Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dié soort sonkrag kan beurtkrag keer
Die ontvangertoring van die Spaanse groep Abengoa se gekonsentreerde-sonkrag-aanleg Khi Solar in die Noord-Kaap. ’n Veld van spieëls fokus sonstrale op dié toring waar ’n hitteoordragvloeistof verhit word om stoom op te wek wat gebruik word om ’n kragopwekker te draai. Foto: Abengoa

Die regering ignoreer die potensiaal van gekonsentreerde sonkrag, reken die Son-termiese Vereniging van Suider-Afrika (Stasa).

Eerder as om op spesifieke energietegnologieë te fokus, moes die regering se kragbloudruk eerder fokus op hoeveel elektrisiteit op verskillende tye van die dag benodig word, dus hoeveel energie van basislaskragstasies, middelvlakkragstasies en spitstydkragstasies benodig word.

Op grond daarvan kan daar dan besluit word op ’n kombinasie van tegnologieë sonder om enige tegnologie uit te sluit, het Terence Govender, voorsitter van Stasa, Dinsdag gesê op die eerste dag van die parlement se portefeuljekomitee oor energie se openbare sitting oor die konsepplan vir geïntegreerde hulpbronne (IRP). Die IRP is die regering se bloudruk vir kraglewering tot en met 2030.

Die IRP is einde Augustus vir twee maande se openbare kommentaar gepubliseer.

Stasa verteenwoordig die gekonsentreerde-sonkrag-bedryf. Van sy lede sluit in internasionale sonkragmaatskappye soos die Spaanse groep Abengoa, die Amerikaanse groepe BrightSource en SolarReserve, asook Engie en Acwa Power.

Gekonsentreerde sonkrag kan standhoudende krag oor ’n 24-uur-tydperk lewer omdat dit die hitte-energie van die son in tenks met gesmelte sout kan berg, verduidelik Govender. Dit maak dit anders as ander groenkragopsies soos wind- en fotovoltaïese sonkrag wat regstreeks krag opwek. ’n Aanleg van gekonsentreerde sonkrag kan krag opwek al is dit bewolk of donker.

Stasa probeer voorbrand maak vir groter gebruik van gekonsentreerde sonkrag, want die konsep-IRP maak nie voorsiening vir enige nuwe gekonsentreerde sonkrag nie. Tot dusver het die regering nog net 600 MW se gekonsentreerde sonkrag uit ’n totaal van 6 000 MW se groenkrag gekontrakteer. Hy kritiseer die regering se groenkragprogram omdat dit dié tegnologie so traag kontrakteer, wat beteken die tegnologie kry nie kans om danksy skaalvoordele koste te verlaag nie.

Govender wys op die groot steun wat gekonsentreerde sonkrag in bodprogramme in ander gebiede soos die Midde-Ooste geniet. Verlede jaar is pryse van onder R1 per kWh in bodrondes in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) behaal. Dit is ’n sesde van die pryse wat die IRP as riglyn gebruik vir gekonsentreerde sonkrag, terwyl Suid-Afrika se sonkragbron 1,5 keer meer as dié van die VAE is, sê Govender.

Volgens hom het Eskom Maandag gewaarsku daar kan beurtkrag wees, maar dit is verhoed danksy die bydrae van windkrag én gekonsentreerde sonkrag.

Gekonsentreerde-sonkrag-aanlegte het ’n 30-jaar-leeftyd teenoor fotovoltaïese sonkrag en windkrag wat tipies 20-jaar-leeftye het.

Robyn Hugo, prokureur van die Sentrum vir Omgewingsregte, het aan die komitee gesê die IRP is strydig met die Grondwet omdat dit nie behoorlik tot die stryd teen klimaatsverandering bydra nie. Die IRP sluit nuwe private steenkoolkrag van 1 000 MW in.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Beurtkrag  |  Sonkrag  |  Groenkrag  |  Irp  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.