Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Diesel-diewe 'ekonomiese sabotasie,' sê Transnet
Die jongste brandstofdiefstal uit Transnet se pypleiding was Maandag naby Cornelia in die Vrystaat. Wikipedia beskryf Cornelia as ’n “spookdorp”.

Dit is ekonomiese sabotasie en kan tot ernstige brandstoftekorte lei, waarsku Transnet Pipelines oor die gedurige diefstal van brandstof uit sy pypleiding tussen Durban en Gauteng.

Die pypleiding is skaars op 4 Junie weer in bedryf gestel ná herstelwerk in reaksie op skade wat diewe aangerig het, toe die pypleiding Sondag gesluit moes word omdat daar nie genoeg brandstof van die kus af gekom het om vervoer te word nie, het Sibongiseni Khathi, waarnemende uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, Woensdag laat weet.

Die afgelope Maandag is daar weer by die pypleiding “ingebreek” – dié keer naby Cornelia in die Vrystaat.

Die spanne wat herstelwerk doen, is tans daar om die pypleiding so gou moontlik weer in bedryf te stel, het Khathi in ’n verklaring gesê.

Die vorige voorval was op 31 Mei by Balfour tussen Villiers en Heidelberg.

Khathi verduidelik die sluit van die pypleiding, tesame met die binnelandse raffinaderye wat volgens hom nie tans diesel produseer nie en die raffinaderye wat nog net onlangs weer begin produseer het, het tot die huidige dieseltekorte in die binneland gelei.

Daar was nie genoeg binnelandse voorraad om aan die skielike groeiende vraag te voldoen in die tyd wat die pypleiding gesluit was nie.

Die plan was dat die pypleiding weer Woensdag in bedryf sou wees, maar die voorval by Cornelia het dié plan ontwrig.

Die koste van die diefstal is geweldig, sê Khathi. Dit sluit die verlore brandstof in, die herstel van die skade wat aan Transnet se toerusting aangerig is, asook die omgewingskade wat opgeruim moet word waar brandstof in die grond uitlek weens die diefstal.

Boere moet begin mielies oes

Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handelsdienste by die landbou-organisasie Agri SA, sê die tekorte kom op ’n slegte tyd vir boere in die somergraangebied wat volgende week witmielies moet begin oes.

Hy verneem die ergste klagtes oor dieseltekorte kom uit Noordwes, die Noord-Kaap en die Vrystaat.

Hy hoor wel by die brandstofbedryf dat dieselvoorsiening binne die volgende sewe tot 14 dae kan normaliseer.

Die sekondêre landboubedryf ly ook, want hulle moet produkte van die meulens per pad na afsetpunte vervoer, waarsku Wait.

Transnet Pipelines bedryf ’n netwerk van 3 800 km se hoëdruk-gas- en -brandstofpypleidings wat van Durban na Gauteng deur vyf verskillende provinsies loop. Transnet sê niemand is nog weens die jongste voorvalle in hegtenis geneem nie, maar danksy samewerking met die polisie is daar al voorheen diewe vasgetrek en is beslag gelê op hul toerusting soos voertuie en brandstoftenkwaens.

Binnelandse raffinaderye

Die twee binnelandse raffinaderye is die Natref-olieraffinadery by Sasolburg, wat saam deur Sasol en Total bedryf word, en Sasol se steenkool-tot-brandstofaanleg by Secunda.

Sasol het Woensdag laat weet Natref is in die proses om weer in bedryf te kom, maar ’n woordvoerder het genoem dit duur tot twee weke vir ’n raffinadery om ten volle in bedryf te kom nadat dit gesluit is soos wat al die eenhede moet opwarm tot die regte temperatuur en druk.

Volgens ’n bron in die bedryf lewer Natref veral vliegtuigbrandstof. Net noodsaaklike vragvlugte en repatriasievlugte is tot onlangs weens die Covid-19-inperking toegelaat, so daar was nouliks ’n vraag na vliegtuigbrandstof.

Natref is op 9 April gesluit, nadat Engen en Altron Energy vroeër hul raffinaderye in onderskeidelik Durban en Kaapstad gesluit het.

Engen het wel bevestig sy Enref-raffinadery in Durban is weer in volle bedryf, en volgens die Suid-Afrikaanse Petroleumbedryfvereniging is Sapref in Durban ook weer aan die gang.

’n Bron in die bedryf sê baie brandstofhandelaars stuur nou tenkvragmotors na Durban om brandstof vir die binneland te gaan haal weens die pypleiding wat gesluit is en die binnelandse raffinaderye wat nog nie ten volle op dreef is nie. Maar dit is duur en nie volhoubaar nie.

Kyk uit vir verdagtes

Khathi het gevra mense wat naby die Transnet Pipelines-pypleiding woon, moet die groep se tolvrye nommer by 0800 203 843 skakel as hulle veral snags enige verdagte mense of voertuie soos bakkies en tenkvragmotors in die nabyheid van die pypleiding se klepkamers of merkers sien.

Meer oor:  Transnet  |  Brandstof  |  Diesel  |  Energie  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.