgedank, terwyl Eskom beweer het hy het aangebied om te bedank. Hy het in 2010 sy eis teen onbillike afdanking teen Eskom verloor. Hy was van 2007 tot 2009 uitvoerende hoof van Eskom.

Met hul ooglopend negatiewe ervarings by Eskom is dit te betwyfel of Dames en Maroga lus sou wees om na Eskom terug te keer.

Freeman Nomvalo, herstruktureringshoof van Eskom, moet teen einde September ’n verslag oor die herstrukturering van Eskom se skuld van meer as R440 miljard afhandel.

Eskom-amptenare het onlangs aan effektebeleggers in Londen gesê die skuldhefboomverhouding sal verlaag moet word omdat dit tans onvolhoubaar is. Een van die opsies is dat ’n groot deel van die skuld na die staat se balansstaat oorgeskuif word. Die regering het reeds reddingsboeie van altesaam R230 miljard oor die volgende dekade aan Eskom belowe.

Eskom verkoop nie genoeg krag om die rente op sy skuld te kan betaal nie.

Marokane was een van drie topbestuurders, insluitend die destydse uitvoerende hoof, Tshediso Matona, wat in 2015 geskors is te midde van ’n ondersoek na Eskom se swak prestasie. Eskom het gesê daar is nooit beweer dat Marokane skuldig was aan enige wangedrag nie.

Meer oor:  Eskom  |  Brian Dames  |  Phakamani Hadebe  |  Elektrisiteit  |  Staatsondernemings  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.