Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Duurder krag voorlopig goedgekeur in Kaapstad
kaapstad
Nersa het die Kaapse metro se voorlopige aansoek om 'n kragtariefverhoging goedgekeur. Foto: Unsplash

Die Kaapstad-metro het wel voorlopige goedkeuring van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vir sy nuwe kragtariewe vir die 2019-’20-boekjaar, sê Ian Neilson, onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir finansies.

Dit kom te midde van burgerlike organisasies wat beweer die stad pas reeds die nuwe verhoogde kragtariewe toe sonder amptelike goedkeuring deur Nersa.

Volgens Neilson is dit onwaar. Die stad het bloot nog nie die ondertekende brief van goedkeuring van Nersa gekry nie weens die energiereguleerder se administratiewe prosesse.

Maar Sandra Dickson, kampvegter van die organisasie Stop COCT wat hom vir billike kragtariewe vir verbruikers beywer, meen die feit dat die Kaapstad-metro tegnies nog nie amptelike bewys van goedkeuring van sy nuwe kragtariewe het nie, bied ’n venstergeleentheid om by Nersa aan te dring op ’n openbare sitting oor die tariewe.

Dickson wys op die openbare protes in Johannesburg en Pretoria teen nuwe kragtariewe en heffings.

Dit het daarop uitgeloop dat Nersa ’n openbare sitting in die Tshwane-metro gehou het, en volgens Awie Erasmus van die VF Plus in die metroraad het Stevens Mokgalapa, burgemeester van Pretoria, belowe die stad sal nie voortgaan om sy nuwe kragtariewe in werking te stel alvorens Nersa dit nie goedgekeur het nie.

Dickson wys op die gevolge van Kaapstad se skerp verhoging in eiendomswaardasies op verbruikers se kragkoste. Sy voer aan die stad het algaande begin om kragtariewe aan die waarde van eiendomme te koppel, hoewel wetgewing bepaal dat kragtariewe op verbruik gegrond moet wees. Sy meen munisipale wetgewing is ’n mynveld en die manier waarop die wetgewing deur munisipaliteite geïnterpreteer word, is baie aanvegbaar.

Volgens Dickson het die stad onder Patricia de Lille as burgemeester in 2016 ’n ekstra diensgeld van R219 voorgestel vir kragverbruikers. Dit is afgeskiet, maar is verlede jaar toe wel ingestel, maar teen ’n laer bedrag van R150. Vanjaar styg dié bedrag tot R163,50. Dit geld alle eiendomme met voorafbetaalde kragmeters. Vir ander eiendomme geld dit dié met waardasies van bo R400 000.

Maar op die jongste waardasierol is talle eiendomme skielik nou meer as R1 miljoen werd en moet dié huishoudings ook nou die R163,50 betaal. Die skerp verhoging in waardasies het ook die onbedoelde gevolg dat huishoudings van een bloktarief na ’n hoër een skuif, ongeag hul kragverbruik maar bloot omdat hul eiendom nou volgens die nuwe waardasierol van groter waarde is.

Oor die moontlikheid dat Nersa sal instem tot versoeke om ’n openbare sitting in Kaapstad oor die munisipale kragtariewe, het Dickson gesê Nersa het vir nog inligting gevra. Nersa het nog nie op Netwerk24 se navrae hieroor gereageer nie.

Volgens Neilson sal die stad nie enigiets in werking stel as Nersa nie eers goedkeuring gegee het nie. Volgens hom het die stad al die nodige wetlike prosesse, asook openbare deelname tydens sy begrotingsproses, gevolg om die nuwe tariewe betyds goedgekeur te kry.

Enige tarief moet aan sowel die stadsraad ingevolge die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies as aan Nersa ingevolge die Wet op Elektrisiteitregulering voorgelê word. Eersgenoemde wet bepaal spertye vir tariefgoedkeuring, maar die wet oor kragregulering nie.

“Gevolglik kan dit tot administratiewe uitdagings lei wanneer Nersa se goedkeuring ontvang word ná die aanvang van die boekjaar,” het Neilson gesê.

Meer oor:  Nersa  |  Aansoek  |  Kragtariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.