Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dís hoekom Sasol steeds na regte-uitgifte kyk

’n Balansstaat wat aan Sasol ’n hupstoot sal gee, is ’n goeie rede om ’n regte-uitgifte te oorweeg.

Paul Victor, finansiële hoof van Sasol. Foto: Elvira Wood

Paul Victor, finansiële hoof van Sasol, het Maandag in ’n onderhoud aan Netwerk24 gesê wanneer ’n regte-uitgifte oorweeg word om ’n maatskappy se toekoms te help verseker, is aandeelhouers gewoonlik ten gunste daarvan.

Sasol het Maandag met die bekendmaking van sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie gesê hy oorweeg steeds ’n regte-uitgifte van tot $2 miljard in die tweede helfte van die huidige boekjaar. Dit beloop sowat ’n derde van die maatskappy se huidige markwaarde.

Hoewel Sasol ’n verlies van R91,3 miljard in die afgelope boekjaar gely het, sê Victor hulle is oortuig hulle is oor die ergste.

LEES OOK: Sasol ly verlies van R91,3 mjd.

“In April, toe oliepryse tot die laagste vlakke in 21 jaar geval het, daar uitdagings by die Lake Charles-aanleg was en ons aandeelprys getuimel het, het die toekoms baie donker gelyk,” erken Victor.

Hy sê aandeelhouers sou waarskynlik baie anders gevoel het oor die voorstel van ’n regte-uitgifte as dit tóé gedoen is.

“Nou lyk ons aandeelprys beter, die Brent-ruolieprys het tot sowat $45 per vat herstel, en ons aanleg in die VSA is op dreef. Ons kon baie kostebesparings deurvoer en kon van ons skuld delg met bateverkope. Ons het die beloftes nagekom wat ons in Maart aan aandeelhouers gemaak het.”

Victor sê die maatskappy glo hy sal ook in die komende boekjaar beloftes oor skuldvermindering kan nakom.

Ons aandeelprys wissel dikwels met tot 5% op ’n daaglikse basis. Ons is dus nie bekommerd dat daar nie steun vir ons plan gaan wees nie.
Paul Victor van Sasol

“Ons is in ’n gevorderde stadium met die verkoop van ’n belang in ons Lake Charles-aanleg in die VSA. Ons hoop om binnekort meer besonderhede hieroor bekend te maak.”

Dié aanleg, wat Sasol $12,8 miljard gekos het, is in die Amerikaanse deelstaat Louisiana. Dit vervaardig verskeie spesialiteitschemikalieë wat wêreldwyd verkoop word.

Sasol het vroeër vanjaar egter aangekondig dat hy beplan om ’n belang van tot 51% daarin te verkoop as deel van sy planne om sy skuld te delg.

“Ons het ook planne oor hoe om Sasol volhoubaar te hou, selfs in ’n omgewing waar olie teen gemiddeld $45 per vat verhandel. Ons kan nie sien dat dié prys binnekort gaan styg nie.”

Victor sê die beplande regte-uitgifte is dus om Sasol ’n hupstoot te gee vir die toekoms, en nie om hom te help om kop bo water te hou nie.

“Ons sal in Februarie of Maart 2021 besluit wat die omvang van die regte-uitgifte sal wees. Dit sal alles afhang van hoe ons vorder met bateverkope en wat die stand van die wêreldmarkte dan sal wees.”

Victor sê in die lig daarvan dat Sasol se aandeelprys met minder as 5% gedaal nadat sy resultate aangekondig en die voornemende regte-uitgifte bekend gemaak is, is dit duidelik dat beleggers nie gekant is teen die voorstel nie.Die aandeelprys het kortstondig met 9% gedaal, maar gou weer kop opgetel en sedertdien teen sowat 4% laer verhandel.

“Ons aandeelprys wissel dikwels met tot 5% op ’n daaglikse basis. Ons is dus nie bekommerd dat daar nie steun vir ons plan gaan wees nie,” sê hy.

Meer oor:  Sasol  |  Olieprys  |  Chemikalieë  |  Olie  |  Brent-Ruolie  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.