Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dís waarom Kempton se krag steeds af is
Die skade van die rook het selfs die kragverskaffing van ’n ander kragsentrale tydelik beïnvloed, omdat die rook die hoogspanningsarea binnegedring het. Foto: Felix Dlangamandla

Sy kon sedert Saterdag nie haar motor uit die motorhuis kry nie. Sy het gisteraand honger gaan slaap, omdat dit reeds te donker was om na ’n winkel te stap en al die vars kos wat sy vir die maand gekoop het, is nie meer eetbaar nie.

Haar kinders bly by haar ma, want hulle moet saans leer vir die eksamen. Daar is egter nie plek vir haar nie. Haar selfoon is haar flits en ook kommunikasie met die buitewêreld, want sy is snags bang so alleen in haar donker huis.

Nomsa, wat nie haar van genoem wil hê nie, is een van die talle inwoners van Kempton Park wat sedert Saterdag sonder krag sit nadat 'n ontploffing en brand Saterdag om 04:00 in die Glen Marais-substasie voorgekom het.

Norkem Park, dele van Birchleigh, Allen Grove, Nimrod Park, Witfontein en Glen Marais word geraak.

Die verwagting was dat die kragtoevoer Dinsdagaand herstel sou wees, maar intussen het nuwe probleme ingesluip.

Dit klink nou asof van die inwoners dalk Woensdagaand kan krag hê. Die res sal maar moet wag tot Donderdag – dit is nou as alles goed gaan, sê Mark Wilson, hoof van die Ekurhuleni-metroraad se energiedepartement.

Nuwe transformators word Maandag afgelewer.Foto: Felix Dlangamandla

Die ontploffing

Dit is nog onbekend wat die ontploffing veroorsaak het.

Themba Radebe, metro-woordvoerder, blameer kabeldiefstal vir die ontploffing.

Jaco Terblanche, ’n DA-raadslid in Glen Marais, het egter vroeër gesê nie kabeldiefstal soos wat beweer word nie, maar die metroraad se versuim om instandhoudingswerk te doen was die oorsaak van die ontploffing.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het gesê die metroraad het nog nie ’n klag van kabeldiefstal aanhangig gemaak nie.

Ná die ontploffing

Volgens Wilson bestaan die substasie uit 25 panele en is so groot soos drie dubbelmotorhuise.

Om 11:00 Saterdag, nadat die brandweer die brand kon blus en die rook taamlik opgeklaar het, het die skoonmaakoperasie begin, sê Wilson.

Die hele Saterdag en Sondag het hulle uitgebrande toerusting uitgeskuif en Maandag het die herstelproses in alle erns begin. Al die panele moes vervang word, sê Wilson.

“Teen Dinsdag 18:00 was ons gereed om aan te skakel, maar voordat ons dit gedoen het, het ons besluit om eers ’n isolasietoets te doen. Dit is noodsaaklik om te keer dat die substasie weer ontplof as iets nie werk nie.”

Volgens Wilson het die toets op die eerste paneel ’n elektriese vonk getoon.

“Ons het onmiddellik die vervaardiger van die panele laat kom. Ons sien toe die hele gebou is nog vol koolstofafsettings wat die vonk veroorsaak. Ons moes van voor af begin en die gebou en panele weer skoonmaak.”

Werkers werk glo dag en nag om die kragsentrale te herstel. Dié foto is Maandag geneem toe die nuwe transformators afgelewer is. Foto: Felix Dlangamandla

Nou wat nou?

Toe hy Woensdagoggend daar weg is, was vier panele reeds skoongemaak en gereed. Hy vermoed dat die helfte van die panele teen laatmiddag gereed sou wees en dat sekere gebiede se krag stelselmatig aangeskakel kan word.

Die ander helfte sal dan hopelik Donderdag gereed wees, sodat al die ander gebiede ook weer krag sal hê.

“Inwoners wie se krag herstel is, moet ons asseblief help en nie al hul elektriese toestelle gelyk aanskakel nie. Dit kan die stelsel oorlaai,” sê Wilson.

“Spanne werk dag en nag hieraan en ek het ook spanne uit Boksburg en Benoni ingetrek om te kom help.”

Wilson sê hulle kon nie ’n instaan-substasie huur nie, “want daar is geen mobiele substasie wat groot genoeg is vir dié substasie nie.”

Hy verduidelik ’n kragopwekker tuis verskaf 5 kVA se krag. ’n Mini-substasie kan 1 000 kVA verskaf.

“Ons het 30 000 kVA verloor. Selfs al huur ons vier substasies, is daar ook nie genoeg ruimte daarvoor nie.” Hy sê die Glen Marais-substasie is een van 300 in Kempton Park en omgewing.

Volgens Wilson is dit die derde voorval in sy soort in die 20 jaar dat hy al verbonde is aan die energiedepartement.

Meer oor:  Krag  |  Ontploffing  |  Kragonderbreking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.