Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Dubbele slag: Beurtkrag én ’n bibbernaweek

Beurtkrag kan deur die naweek voortduur, het Eskom gewaarsku nadat hy Vrydag vir die eerste keer sedert Maart weer kraglewering moes afskaal.

Die beurtkrag kom boonop op ’n slegte tyd vir huishoudings wat hulle landwyd staal vir ’n reeks kouefronte wat bibberweer vir die naweek bring.

Beurtkrag kan die naweek in donkerte hul.

Eskom moes Vrydag van 12:00 af landwyd fase-2-beurtkrag instel nadat meer as 3 000 MW se kragopwekkingsvermoë verloor is weens iets wat by die Matimba-kragsentrale gebreek het.

Kaapstad het aangedui dié metropool kan beurtkrag tot fase 1 beperk.

Dit sal tot 22:00 duur en dan weer Saterdag om 09:00 hervat word. Eskom het nog nie aangedui tot hoe laat Saterdag dit sal duur nie.

Gevaarligte het al Donderdag vir Eskom begin flikker toe hy noodgedwonge twee opwekkingseenhede by die Arnot-kragsentrale en een opwekkingseenheid elk by die Kendal-, Tutuka- en Majuba-kragsentrale in Mpumalanga moes afsit. Dié eenhede moes ook Vrydagoggend afgeskakel word.

Teen Vrydagaand laat is ’n eenheid elk by Arnot, Tutuka en Matimba weer aan die netwerk gekoppel, maar 2 350 MW was steeds van lyn af. Eskom sê hoewel nog eenhede na verwagting oornag weer in werking gestel gaan word, wil hy sy noodreserwes opbou vir volgende week.

Eskom sê ook die koue weer het die vraag na krag verhoog.

“Dit is ’n wonder dat enige onderneming in Suid-Afrika nog oorleef,” het Ghaleb Cachalia, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, in reaksie op die hernieude beurtkrag gesê.

Sakeondernemings is reeds teen die grond weens die erg negatiewe invloed van die Covid-19-inperking sedert einde Maart, en nou word hulle boonop nog deur beurtkrag in die rug geskop. Cachalia sê die DA hou die ANC verantwoordelik vir die ekonomiese krisis waarin die land hom bevind.

Dit is die eerste keer sedert 15 Maart dat beurtkrag die land se ligte uitdoof.

Cachalia sê Suid-Afrikaanse ondernemings is nie meer in ’n ekonomie waar werk en ander geleenthede geskep word nie.

“Inteendeel, ondernemings is desperaat om te oorleef in ’n toenemend vyandige ekonomiese omgewing waar hulle werknemers uit diens moet stel.”

Cachalia sê daar moet indringend aan die plan gewerk word om Eskom in dele op te breek met die oog daarop om dit ten minste deels te privatiseer.

Hy sê onafhanklike kragprodusente moet ook gebruik word om meer krag te verskaf.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, het verlede jaar al gesê beurtkrag kos die Suid-Afrikaanse ekonomie waarskynlik R1 miljard per dag per fase wat ingestel word.

Eskom het in Junie nog belowe hy behoort die land sonder beurtkrag deur die winter te kry, en dat hoogstens drie dae van beurtkrag in fase 1 teen einde Julie verwag word.

Die kragmaatskappy het egter Vrydag verduidelik dit duur langer as verwag om ’n gebreekte opwekkingseenheid by die Duvha-kragsentrale weer in bedryf te kry, en dit het ekstra druk op die kragnetwerk geplaas toe foute by die lys eersgenoemde kragsentrales ook begin opduik het.

Eskom het verbruikers sedert Dinsdag al begin waarsku oor moontlike beurtkrag toe opwekkingseenhede by Tutuka, Kendal, asook Medupi probleme gekry het. Verbruikers is gevra om veral tussen 16:00 en 22:00 alle nie-noodsaaklike kragtoestelle af te skakel om hom te help om beurtkrag te vermy. Dit is benewens streekgebonde kragonderbrekings wat hy die afgelope weke in dele van Gauteng begin instel het in gebiede waar kragdiefstal, vandalisme en onwettige verbindings druk op die streeknetwerk gelaai het.

Eskom-wenke oor beurtkrag:

  • Kry spesiale kragproppe om kragstuwings by sensitiewe toerusting soos rekenaars te vermy;
  • Maak gereeld rugsteunkopieë van jou werk as jy tuis op ’n rekenaar werk;
  • Trek kabels van elektroniese toerusting, telefone of ander sensitiewe toerusting uit as beurtkrag op pad is, om dit teen kragstuwing te beskerm;
  • Hou ’n mobiele modem byderhand of gebruik jou selfoon se datanetwerk om jou tydens beurtkrag steeds aan die internet verbind te hou;
  • Hou batterye van jou skootrekenaar en selfoon gelaai sodat dit jou deur die beurtkrag-tyd kan dra;
  • Maak seker jou elektriese heining en elektriese toeganghek het ’n rugsteun-battery wat werk;
  • Sorg vir ’n batteryflits wat werk eerder as kerse vir beligting;
  • Hou jou noodhulpkis in stand met genoeg voorraad in geval van nood tydens beurtkrag;
  • Belê in ’n UPS (ononderbroke kragvoorsiening) om jou rekenaar te midde van kragonderbrekings steeds van krag te voorsien;
  • Wees ter wille van veiligheid meer op jou hoede as jy tydens beurtkrag saans jou huis moet verlaat of tuiskom, ingeval straatligte buite werking is.
Meer oor:  Eskom  |  Beurtkrag  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.