Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dieseltekort: Rantsoene ingestel - voor prys styg

Die probleme met die voorsiening van diesel in die binneland raak al hoe erger, en die landbouorganisasie Agri SA vra die regering om dringend ondersoek in te stel.

Brandstoftenkwaens van Quest Petroleum. Dié onderneming se Gautengse tak sê daar is steeds dieseltekorte in die binneland.

Diesel moet nou met vragmotors van die kus vervoer word, wat koste verhoog, en boere wat tans mielies, sitrus en ander gewasse oes word ernstig benaddel, het Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, gewaarsku.

Kevin Mileham, DA-parlementslid en DA-woordvoerder oor energie, sê hy het 'n dringende nasionale debat oor die krisis aangevra nadat die departement van minerale hulpbronne en energie die dieseltekorte as 'n korttermyn logistieke probleem afgemaak het eerder as 'n ernstige krisis. 

Oliemaatskappye soos Engen, Shell, BP en Total rantsoeneer die diesel wat hulle aan groothandelverspreiders gee en sommige vulstasies het al opgedroog, sê een dieseldepot in Gauteng wat diesel aan vragmotors verkoop.

Gerugte neem toe dat brandstofmaatskappye doelbewus voorraad terughou in afwagting op die groot prysverhoging op 1 Julie, maar die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfvereniging (Sapia) ignoreer tot dusver navrae hieroor. Volgens Van der Rheede neem Agri SA deel aan weeklikse vergaderings met Sapia, maar dit blyk die situasie op die grond verskil van die prentjie wat Sapia skets dat daar genoeg diesel beskikbaar is. Hy waarsku daar is nou ’n sterk vraag na witmieliemeel, en ’n volgehoue dieseltekort kan voedselsekerheid negatief raak.

Die Gautengse dieseldepot meen die dieseltekorte sal vererger in aanloop tot die prysverhoging. “Ons kan dus hierdie komende naweek en volgende week selfs sonder enige diesel wees,” lui die boodskap van die depot wat aan Netwerk24 aangestuur is.

Die huidige gemiddelde onderverhaling op diesel is R1,67 per liter en dit kan teen volgende week tot meer as R1,80 styg omdat Woensdag se onderverhaling vir die dag al by R2 per liter getrek het. Die departement van minerale bronne en energie bereken die maandelikse prysaanpassings op grond van die vorige maand se oor- of onderverhalings op die dieselpryse.

Ons doen tans alles wat ons kan om diesel te vind, maar soos ander groothandelaars vind ons dit baie moeilik om enige diesel te bekom, ongeag die prys.

Die Gautengse dieseldepot sê Sasol lewer nie tans diesel nie, want sy opgaartenks is vol vliegtuigbrandstof. “Ons doen tans alles wat ons kan om diesel te vind, maar soos ander groothandelaars vind ons dit baie moeilik om enige diesel te bekom, ongeag die prys.”

Ricky Klitzke van Quest Petroleum in Gauteng sê hulle sukkel ook om al hul kliënte te help en kry daagliks oproepe van ander handelaars wat vir dieselvoorraad vra.

Klitzke sê die laaste opdatering wat hy van die brandstofbedryf gekry het, was op 20 Mei, waarin gewaarsku is oor verwagte dieseltekorte weens die raffinaderye wat nog nie weer in volle produksie is ná die Covid-19-inperking nie.

Mack van der Merwe, besturende direkteur van Mack’s Petroleum, ’n groot dieselverspreider vir die landboubedryf in Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap, sê hulle kry beperkte voorraad en verdeel dit onder hul depots. Volgens Van der Merwe is Transnet se pypleiding nog nie ten volle in bedryf nie, wat bydra tot die probleem.

Cobus van Zyl van die landbou-organisasie Agri Noordwes sê dit lyk tans of dit afhang van watter verskaffer ’n boer gebruik maak. Sommige boere kry geredelik dieselvoorraad, maar ander sukkel.

Veral delwers wat spoeldiamante in Noordwes ontgin en landboukoöperasies sukkel om voorraad te kry.

Dis nou tyd vir mielies stroop, en as boere nie hul oeste kan afkry nie, gaan dit hul kontantvloei raak, het Van Zyl gewaarsku.

Dieseldiewe gevang

Transnet en die Valke het intussen ’n deurbraak gemaak met die inhegtenisneming van brandstofdiewe.

’n Persoon is vroeër die week in hegtenis geneem in verband met die brandstofdiefstal by die Transnet-pypleiding tussen Kendal en Witbank in Mpumalanga, het Ayanda Shezi, Transnet-woordvoerder, Donderdag gesê.

Dit was as deel van ’n gesamentlike veiligheidsoperasie deur Transnet, die Valke, Nasionale Intelligensie en die polisie.

Volgens Shezi het die Valke die afgelope paar maande ’n hele paar mense in hegtenis geneem weens die diefstal van brandstof uit pypleidings en weens peutery aan noodsaaklike infrastruktuur. Die meeste van die verdagtes het al in die hof verskyn, en hul sake is uitgestel terwyl ondersoeke voortduur.

Transnet moes die afgelope maand sy brandstofpypleiding tussen Durban en Gauteng ’n paar keer sluit weens skade waar diewe brandstof gesteel het. Dit het bygedra tot die huidige brandstoftekorte in die binneland.

Die pypleiding is tans weer in bedryf, het Transnet Pipelines bevestig, maar volgens Sapia duur dit sewe tot 14 dae voordat die pypleiding ten volle sy produk aan die ander punt in Gauteng lewer wanneer dit afgeskakel was. Daar was sedert April al meer as 30 gevalle van diefstal uit die pypleiding, met meer as 2 miljoen liter brandstof wat gesteel is, volgens Agri SA se inligting.

Meer oor:  Sapia  |  Brandstofpryse  |  Mielie-Oes  |  Dieseltekort  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.