Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dís die ware koste van groenkrag, sê kenner
Die Gouda-windplaas in die Swartland.

Oningeligte kommentators meen die koste van Eskom se huidige steenkoolkragstasies moet die maatstaf wees waarteen hernubare energie se koste gemeet word.

Só sê Paul Semple, portefeuljebestuurder by Futuregrowth Asset Managers.

Maar dié kragstasies is in die 1960’s en 1970’s gebou en die datums waarop hulle hul beoogde bedryfsleeftyd bereik, kom vinnig nader. Semple meen dis ’n misleidende narratief om hul koste as maatstaf vir nuwe hernubare energie te gebruik.

Dit kom te midde van die nuwe geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat die regering verlede week gepubliseer het. Hiervolgens sal byna 25% van Suid-Afrika se elektrisiteit teen 2030 van son- en windkrag kom.

Semple verduidelik ’n veel wyer perspektief is nodig, en dis meer toepaslik om nuwe kragstasies se boukoste met mekaar te vergelyk. Die brandstofkoste, herstelwerk en instandhouding moet ook ingereken word om ’n totale koste te vergelyk. Dit is ook kritiek om te weet wie al dié koste dra.

Semple wys op die volgende paar verskille tussen steenkoolkrag en groen krag.

groenkrag

1. Boukoste vs. begroting

Eskom se Medupi- en Kusile-kragstasies is nog in aanbou en hul koste tot dusver van meer as R400 miljard, buiten rente op skuld, is meer as dubbel die oorspronklike ramings.

Die meeste van die 92 groenkragprojekte van onafhanklike kragprodusente in die regering se groenkragprogram is egter betyds en binne begroting gebou, met die risiko wat heeltemal deur die onafhanklike produsente gedra is, en nie deur Eskom nie.

Op sommige dae word byna net soveel elektrisiteit deur groen krag as deur Medupi en Kusile saam weens hul gereelde bedryfsfoute opgewek. Boonop is die boukoste minder as 50% van Medupi en Kusile s’n, sonder enige korrupsie of diefstal.

2. Verantwoordelikheid vir instandhouding en herstelwerk

Die meeste risiko vir die ontwerp en konstruksie van Medupi en Kusile word deur Eskom gedra. Die toerusting wat al daar gebreek het, plaas reeds bykomende druk op Eskom se finansies.

By groen krag is die instandhouding en herstelwerk oor die kontrakleeftyd van 20 jaar die onafhanklike produsente se verantwoordelikheid.

3. Koste van energie wat gelewer word

Medupi en Kusile behoort aan Eskom, so die koste van elke eenheid van elektrisiteit wat daar opgewek word, sluit die brandstof in. Saam met oorbesteding aan bouwerk het die skerp styging in steenkoolkontrakte dit die duurste steenkoolkragstasies ter wêreld gemaak. Dit is nog voordat die koste van hul kweekhuisgasse ingereken word.

Daarenteen word die onafhanklike groenkragprodusente net betaal vir die elektrisiteit wat gelewer word, teen ’n inflasiegekoppelde tarief.

Semple wys op die feit dat die groenkragprogram se pryse in elke opeenvolgende bodronde gedaal het. ’n Dekade gelede was groen krag nie welbekend in Suid-Afrika nie en was die koste van sonpanele en windturbines veel hoër as tans. Die eerste tariefaanbiedings van die vroeë beleggers het dus dié risiko weerspieël.

Sedert die eerste bodronde in 2012 het die geweegde gemiddelde tarief al met byna 66% gedaal. Ondanks die hoë koste van die eerste projekte is dit steeds goedkoper as krag van Medupi en Kusile as die oorbesteding aan konstruksie, vertragings, omgewingskoste en skuldkoste ingereken word.

Wat volgens Semple dikwels misgekyk word, is dat Eskom die groenkragtariewe volledig kan deurgee na verbruikers, en die koste van groen krag is dus neutraal vir sy eie bedrywighede.

Hy wys ook op die positiewe impak van die groenkragprogram op beleggersvertroue in Suid-Afrika sedert 2012. Meer as R200 miljard se vaste investering is gelok. Die insinking in BBP-groei in 2016 het saamgeval met die vertraging in die regering se groenkragprogram.

Hernubare energie is die goedkoopste vorm van nuwe kragopwekking wat tans beskikbaar is, sê Semple. Dit kan vinniger gebou word en behoort volgens hom die voorkeur-oplossing vir Suid-Afrika se energievereistes in die toekoms te wees.

Meer oor:  Eskom  |  Steenkool  |  Kragopwekking  |  Groenkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.