Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nat steenkool 'is 'n nagmerrie'
Steenkoolhope buite die Grootvlei-kragstasie. Foto: Bloomberg

“Dit is ’n absolute nagmerrie om met nat steenkool te werk. Dit word soos sement,” sê prof. Rosemary Falcon, afgetrede steenkoolnavorser van Wits.

Die eerste probleem in Suid-Afrika is dat die steenkoolmyne meestal oopgroefmyne is, so uiters nat weer soos tans skep reeds by die myn probleme vir die mense wat plofladings moet lê en die steenkool moet uitgrawe.

Daarna, wanneer die steenkool opgelaai en uitgestort word in hope, klou die fyner steenkooldeeltjies soos gom aanmekaar vas en word soos sement. “Jy kan dit nie beweeg nie!”

Om dit in vragmotors, met vervoerbande of in die kragstasie se meule te laai is eweneens ’n probleem.

Al is die steenkool effens droër wanneer dit deur die meule fyner gemaal is, is daar dan steeds vogtigheid op die gemaalde steenkool en is die verbrandingswaarde laer omdat energie verbruik word om eers van die vog ontslae te raak voordat dit verbrand kan word om stoom op te wek. Een ton nat steenkool lewer op die ou einde dus minder kilowatt-uur elektrisiteit op as een ton droë steenkool, verduidelik Falcon.

Op die vraag waarom Eskom nou nat steenkool as verskoning gebruik terwyl dit nog altyd dié tyd van die jaar baie reën in Mpumalanga, meen Falcon die gewone donderbuie hou gewoonlik op ná ’n ruk en dan kry die steenkool kans om uit te droog, maar die huidige volgehoue reën beteken daar is nie ’n kans vir die steenkool om uit te droog nie. Die grondwatervlakke styg ook en water kry nie kans om weg te syfer nie.

Falcon meen wel Eskom behoort beter voorsorg getref het. Sy steenkoolvoorraad by kragstasies behoort maklik en goedkoop met plastiekseile bedek te word. Maar sy vermoed van sy noodvoorraad by kragstasies word te gou uitgeput. Eskom kon ook al lankal afdakke oor sy vervoerbande na die meulens gebou het, sê hy.

Eskom verduidelik op sy eie webblad nat steenkool veroorsaak blokkasies in geute wanneer steenkool van een vervoerband na ’n ander geskuif word.

Nóg ’n probleem is dat die steenkool teen die mure van ’n steenkoolhok vassit en nie behoorlik deur die proses vloei nie.

“Nat verpoeierde steenkool kan lei tot verstopping van die meulaanleg en gepaardgaande pype,” lui Eskom se inligtingsblad oor dié probleem.

Eskom verduidelik hoewel uitdroging van steenkool deel vorm van die kragopwekkingsproses, is dit nie baie doeltreffend as die steenkool baie nat is nie.

LEES OOK: Kragstasies oorstroom, fase 4-beurtkrag ingestel

“As die totale voginhoud te hoog word, is die hoeveelheid hitte-energie wat benodig word om die vog te verdamp groter as wat die ketelontwerp toelaat. Dit beperk die hoeveelheid steenkool wat gedroog kan word vir die maalproses en die hoeveelheid fyngemaakte steenkool wat in die ketel gestook kan word. Dit beperk weer die hoeveelheid elektrisiteit wat opgewek kan word.”

Chris Yelland, uitgewer van EE Publishers en energiekommentator, het sy frustrasie op Twitter uitgespreek en gesê hy kan nie glo Eskom gebruik al weer die swak verskoning van nat steenkool as ’n rede hoekom minder krag opgewek word nie.

“Dit reën elke Desember in Mpumalanga, wat nat steenkool veroorsaak. Dit is nié ’n probleem nie, buiten as die steenkoolvoorraad byna op is en die fyngemaalde steenkool wat onder op die hoop lê in ’n pappery verander. Die regte kwaliteit steenkool wat nat is, is nie ’n probleem nie.”

Hy wys daar is baie ander lande wat op steenkool staatmaak as hoofkragbron, maar waar die klimaat beduidend natter is as die Suid-Afrikaanse hoëveld.

“Die probleem is nié nat steenkool per se nie, maar ander probleme wat meer in lyn is met swak bestuur, swak instandhouding en gebrekkige aanleg en toerusting,” twiet Yelland.


Meer oor:  Eskom  |  Steenkool  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.