Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Ek word gebruik om wantroue te skep,’ sê Koko
Matshela Koko

Die omstrede voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, Matshela Koko, glo hy word gebruik om wantroue in die kragvoorsiener en die staat te skep.

Koko moet Woensdag voor die parlementêre komitee verskyn wat staatskaping ondersoek.

Hy sê in sy verklaring wat aan Fin24 gelek is dat hy sukkel om te verstaan wat hy aan die portefeuljekomitee moet voorlê.

Hy pak die skuld op sy eie kruistog teen korrupsie as die rede hoekom hy geteiken word. Hy sê hy glo hy is deel van ’n “waansinnige veldtog” om Eskom te breek en wantroue in die staat te skep.

“Ek is in die spervuur en weens die blote omvang van die veldtog kon ek myself nie daarteen verdedig nie,” sê hy.

“Dit maak baie, baie seer.”

Koko is vroeër deur ’n dissiplinêre verhoor in die gesig gestaar nadat hy nie verklaar het sy stiefdogter Koketso Choma is ’n direkteur by Impulse International nie. Dié maatskappy het voordeel uit sowat R1 miljard se kontrakte oor ’n tydperk van 11 maande met Eskom getrek.

Koko is onskuldig bevind.

Hy het egter nooit presies verduidelik wat sy rol in die omstrede ooreenkoms was waar Eskom Tegeta met ’n voorafbetaling gehelp het om die Optimum-steenkoolmyn te bekom nie.

Tegeta behoort aan die Gupta familie.

Die Optimummyn was in sakeredding toe dié transaksie afgehandel is.

Tegeta

Koko sê in sy verklaring die “verhaal wat deur die media en ander vertel word”, is onsin.

Hy sê die storie dat Optimum deur Eskom tot sakeredding gedryf was met die doel om Tegeta in staat te stel om die myn te bekom is vals.

Hy ontken ook dat Eskom in 2017 ’n boete van sowat R2,18 miljard tot minder as R600 miljoen verminder het om Tegeta te help om hom as ’n beduidende rolspeler in die plaaslike steenkoolsektor te help vestig.

Koko sê hy was meestal nie deel van die reeks gebeure wat daartoe gelei het dat Tegeta vir Optimum Steenkool – die houermaatskappye van die myn – bekom het nie.

“Ek ontken ook dat so ’n algehele strategie ooit bestaan ??het,” sê hy.

Ek is in die spervuur en weens die blote omvang van die veldtog kon ek myself nie daarteen verdedig nie.
Matshela Koko

“Eskom wat Optimum beboet het, wat weer daartoe gelei het dat Glencore hom en sy houermaatskappy in sakeredding geplaas het, is ’n voorval wat nie verband hou met wat daarna gebeur het nie.”

Koko sê die sakeredders het vir die eerste keer Tegeta by die gebeure betrek.

“Die voorstel vir die transaksie het sover ek weet geensins van Eskom gekom nie.”

Koko sê in sy verklaring Glencore het Eskom probeer boelie om meer vir steenkool te betaal en het geweier om “selfs ’n sent” van die boete te betaal wat weens die swak gehalte van die steenkool gehef is. Hy sê Glencore wou ’n “losprys” van Eskom hê.

Hy sê die departement van minerale bronne het betrokke geraak omdat beamptes bekommerd was oor Optimum se benarde finansiële posisie. Die departement het die betrokke mynlisensie opgeskort.

Brian Molefe, wat toe uitvoerende hoof van Eskom was, moes die minister vra om versigtig te wees oor hoe hy dit hanteer weens heersende omstandighede. Dit was met spesifieke verwysing na Eskom wat gesukkel het om genoeg krag op te wek en met verwysing na die beurtkrag wat die land se ekonomie duur te staan gekom het.

Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale bronne, het Molefe en Ben Ngubane, voormalige voorsitter van Eskom, verlede jaar daarvan beskuldig dat hulle hom probeer dwing het om mynlisensies op te skort terwyl beurtkrag aan die orde van die dag was.

Koko sê in sy verklaring kommunikasie met die departement van minerale bronne was nie ongewoon nie.

Dit was gewoonlik op die hoogste vlak.

“Daar word gesê ons brief aan die departement van minerale bronne was op die een of ander manier ongewoon,” sê hy.

“Ek ontken dat dit die geval is.”

Hy voeg by die korrespondensie wys hoe bekommerd Eskom se bestuur was oor die voordurende onsekerheid oor steenkoolverskaffing aan Hendrina.

Departement bewus

Dr. Thibedi Ramontja, direkteur-generaal van minerale bronne, het op 7 Desember 2015 ’n brief aan Koko gestuur waar hy sê die departement is ten gunste van die verkoop en oordrag van die Optimum-mynreg.

“Die departement was duidelik bewus van die gebeure en die identiteit van die moontlike koper,” sê Koko.

Koko dink ook nie die voorafbetaling soos wat die departement voorgestel het, was eienaardig nie.

Hy sê Suzanne Daniels, die geskorste regshoof van Eskom, het ook voor die parlement getuig ’n voorafbetaling was heeltemal wettig gegewe die omstandighede.

– Kliek hier om die volledige Fin24 artikel te lees.

Meer oor:  Tegeta  |  Eskom  |  Matshela Koko  |  Brian Molefe  |  Steenkool  |  Optimum  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.