Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dis ’n komplot, sê geskorste hoës van Necsa

Twee geskorste direkteure van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa) betrek Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG) van Suid-Afrika, by ’n “komplot” om hul geloofwaardigheid te ondermyn.

Dr. Kelvin Kemm, geskorste voorsitter van Necsa se direksie. Foto: Felix Dlangamandla

In ’n verklaring wat namens dr. Kelvin Kemm, geskorste voorsitter van Necsa se direksie, en Phumzile Tshelane, geskorste uitvoerende hoof, uitgereik is, sê hulle dis onwaar dat Necsa tegnies bankrot is.

Makwetu het Dinsdag sy ouditmening oor Necsa en ander staatsondernemings aan die parlement se portefeuljekomitee oor energie voorgelê. Hy het onder meer bevind Necsa se laste is groter as sy bates.

Luidens Kemm en Tshelane se verklaring is dié siening “misleidend”.

“Beduidende werk oor baie maande deur die geskorste uitvoerende hoof en direksie, wat saam met die OG gewerk het om op ouditnavrae te reageer en foute reg te stel, is geïgnoreer . . . Die feit dat die werk nie deur die OB in berekening gebring is nie, wek agterdog,” sê Tshelane.

Hulle glo die negatiewe verslag is deel van ’n strategie om die direksie se geloofwaardigheid te ondermyn omdat hulle ’n “korrupte ooreenkoms” teenstaan waarin Jeff Radebe, minister van energie, Necsa se filiaal NTP Radioisotopes aan ’n Amerikaanse maatskappy wil verkoop. NTP is ’n uiters winsgewende filiaal.

Hulle beweer ’n dokument met die feite oor die transaksie is nou al maande lank in pres. Cyril Ramaphosa se hande.

Radebe het die direksie geskors nadat hulle van “insubordinasie” en “onbevoegdheid” beskuldig is.

’n Hofaansoek om hul skorsing op te hef, word nou eers op 10 Junie aangehoor.

In die vorige boekjaar was Necsa winsgewend en het dit ’n skoon oudit gekry.

Die nuwe Necsa-direksie wat Radebe aangewys het, lê Necsa se finansiële syfers op 5 Maart aan die parlement voor. Kemm en Tshelane is agterdogtig dat dit “gemanipuleer” gaan word.

Radebe voer aan dat Kemm ’n samewerkingsooreenkoms met die Russiese kernkragmaatskappy Rosatom onderteken het. Die ooreenkoms was vir samewerking oor mediese kerntegnologie tussen Necsa en Rosatom se mediese afdeling, Rusatom.

NTP is die tweede grootste vervaardiger ter wêreld van mediese isotope wat vir die behandeling van kanker gebruik word.

“Die tegnologie wat ons gebruik, is in Suid-Afrika ontwikkel en is uniek. Amerika is een van die lande waarheen ons ons produkte uitvoer. Ons verdien dollars vir Suid-Afrika met dié produkte,” het Kemm vantevore aan Netwerk24 gesê.

“Dit is dus ondenkbaar om ’n 60%-belang in die maatskappy aan die Amerikaners te verkoop en hulle dan vrye toegang tot ons kennis te gee.”

Meer oor:  Necsa  |  Kelvin Kemm  |  Jeff Radebe  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.