Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Die ware Jakob: Só het Eskom ‘bankrot’ geword

Hoe word ’n monopolie-kragverskaffer basies bankrot en afhanklik van staatsreddingsboeie om kop bo water te hou? In ’n ontstellende nuwe verslag voor die parlement sit Eskom presies uiteen hoe sy geldsake met verloop van jare die huidige benarde situasie bereik het.

  

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Reuters
Eskom se geldprobleme word op verskeie fronte getakel. Foto: Gallo Images/Reuters

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, is op die oorlogspad om te verseker dat die kragreus in ’n nuwe era van deursigtigheid aanspreeklik gehou word.

Hy en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Woensdag soos nog min tevore aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings oor die vier grootste aspekte van Eskom se beleërde finansies verslag gedoen.

Eskom se skuld van R484 miljard is amper 10% van Suid-Afrika se nominale bruto binnelandse produk (BBP). Dit kos hom jaarliks R32 miljard aan rente en sy terugbetalings is daarbenewens tans gemiddeld R30 miljard per jaar.

Dit is vir die kragreus onmoontlik om uit sy inkomste meer as R60 miljard per jaar te bestee net om sy skuld te delg.

Dus, sê Calib Cassim, die finansiële hoof, het Eskom heeltemal afhanklik geword het van staatsondersteuning om net sy rente op die skuld – en nie eens die kapitaalbedrae nie – te kan betaal.

In die 2019-’20-boekjaar het Eskom R49 miljard van die staat ontvang. In die boekjaar wat einde Maart vanjaar eindig, sal hy nog R56 miljard – sowat 3% van die staat se totale inkomste – ontvang het.

De Ruyter het gesê in die vorige boekjaar was Eskom vir die eerste keer in jare eintlik winsgewend voordat hy belasting en rente moes betaal. Sy inkomste voor belasting, rente, waardevermindering en afskrywings (ebitda) was dus eintlik goed.

Dit is net die skuldlas wat hom nou kniehalter.

Maar hoe het Eskom by R484 miljard se skuld uitgekom? Daar is vier hooffaktore.

1. Steenkool

Eskom se voorkeur is om steenkool regstreeks van ’n nabygeleë myn te koop.

Dié soort kontrakte noem hy “koste-plus”-kontrakte omdat hy die koste van die myn se bedrywighede en ’n klein wins dek in die bedrag wat hy aan die private myne betaal.

Dit is die betroubaarste manier vir Eskom se kragstasies om steenkool te bekom, en dikwels ook die goedkoopste.

Maar dié soort kontrakte het sedert 2006 agteruitgeboer.

Snehal Nagar, waarnemende hoof van Eskom se afdeling vir primêre energie, het gesê toe die kragkrisis in 2006 begin het, het Eskom talle “afgetrede” steenkoolkragstasies weer ingespan.

Hierdie stasies is toe, soos ander, harder gedryf en het dus meer steenkool verbruik. Dit het ’n tekort meegebring wat deur ander duurder kontrakte aangevul moes word.

k

Terselfdertyd het Eskom se direksie in daardie stadium versuim om genoegsaam te belê in die nabygeleë myne wat kontraktueel verplig is om net aan Eskom steenkool te verskaf.

Eskom het as deel van sy ooreenkoms met koste-plus-myne ’n verpligting om te belê in die myne sodat hulle in sy behoeftes kan voorsien – sonder dat Eskom ’n belang daarin bekom. Die gebrekkige beleggings het die myne se produksie laat daal.

Dié leemte moes toe gevul word.

Eskom se enigste opsie was om na die mark te gaan en korttermynkontrakte vir steenkool aan te gaan wat hom beduidend meer as sy langtermynkontrakte gekos het. Waar hy kon, het hy langtermynkontrakte met verskaffers gesluit, maar min myne was daarvoor te vinde.

Dit het daartoe gelei dat die proporsie steenkool wat hy uit korttermynkontrakte bekom het, beduidend verhoog het.

Nagar noem dit ’n “driedubbele slag”: Die steenkool uit korttermynkontrakte was self duurder; die koste van die koste-plus-myne het basies onveranderd gebly, al het hulle laer volumes steenkool gelewer wat Eskom dus baie geld vir min steenkool gekos het; en die korttermynkontrakte se steenkool het van ver af gekom wat peperduur hoofsaaklik padvervoer vereis het.

Nagar het gesê 30% van sy steenkoolkoste is nou slegs vir vervoer.

Eskom probeer tans sy korttermynkontrakte vir steenkool van die vorige bedeling heronderhandel, maar sê die sowat sewe hoofmaatskappye wat “buitensporige winste” uit Eskom maak, wil nie toegee nie.

Hy het dus nou R15 miljard opsygesit om te herbelê in die koste-plus-myne om verskaffing van hulle ná meer as ’n dekade weer te begin opstoot.

Maar Nagar het erken dat baie verskaffers se myne ook al opgedroog het en dat die gehalte steenkool wat hulle op dieselfde plek myn, nou ná dekades (dikwels sedert die 1970’s) bitter swak is.

Korttermynkontrakte verteenwoordig nou 51% van Eskom se totale steenkoolkoste al verskaf dit minder as die helfte van Eskom se totale steenkool.

Dit het oor die jare tot miljarde rande se verliese gelei.

2. Tariewe

Eskom se grootste verlies is egter deur wat hy die onderverhaling van koste-weerspieëlende tariewe van verbruikers noem.

Cassim het verduidelik dat Eskom se tariewe oor die jare nie in pas gehou is met wat dit hom kos om krag op te wek en te versprei nie.

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het verskeie kere al geweier om hoër tariewe aan Eskom toe te ken, wat hom gedwing het om hom tot die hof te wend.

Eskom het Dinsdag daarin geslaag om kragtariewe vir die 2022-boekjaar, wat op 1 April begin, met 15% te verhoog nadat die hooggeregshof ’n skikkingsooreenkoms met Nersa ’n bevel gemaak het.

Cassim het gesê dit sal ver gaan om die tekorte van die vorige boekjare aan te vul, maar Eskom gaan nóg veg vir verdere verhogings vir die 2023-boekjaar wat ander vorige jare se aansuiweringsrekening (RCA) sal aanvul.

Daarna glo Eskom sal sy tariewe die koste weerspieël en daarna behoort dit net met die inflasiekoers te styg.

k

Cassim het daarop gewys dat Eskom sedert 2006 sowat R370 miljard weens Nersa se besluite verloor het.

Cassim het verduidelik dat Eskom se besluite om geld te leen sedert 2006 geneem is op grond van die aanname dat sy tariewe in pas met sy insetkoste sou styg.

Dit het nie gebeur nie.

Hy het dus dekades lank krag teen ’n verlies krag verskaf, wat hom van sowel honderde miljarde rande aan regmatige inkomste ontneem het, asook die vermoë om skuld te diens wat hy moes aangaan om nog kragstasies te bou.

3. Medupi en Kusile

Die foute en probleme van Eskom se beleërde megaprojekte, die Medupi- en Kusile-steenkoolkragstasie, het daartoe gelei dat die nutsmaatskappy R143,2 miljard meer op die twee kragstasies moes spandeer as wat aanvanklik beraam is.

Ontwerpfoute het daartoe gelei dat Eskom nou boonop R300 miljoen sal moet spandeer op elk van die ses eenhede van Medupi om te verseker dat hulle wel krag kan lewer teen die vermoë waarvoor hulle ontwerp is.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof. Foto: Deon Raath

Die twee kragstasieprojekte is in 2007 begin en was veronderstel om in 2015 klaar te wees.

Bheki Nxumalo, hoof van Eskom se kapitaalprojekte, het gesê die totale koste van Medupi sal ná voltooiing later vanjaar nou R145 miljard beloop.

Kusile, wat eers in 2024 klaar gaan wees, maar sonder die ontwerpfoute van Medupi, sal R161,4 miljard gekos het.

Eskom het reeds R120,64 miljard op Medupi en R140,62 miljard op Kusile spandeer.

Volgens Nxumalo het Eskom egter nou daarin geslaag om kontrakteurs, wat hy verantwoordelik hou vir die foute by Medupi, te oortuig om die helfte van die koste van opgraderings en veranderinge by Medupi te dra.

Eskom sal in die toekoms die ander helfte van die oorspronklike ontwerpers en kontrakteurs probeer verhaal.

De Ruyter het egter vroeër vandeesweek gebieg dat Eskom ook self verantwoordelik vir die swak ontwerp van die twee kragstasies is.

Die direksie het in 2007 die ontwerpe goedgekeur toe hulle die projekte probeer afjaag het, wat onder meer daartoe gelei het dat die kragstasies se aanvanklike ontwerp nie vir die Suid-Afrikaanse konteks gepas was nie.

Een van die groot probleme is dat Medupi se steenkoolvervoerband van ’n nabygeleë myn nie bedek is nie, wat veroorsaak dat die steenkool nat word wanneer dit reën – iets wat Eskom self in die ontwerpproses moes voorsien.

Gordhan het beklemtoon dat die huidige direksie van Eskom bekwaam is, maar in die probleme van die vorige bedeling vasgevang is.

“Staatsondernemings soos Eskom is steeds in die herstelfase,” het hy gesê.

“Hierdie (en ander) is die nalatenskap van besluite wat jare gelede deur ander direksies geneem is.”

4. Munisipale skuld

De Ruyter het bevestig dat munisipaliteite tans sowat R37 miljard aan Eskom verskuldig is.

Geld word bloot net nie betaal wanneer munisipaliteite krag oorverkoop aan verbruikers nie, en onlangse hofbevele wat Eskom verbied om doodeenvoudig dié munisipaliteite se krag af te sit bind sy hande.

Die probleem kom al jare aan, met munisipaliteite en verbruikers soos dié in Soweto wat hulle nie steur aan hul verpligting om vir krag te betaal nie. Die geld beland bloot in die munisipaliteite se rekeninge en kom nooit by Eskom uit nie.

Volgens Eskom het hy talle pogings aangewend, insluitend beslagleggings op die roerende bates van wanbetalende munisipaliteite, om hulle te dwing om te betaal. Maar dit het miljoene rande aan regskoste gekos en het baie lank geneem.

Nou, reken De Ruyter, het Eskom ’n nuwe benadering wat klaar vrugte afwerp.

k

In Maluti-a-Phofung-munisipaliteit, waaronder Harrismith in die Vrystaat val, het Eskom nou “aktiewe vennootskappe” aangegaan om te verseker dat dié wanbetalende munisipaliteit nie nog skuld aangaan nie.

Die beginsel is eenvoudig – Eskom neem die munisipaliteit se verantwoordelikhede oor deur krag teen ’n wins namens die munisipaliteit aan verbruikers te verkoop, en ontvang regstreeks die inkomste en betaal die wins wat aan die munisipaliteit verskuldig is regstreeks oor.

Eskom gebruik sy eie bankrekeninge en bestuur dan die hele proses namens die munisipaliteit.

De Ruyter het gesê dit werk baie goed en verseker tans dat die lopende rekening van die munisipaliteit nie nog skuld opbou nie, terwyl Eskom met die plaaslike regering saamwerk om agterstallige skuld op ander maniere in te vorder.

Dié model gaan nou op groot skaal landwyd toegepas word om te verseker dat munisipaliteite ten minste nie nóg skuld opbou nie, terwyl die kragreus daaraan werk om agterstallige skuld op ander maniere in te vorder.

Ander redes

Eskom het ook honderde miljoene rande se onreëlmatige en verkwistende besteding aangemeld in sy vorige boekjaar as deel van ’n patroon wat nou al oor meer as ’n dekade strek.

Gordhan het egter gesê dat die oudits van Eskom deesdae meer noukeurig is vanweë die nutsmaatskappy se toenemende deursigtigheid en verskaffing van inligting.

Die probleem is dat die ouditeure nou vir die eerste keer vorige jare se verkwistende besteding in Eskom se boeke opmerk wat nooit voorheen aangemeld is nie.

Dit word nou aangemeld in nuwe resultate, wat dit laat lyk asof die huidige bedeling die foute gemaak het.

Volgens Gordhan is dit nie die geval nie.

Hy het die ouditeur-generaal en private ouditfirmas wat betrokke is, nou versoek om ouer wanbesteding te verwyder uit die huidige wanbesteding in Eskom se resultate sodat dit duidelik kan wees wanneer die vrugtelose en verkwistende besteding, en onder wie se leierskap, dit eintlik gebeur het.

Eskom is ook besig om sy oortollige werkmag te verklein.

Sy werknemers het sedert 2018 met 4 000 verminder as gevolg van vrywillige en natuurlike uittredes, wat hy net nie weer aangevul het nie.

’n Groot deel van die verkleining is ook te danke aan Eskom se vrygewige vrywillige skeidingspakkette wat hy begin aanbied het.

De Ruyter het gesê hulle gaan teen 2024 die werkmag met nog 6 000 verklein om sodoende die enorme salarisrekening van die maatskappy onder beheer te bring.

Eskom sal dan net sowat 38 000 werknemers hê, wat volgens De Ruyter gegrond op oudits van sy werkmag die regte hoeveelheid is.

Eskom is vol vertroue dat deur die bogenoemde probleme op te los, soos wat hy tans doen, sal hy binnekort finansieel onafhanklik wees van die regering en sodoende ’n nuwe era vir die nutsmaatskappy, asook vir die land inlui.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.