Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eksplorasie hervat gou naby Total se Brulpadda-vonds

Die brulpadda begin weer kwaak. Eksplorasie-boorwerk aan die Suid-Kaapse kus waar die Franse oliereus Total meer as ’n jaar gelede ’n groot nuwe olie- en gasbron ontdek het, kan binnekort hervat word.

Die vaartuig Polarcus Asima wat verlede jaar gekontrakteer is om 3D seismiese opnames in die diepsee 175 km suid van Plettenbergbaai te doen sodat Total en sy vennote beter kan skat waar die beste volgende boorgat is om te sink in sy soektog na olie en gas. Foto: FLEETMON

’n Noorse olieboortoring is tans van Bergen in Noorweë op pad na Suid-Afrika om eksplorasiewerk in die omgewing te hervat, het die Kanadese maatskappy Africa Energy Corporation voor die naweek aangekondig.

Dit is van die eerste tekens dat olie-eksplorasie hervat te midde van die Covid-19-pandemie, wat deels bygedra het tot ’n skerp val in oliepryse en die wêreldwye inkorting van besteding aan nuwe olieprojekte.

Africa Energy is een van die vennote saam met Total in die gebied van sowat 19 000 km² waar die Brulpadda-olievonds in Februarie verlede jaar aangekondig is.

Dit is 175 km suid van Plettenbergbaai in waterdiepte wat wissel van 200 m tot 1 800 m.

Die Odjell Deepsea Stavanger is ’n boortoring wat gekontrakteer is om ’n paar nuwe eksplorasiegate in die gebied te sink.

Die boortoring sal teen September voorbereiding afhandel vir die eerste nuwe eksplorasieboorgat, genaamd Luiperd. Luiperd is in die Paddavissie-reserwe en is naby die Brulpadda-vonds. Danksy die Brulpadda-vonds en driediemensionele seismiese opnames wat daarna gedoen is, kon die eksploreerders meer akkuraat raam waar die beste plek is om volgende te boor, het Garrett Soden, uitvoerende hoof van Africa Energy, in ’n verklaring aan aandeelhouers van die maatskappy op die Toronto-beurs gesê.

Die Brulpadda-boorgat is ook deur Deepsea Stavanger gesink. Die boortoring was daarna in Bergen se droogdok vir instandhouding en aanpassings ter voorbereiding op die nuwe boorprogram.

Odfjell, die eienaars van die boortoring, is kundiges in olie-eksplorasiewerk in uiterste diepseetoestande soos dié aan die Suid-Kaapse kus.

Africa Energy besit ’n 49%-belang in ’n rakmaatskappy genaamd Main Street 1549, wat ’n 10%-belang in Blok 11B/12B het – die amptelike naam wat die Petroleumagentskap van Suid-Afrika aan die gebied gee waarvoor Total en sy vennote eksplorasieregte het.

Total se belang is 45%, gevolg deur Qatar Petroleum en CNR International, wat onderskeidelik 25% en 20% het.

Al wil die Suid-Afrikaanse regering ingevolge die konsep wetsontwerp oor die ontwikkeling van petroleumhulpbronne sy belang in nuwe projekte van 10% na 20% verhoog, en daarby nog 10% aan swartbemagtigingsvennote wil toeken, meen Africa Energy die fiskale terme van olie- en gasbedrywighede aan die Suid-Afrikaanse kus is steeds aantreklik.

Ondanks die verpligte staats- en bemagtigingsbelange van tot 30%, tantième van tussen 0,5% en 5%, en maatskappybelasting van 28%, is dit aantreklik omdat die deelnemers hul volle bedryfskoste, 150% van hul kapitaalkoste en 200% van eksplorasiekoste van belasting kan aftrek, sê Africa Energy in ’n inligtingstuk op sy webblad.

Tot drie boorgate word in die volgende eksplorasieprogram beplan, teen ’n koste van $150 miljoen per boorgat. Total het vroeër geraam Brulpadda kan die ekwivalent van sowat 1 miljard vate olie bevat.

Africa Energy meen die projek is aantreklik danksy die nabygeleë infrastruktuur van PetroSA wat juis angstig is vir nuwe gasbronne vir sy gas-tot-brandstofaanleg in Mosselbaai. Eskom se Gourikwa-kragstasie reg langs die aanleg wat tans met diesel loop, kan ook relatief maklik omgeskakel word om eerder aardgas te gebruik wat goedkoper is.

Meer oor:  Total  |  Brulpadda-Veld  |  Olie  |  Brandstof  |  Gas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.