Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Drempel van 50 MW kan beurtkrag nek omdraai

Beurtkrag kan binne 18 maande iets van die verlede wees indien die drempel vir selfopwekking van krag sonder ’n lisensie tot 50 megawatt (MW) gelig word.

Windturbines is een van die opsies vir groenkragprojekte.

Volgens ’n peiling van Chris Yelland se EE Business Intelligence sit honderde ondernemings en munisipaliteite reeds oorgehaal om hoofsaaklik groenkragprojekte op die been te bring.

Dis egter net as die vereiste minimum opwekkingsvermoë wat geregtig is op ’n kwytskelding van lisensiëring tot 50 MW deur die departement van minerale bronne en energie gelig word.

Daarsonder moet projekte deur langsame en peperduur lisensiëringsprosesse gaan met die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) wat aanvanklik ontwerp is vir groot kragstasies wat duisende MW opwek en ingewikkeld is om te bedryf.

Tans is die drempel besig om gelig te word van 1 MW tot 10 MW.

Dit is nie genoeg nie, meen Yelland.

Meridian Economics, wat die resultate van Yelland se peiling ontleed het, het tot die gevolgtrekking gekom dat ’n bykomende 5 000 MW se opwekkingsvermoë binne 12 tot 18 maande aan die kragnetwerk gekoppel kan word as die drempel tot 50 MW verhoog word.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, meen ’n bykomende 5 000 MW sou die toepassing van beurtkrag “dramaties” verminder.

“Dit kan beurtkrag dramaties aanpak. Een fase beurtkrag is 1 000 MW. So as jy 5 000 MW kry, kan jy self die som begin maak oor hoeveel addisionele beskerming jy in die stelsel inbring,” het De Ruyter aan Netwerk24 gesê.

Intussen het die kragverskaffer aangekondig dat fase 4-beurtkrag Woensdag tussen 14:00 en 22:00 toegepas sal word.

Dis die eerste keer in meer as ’n jaar wat Eskom fase 4-beurtkrag moet toepas.

Dit behels dat Eskom 4 000 MW se energieverbruik van die kragnetwerk moet haal sodat hy kan bybly met verskaffing ingevolge sy beskikbare opwekkingskapasiteit teenoor die vraag.

Indien 5 000 MW se opwekkingsvermoë tot die kragnetwerk bygevoeg kon word, sou nie eens die kolossale tekort wat Eskom tans beleef, gelei het tot beurtkrag nie.

Netwerk24 het voorheen van ’n hoog geplaaste bron in Eskom verneem dat 5 000 MW se bykomende kapasiteit werklik beurtkrag in sy spore kon stuit.

“Kom ek sê vir jou so: Dis so groot soos Kusile. Dis asof ons een hele groot kragstasie bykry teen geen kapitaalkoste vir Eskom of die land nie.

“So, dis hoe positief dit is. En jy gaan vir seker mense kry wat daardie geleentheid wil benut,” sê die bron.

“Ons (Eskom) is bereid om te werk met mense wat krag het om te verkoop. Daar is sekere beperkings – jy kan nou nie enige plek in die land jou kragstasie bou en verwag ons moet dit koop nie, want daar is sekere stelselbeperkinge.

“Ons moet darem die infrastruktuur hê om die krag op daardie spesifieke punt in die netwerk in te neem.

“Maar daardie reëls is klaar baie duidelik en almal weet hoe dit werk en dis uitgesorteer. Dis hoekom die navorsing van mening is dat 50 MW ’n verskil sal maak.”

Volgens die bron is Yelland se studie meer “wetenskaplik” as die peiling van 10 000 mense waarna die departement van minerale bronne en energie het om te regverdig dat die drempel slegs tot 10 MW verhoog moet word.

LEES OOK: Gwede: 10 MW of 50 MW – dis akademies

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het onlangs op sy departement se begrotingsposdebat gesê 10 000 openbare insette op die wysigingswetsontwerp op skedule 2 van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit toon dat Suid-Afrikaners tevrede is met die limiet vir die lisensievereistes vir die selfopwekking van krag wat van 1 megawatt (MW) tot slegs 10 MW opgestoot is, en nie tot 50 MW nie.

LEES OOK: Kragkrisis: Gwede ‘pootjie oplossing, mislei parlement’

Die bron van die 10 000 (nou meer as 16 000) insette wat die departement ontvang het, is egter ’n verdagte peiling wat deur ’n private organisasie gedoen is en “so foutief is dat dit belaglik is”, sê Yelland.

Intussen sit Suid-Afrika met ’n gratis oplossing vir die kragkrisis wat dalk bloot geïgnoreer gaan word.

Meer oor:  Beurtkrag  |  Groenkrag  |  Elekstrisiteit  |  Elektrisiteit  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.