Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dís waarom beurtkrag skielik weer ingestel is
Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, vra op ’n mediakonferensie in Kaapstad op 14 Januarie 2019 om verskoning vir die Suid-Afrikaanse publiek. Foto: Adrian de Kock

Ná meer as twee maande wat die ligte aangebly het, het beurtkrag Sondag weer sy nare verskyning gemaak.

Boonop kan Eskom nie waarborg dat hy genoeg krag vir die komende week kan voorsien nie.

Die kragreus het Sondag ’n betreurenswaardige verklaring uitgereik en gesê fase 2-beurtkrag moet noodgedwonge ingestel word omdat hy sukkel om genoeg krag op te wek.

Onder fase 2 moet 2 000 megawatt elektrisiteit bespaar word om te keer dat die netwerk ernstige skade ly en moontlik ineenstort.

Beurtkrag is Sondag vanaf 13:00 ingestel en sou na verwagting tot 22:00 aanhou.

Luidens Eskom is beurtkrag skielik weer ingestel sodat noodsaaklike voorbereidingswerk gedoen kan word om verdere onderbrekings deur die loop van die week te probeer vermy. Dié voorbereidings is egter dalk te min, te laat.

Andrew Etzinger, senior bestuurder van opwekking, verduidelik dat twee faktore vandeesweek ’n doring in Eskom se vlees blyk te wees.

Eerstens is bykomende dieselkragopwekkers oor die laaste weke “breedvoerig gebruik” en moet dit nou dringend versien word, sê hy. Dié kragopwekkers moes Sondag “aansienlike instandhouding” ondergaan en dieselvoorraad moes ook aangevul word sodat daar genoeg opwekkingskapasiteit vir die komende week kan wees.

Tweedens word bykomende elektrisiteit Sondag benodig om waterpompe te laat loop om belangrike hidroëlektriese damme vol te maak.

Volgens Etzinger word dié pompe gewoonlik net buite spitstyd aangeskakel om water van laerliggende gebiede na damme te pomp sodat dit weer deur ’n kragopwekkende turbine kan vloei wanneer die vraag na elektrisiteit hoog is. Dié pompe is Sondag aangeskakel om te verseker dat die damme Maandag vol genoeg sal wees om krag te kan opwek.

Die kragnetwerk is ook onder druk wat waarskynlik vir die komende week gaan voortduur, sê Etzinger.

“Hoe ver ons oor die volgende 24 uur vorder, sal bepalend wees van of daar beurtkrag deur die week toegepas gaan word.”

Hoe ver ons oor die volgende 24 uur vorder, sal bepalend wees van of daar beurtkrag deur die week toegepas gaan word.
Andrew Etzinger

Vir nou word dié moontlikheid nie ontsien nie.

Beurtkrag is laas op 9 Desember ingestel en Suid-Afrikaners het nou bykans net daaraan begin gewoond word dat die ligte saans aan bly.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vroeg in Desember gesê daar word hard daaraan gewerk om die land se kragprobleme voor Kersfees op te los, maar gewaarsku dat dit tyd gaan neem vir Eskom om behoorlik op dreef te kom en agterstallige instandhouding in te haal.

Al het die ligte dwarsdeur die feestyd aangebly, het Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, kort voor Kersfees gewaarsku dat beurtkrag waarskynlik vroeg in die nuwe jaar weer toegepas gaan word.

Eskom is kniediep in die skuld en verkoop nie genoeg krag om sy bedryfskoste te dek nie. Hy is dringend op soek na geld om sy verouderde kragstasies in stand te hou en sommige te vervang.

Die nutsmaatskappy se skuld beloop sowat R419 miljard waarvan net R260 miljard deur die staat gewaarborg word. Eskom moet vir die lopende boekjaar R72 miljard iewers leen.

Hadebe het vroeër vandeesmaand gewaarsku Eskom se skuld sal oor die volgende drie jaar tot R650 miljard styg en dat hy baie naby daaraan is om in sy skuld te verdrink.

Die kragreus het onlangs twee aansoeke by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien, insluitend ’n tariefverhoging van tussen 15,4% en 17,1% versprei oor die volgende drie jaar.

Eskom het ook gevra vir die verhaling van R21,6 miljard ingevolge die verrekeningsrekening (RCA).

Nersa het verskeie openbare sittings oor die land heen gehou vir rolspelers om kommentaar te lewer oor die lewensvatbaarheid van Eskom se versoek.

Die reguleerder maak op 1 Maart sy finale besluit bekend.

Meer oor:  Eskom  |  Andrew Etzinger  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.