Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dít vereis Eskom van sy nuwe hoof

Eskom het amptelik die pos vir sy nuwe uitvoerende hoof geadverteer.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, tree aan die einde van Julie uit as hoof van die kragreus. Foto: Lindile Mbontsi

Dit kom nadat Phakamani Hadebe, die kragreus se uitvoerende hoof, in Mei aangekondig het hy tree aan die einde van Julie uit weens die negatiewe invloed wat dié veeleisende pos op sy gesondheid het.

Daar wag ’n reeks uitdagings op Eskom se nuwe hoof, die 12de in net meer as ’n dekade. Eskom sit met skuld van sowat R440 miljard, te min inkomste om selfs die rente op die skuld te betaal, ’n dreigende herstrukturering wat deur vakbonde teengestaan word, en onsekerheid oor hoe die nuwe uitvoerende hoof en die beoogde herstruktureringshoof gaan saamwerk. Dit is buiten beurtkrag wat hy sedert Maart net-net kon vermy.

In die nutsmaatskappy se advertensie vir sy nuwe hoof wat Sondag in onder meer die Sunday Times gepubliseer is, sit Eskom uiteen wat hy van sy nuwe hoof verwag.

Die twee grootste verantwoordelikhede blyk te wees om die “finansiële volhoubaarheid” van die maatskappy te verseker, en om ’n kritieke rol in die opdeel van Eskom in drie dele te speel.

Kandidate moet minstens 20 jaar se ervaring hê, verkieslik ’n nagraadse sakekwalifikasie en moes al ’n groot rol in die omkeer van ’n onderneming met minstens 20 000 werknemers en ’n jaarlikse omset van meer as R30 miljard gespeel het.

Eskom vereis ook dat sy nuwe hoof oor “sterk kommersiële insig” beskik en ervaring het in korporatiewe herstrukturerings, veral gemik op balansstaat-optimalisering.

’n Foto van die advertensie vir Eskom se nuwe uitvoerende hoof soos dit Sondag in die Sunday Times verskyn het.

Chris Yelland, energiekenner en uitgewer van EE Publishers, het toe Hadebe sy bedanking aangekondig het, met Netwerk24 oor drie moontlike opvolgers vir die toppos gepraat. Dié kandidate was:

  • Nelisiwe Magubane: direkteur van Eskom, voormalige direkteur-generaal van die departement van energie, en ’n elektriese ingenieur;
  • Dr. Rod Crompton: direkteur van Eskom, professor verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool, en voorheen 11 jaar lank direkteur van die Nasionale Energiereguleerder; en
  • Sifiso Dabengwa: direkteur van Eskom, voormalige uitvoerende hoof van MTN, en ’n elektriese ingenieur.

In terme van Eskom se advertensie wys ’n ontleding van die moontlike opvolgers se CV’s die volgende:

  • Magubane: Sy het die vereiste jare se ervaring, ’n graad in ingenieurswese, asook die gesogte nagraadse sakekwalifikasie in die vorm van ’n MBA. Magubane het die meeste van haar ervaring in die openbare sektor opgedoen en nie in ’n korporatiewe omgewing nie. Al het sy grootskaalse ontwikkelings behartig in onder meer haar pos as uitvoerende direkteur van die departement van mineralebronne, het sy nie baie ervaring in kommersiële herstrukturering of regrukplanne nie.
  • Crompton: Hy het bykans twee keer die vereiste minimum werkervaring en amper alles daarvan in die energiesektor. Hy het wel ook die grootste deel van sy loopbaan in die openbare sektor gewerk, en was nie baie betrokke in groot private ondernemings nie.
  • Dabengwa: Hy is ’n ingenieur met ’n MBA-graad en meer as 20 jaar se werkervaring. Voordat hy as uitvoerende hoof van MTN (2011 tot 2015) gedien het, was hy by Eskom werksaam. Hy was ook by MTN werksaam ten tyde van die maatskappy se regruk- en uitbreidingsplan. In die 90’s was hy in die direksie van Eskom se bestuur en hy het die nasionale elektrifiseringsprojek behartig waardeur die persentasie huishoudings met toegang tot krag van 35% tot 84% gestyg het. Hy blyk aan al Eskom se vereistes te voldoen.

Die aansoeke vir die pos sluit op 2 Augustus en Eskom het homself tot die einde van Augustus gegee om die aansoeke te oorweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.