Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Ekonoom waarsku oor petrolprys; Slate-heffing bly spook
Die AA voorspel petrolpryse kan met tot soveel as R1,54 in Desember daal.

Die staat kan verbruikers met ’n stewige verlaging van die brandstofprys beloon én die tekort op die Slate-heffingsrekeningsfonds uitwis.

Hy gaan dit egter nét regkry as hy steeds die brandstofprys manipuleer en nie November se volle oorverhaling aan die verbruiker in Desember deurgee nie.

Dit is Dawie Roodt, hoofekonoom van The Efficient Group, se raad aan die staat.

“Dit kos sowat 30c per liter brandstof om R500 miljoen ekstra in te win,” verduidelik Roodt.

Die feit dat die staat in November besluit het om nié die brandstofprys te verlaag nie, en die sowat 23c oorverhaling te gebruik om in die Slate-fonds te stort gaan dus nié die sowat R2,2 miljard tekort daarop uitwis nie, meen Roodt.

Die Slate-heffing is vir die eerste keer in jare in November op die petrolprys ingestel.

Die staat het besluit om die petrolprys in September tydelik te subsidieer.

Dié subsidie word effektiewelik uit die Slate-fonds gesubsidieer.

Die Sentrale Energiefonds het in November bevestig dat hy ’n negatiewe balans van R2,2 miljard het. Dis dié fonds wat verbruikers in November moes help finansier om te vergoed vir die subsidie in September.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het op 15 November gesê die petrolprys behoort met sowat R1,54 per liter op die eerste Woensdag van Desember te daal.

Die prys van diesel behoort met 92c en dié van paraffien met 85c per liter te daal.

“Ná maande van volgehoue druk op die brandstofprys sal brandstofverbruikers aan die einde van November aansienlike verligting kry as die huidige tendens voortduur,” sê die AA in ’n verklaring.

Roodt sê die staat kan natuurlik altyd besluit om die verbruiker ’n groot Kersgeskenk te gee en die hele oorverhaling oor te dra.

“Maar dit sal nie slim wees nie want dan sit hy nog steeds met daardie tekort op die fonds,” sê hy.

“Die staat kan hierdie geleentheid gebruik om die verbruiker gelukkig te hou en sy probleem met die heffing op te los.”

Roodt meen as die staat die brandstofprys met tussen 50c en 80c verlaag en die res in die Slate-fonds te stort, behoort dit genoeg te wees om die tekort uit te wis.

Die AA sê die rede hoekom die brandstofprys so beduidend behoort te daal is weens laer oliepryse.

Olie het op 1 November nog teen bykans $75 per vat verhandel.

Vandag verhandel dit teen $67,29 per vat.

Meer oor:  Automobiel Assosiasie  |  Aa  |  Dawie Roodt  |  Brandstof  |  Petrolprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.