Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dorpe mag dalk gou sonder lisensie krag opwek

Munisipaliteite en provinsies sal beslis hul eie kragopwekking- en verspreidingsnetwerke kan oprig, sê G­wede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Gwede Mantashe
Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie. Foto: Felix Dlangamandla

Hy wil selfs wetgewing verander sodat die meeste munisipale elektrisiteitsprojekte sonder lisensies opgerig kan word en in sekere omstandighede bloot as “distribusie-opwekking” geregistreer word.

Distribusie-opwekking is volgens die Elektrisiteitsreguleringswet kragopwekkers wat vir eie gebruik opgerig word en nie aan die nasionale kragnetwerk gekoppel word nie.

Geen lisensies is daarvoor nodig nie.

Mantashe oorweeg dit nou om dié bepaling uit te brei.

“Wanneer ons eers hieroor saamgestem het, sal die energietekort wat ontstaan het weens agteruitgang by van Eskom se aanlegte, tot ’n einde kom,” het Mantashe Donderdag in die parlement gesê tydens ’n werksessie met lede van die nasionale raad van provinsies en lede van provinsiale wetgewers.

Hy het die werksessie aangevoer nadat die Wes-Kaapse wetgewer se komitee vir finansies en ekonomiese ontwikkeling hom gevra het om hulle toe te spreek oor die implikasies van die nuwe geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat vroeg in November deur die kabinet goedgekeur is.

“Die proklamasie van die 2019-plan en die insluiting van distribusie-opwekking van 500 megawatt per jaar daarin, beteken dat munisipaliteite hul eie projekte sal kan ontwikkel. Dit is egter nie dat julle nou sommer hier kan uitstap en jul eie projekte kan begin aanpak nie.

“Sulke projekte sal aan die regsraamwerk moet voldoen wanneer ons die vasstelling daarvoor in die Staatskoerant gepubliseer het en Nersa daartoe ingestem het,” het Mantashe gesê.

Adv. Deirdré Baartman, voorsitter van die Wes-Kaapse wetgewerskomitee vir finansies en ekonomiese ontwikkeling, wou by hom weet watter maatstawwe hy sal gebruik om te beslis oor ’n aansoek vir ’n private kragopwekker deur ’n munisipaliteit.

Mantashe wou nie daarop antwoord nie: “Ek sal liewer wil hê dat ons met mekaar praat hieroor – nie mekaar konsulteer nie, want dis ’n wetlike term – totdat ons heeltemal saamstem oor hoe dit gedoen gaan word,” het hy geantwoord.

Die werksessie is gehou ná versoeke deur die Wes-Kaapse provinsiale regering dat Mantashe die implikasies van die IRP aan hulle moet kom verduidelik, asook die maatstawwe waarvolgens hy ’n aansoek sal oorweeg om ’n munisipaliteit of provinsie toe te laat om ’n private elektrisiteitsopwekker te kontrakteer.

Mantashe, as minister van energie, is die verweerder in ’n hofgeding wat die Kaapstadse metro aanhangig gemaak het wat hom sal verplig om aan die metro toestemming te gee om krag by private kragopwekkers te koop en in die metro te herverkoop.

Dit kan die stad op die duur onafhanklik van Eskom-krag maak.

Baartman het ná die vergadering gesê die Wes-Kaap wil hernubare projekte oprig, maar wil ook hê dat die dieselkragstasies Ankerlig by Mosselbaai en Gourikwa by Saldanha omgebou word tot aardgas-kragstasies, wat goedkoper is om te bedryf as diesel.

Mantashe wil Coega in die Oos-Kaap as ’n spilpunt vir aardgas-invoer inrig, asook vir produksie van aardgas uit die toekomstige Brulpadda-gasveld van Total wat in die Outenikwa-bekken op see naby Mosselbaai ontwikkel word.

Hy beskou aardgas as die beste opsie om hernubare kragbronne aan te vul.

17 voornemende onafhanklike kragopwekkers het reeds by die departement aansoek gedoen vir lisensies. Net een daarvan – die Kaapstadse metro – is ’n munisipaliteit.

Baartman het ná die vergadering gesê daar is maatskappye wat groot beleggings in die energiesektor in die Wes-Kaap wil doen, maar hulle wil sekerheid oor regulering hê.

“Ek kry die indruk dat hy wil gesels, maar nie op ’n openbare forum soos hierdie nie. Moontlik verwag hy druk hieroor op hom vanuit sy eie party,” het Baartman gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.