Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Duurder petrol, diesel is vlak 3 se voorland

Junie bring goeie nuus en dit bring slegte nuus.

Maak jou tenk vóór Woensdag vol petrol en jy sal nagenoeg R60 spaar. Foto: Pixabay

Die goeie nuus is dat jy nou meer rede het om op die pad te wees – soos om kerk toe te gaan, drank te gaan koop of jou huiswerker op of af te laai.

Die slegte nuus is dat dit jou meer gaan kos om te ry omdat die petrolprys vir die eerste keer vanjaar styg en diesel vir die tweede keer vanjaar. (O ja, en rokers mag steeds nie sigarette koop nie en rugbywedstryde mag steeds nie gespeel word nie...)

Dis ook nie sommer ’n klein styging nie.

Volgens die Sentrale Energiefonds se voorlopige syfers moet 95-oktaan-petrol R1,19 per liter duurder word en 93-oktaan R1,10 per liter. Diesel moet 22c per liter duurder word en paraffien 41c per liter.

Dis gegrond op die onderverhalings vir die oorsigtydperk vir Junie se pryse. Die finale pryse kan enige oomblik uitgereik word en as die departement van energie nie aan vervoerkoste of winsgrense verander of ’n sogenaamde balansheffing instel nie, behoort dit baie naby dié syfers te wees.

Die stygings sal van Woensdag 3 Junie af geld.

Twee faktore bepaal Suid-Afrika se brandstofpryse: internasionale olie- en brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers.

Internasionale oliepryse het die afgelope maand heelwat gestyg aangesien baie ekonomieë weer op dreef kom namate Covid-19-verwante inperkings verslap word.

Die prys van Brent-ruolie, die algemene internasionale maatstaf vir oliepryse, het byvoorbeeld die afgelope maand van so laag as $22 per vat tot selfs $36 per vat gestyg. Hoewel steeds histories gesproke baie laag, is dit slegs die vergelyking met die vorige maand wat saak maak.

Die rand, wat van bo R18 per dollar tot in die omgewing van R17,50 versterk het die afgelope maand, keer dat die stygings in brandstofpryse selfs meer is. Sonder dié versterking sou brandstofpryse met nóg sowat 7c per liter moes styg.

95-oktaan petrol kos tans R12,22 per liter in Gauteng en R11,52 aan die kus. Diesel (0,05% swael) kos R11,09 per liter in Gauteng en R10,48 aan die kus. Dis vóór die verwagte verhogings.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) wys wel dat brandstof selfs ná Junie se stygings byna R4 per liter goedkoper is as voor die Covid-19-krisis. “Gelukkig het die rand in Mei versterk, wat die land van ’n deel van die styging geïnsuleer het.”

Die AA herinner mense daaraan dat daar tans ’n tekort aan diesel heers, maar die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfvereniging (Sapia) het vroeër die week gesê dit behoort teen einde Mei uitgesorteer te wees.

Die tekort is te wyte daaraan dat die ekonomie met die oorgang van die vlak 5-inperking na vlak 4 vinniger as verwag begin herstel het en die vraag na diesel drasties gestyg het, het Sapia in ’n verklaring gesê.

Onbeplande probleme by sommige raffinaderye het tot die tekort bygedra.

Verskeie raffinaderye was onder vlak 5 en vlak 4 gesluit.

Suid-Afrika beweeg Maandag na vlak 3, wanneer baie meer mense mag terugkeer werk toe en die vraag na brandstof waarskynlik sal styg.

Oor die algemeen waarsku die AA: “Ons adviseer motoriste om pragmaties te wees en te voorsien dat brandstofpryse mettertyd na hul vorige vlakke sal terugkeer op medium- tot lang termyn. Dis sal wys wees om daarvolgens te begroot.”

Meer oor:  Ruolie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.