Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eksklusief: Oberholzer-klaer eis R41 m. van Eskom
Eskom se Majuba-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Argief

Eskom moet R41 miljoen aan hom betaal, sy geskiedenis skoonvee en aan hom ’n goeie verwysing gee vir toekomstige werksaansoeke.

Dit is van die eise wat Mark Chettiar, ’n senior amptenaar van Eskom, se prokureurs op 28 Augustus aan Eskom gestuur het.

Luidens die brief, wat Netwerk24 onder oë gehad het, stel Chettiar voor dat hy Eskom se diens sal verlaat mits hulle ’n skikkingsooreenkoms bereik. Maar wat ook al Eskom besluit, gaan Chettiar steeds sy kant van die saak in die media stel.

Eskom se regskenner se advies op die brief, wat Netwerk24 ook onder oë gehad het, is dat die bedrag wat Chettiar eis, “gek” is en dat dit buite die grense van Eskom se reëls in sake soos dié val.

Chettiar het Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, vroeër vanjaar van verskeie ongerymdhede aangekla en van viktimisasie beskuldig.

Eskom het egter in twee eksterne en een interne ondersoek bevind dat Oberholzer nie ten opsigte van enige van die klagte oortree het nie. Al waaraan Oberholzer wel skuldig is, is dat hy die f-woord teenoor Chettiar gebruik het toe hy hom vasgevat het oor swak werkprestasie. Hy het dit erken en Chettiar hiervoor om verskoning gevra.

LEES OOK: Eskom sê weer: Oberholzer het niks verkeerd gedoen

Eskom sê in ’n derde verslag oor die ondersoeke na Oberholzer dat Chettiar die een was wat nie sy werk na behore gedoen het nie en toe hy hieroor voor stok gekry is, het hy by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gekla dat hy geviktimiseer word.

Dit was selfs nadat Eskom aangebied het om Chettiar na ’n ander afdeling oor te plaas sonder dat sy posvlak of salaris nadelig beïnvloed sou word.

Luidens ’n betroubare bron wat anoniem wil bly, verdien Chettiar ’n pakket van sowat R2 miljoen per jaar. Dit sluit voordele soos ’n bydrae tot ’n mediese en pensioenfonds in.

Hoewel dit glo aanvanklik geblyk het dat Chettiar die oorplasing aanvaar, het hy later van plan verander en ’n klag by die KVBA ingedien.

Volgens Eskom se jongste verslag oor die aangeleentheid het Chettiar sedert die laaste week in Januarie nog geen werk in sy nuwe pos gedoen nie. Tog kry hy glo steeds elke maand sy salaris. Hy het oor dié sewe maande dus reeds sowat R1,6 miljoen verdien sonder om te werk.

Chettiar ‘kos Eskom miljoene rand’

Eskom meen Chettiar het nie in sy pos as bestuurder van steenkool- en skoontegnologieprojekte sy kontraktuele verpligtinge nagekom nie.

Daar was klagtes teen hom oor hoe hy mense bestuur, probleme met die asprojek by die Camden-kragstasie wat Eskom tans R650 000 per uur kos, en swak projekbestuur van die opknapping van die spoorhanteringsgerief vir steenkool by Majuba wat Eskom sowat R300 000 per dag kos.

Eskom reken dié foute het hom die afgelope jaar reeds miljoene rand uit die sak gejaag.

Benewens dié klagte het Oberholzer sedertdien daarop aangedring dat Chettiar dissiplinêr verhoor word weens die reputasieskade wat Oberholzer gely het in die lig van Chettiar se bewerings.

Oberholzer en sy familie het glo selfs doodsdreigemente ontvang.

Chettiar eis nou dat al die klagte teen hom laat vaar word, dat Eskom aan hom ’n brief gee wat “ ’n positiewe siening van sy prestasie gee en verklaar dat hy geen vorige dissiplinêre geskiedenis het nie, ’n skoon lewenstyloudit het en dat Eskom sy regskoste van sowat R70 000 sal dek. Eskom moet ook sy pensioen van sowat R6,9 miljoen aan hom uitbetaal, asook R5 000 vir koste wat sy mediese fonds nie die afgelope tyd betaal het nie.

Hy eis ’n verdere R24 miljoen om sy salaris vir die volgende 12 jaar te dek, asook ’n verdere R10 miljoen vir die “reputasieskade wat hy gely het”.

Albei partye erken dat as Eskom wel voortgaan met die dissiplinêre verhoor, Chettiar skuldig bevind en besluit om hom af te dank, kan Eskom hoogstens gedwing word om 12 maande se salaris aan Chettiar te betaal.

Indien die arbeidshof wel so beslis en met sy pensioen ingereken, sou dit neerkom op ’n betaling van R8,9 miljoen. Maar kragtens die Arbeidswet is hy net geregtig op sy pensioengeld van R6,9 miljoen indien bevind word dat Chettiar hom skuldig gemaak het aan oortredinge en/of gedrag wat ’n afdanking regverdig.

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Andre De Ruyter  |  Majuba  |  Klagtes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.