Elon Musk het ’n $100 miljoen-beloning uitgeloof vir die beste tegnologie om koolstof mee op te vang.

Elon Musk, uitvoerende hoof van onder meer Tesla. Foto: Getty Images
Getty Images getty images
Hy het dit Donderdag op Twitter bekend gemaak en gesê hy sal volgende week meer besonderhede gee.
Musk, medestigter van Tesla, se rykdom het die afgelope jaar drasties toegeneem sodat hy Jeff Bezos as die wêreld se rykste mens onttroon het. Dit staan nou op $201,4 miljard, aldus die Bloomberg-miljardêrsindeks.
Een van sy eerste reaksies op sy nuwe posisie, nadat hy sy skouers aanvanklik opgehaal het, was om raad te kry oor hoe om sy geld weg te gee.
Die 49-jarige Suid-Afrikaans gebore magnaat is ’n filantropiegroentjie vergeleke met dié wat hy pas op die rangleer van rykstes verbygesteek het.
Hy het nog betreklik min in die openbaar vir liefdadigheid gedoen. Hy het wel meer as $257 miljoen – sowat 0,1% van sy huidige netto rykdom – aan die Musk-stigting gegee, wat tussen 2016 en 2018 $65 miljoen aan sowat 200 organisasies sonder winsbejag geskenk het, aldus ’n ontleding deur Quartz.
Musk se fokus op koolstof-opvangs strook met sy ander sakebelange, wat grootliks gerig is op tegnologiese oplossings vir dringende omgewingsprobleme.
Koolstof-opvangs en -berging is ’n mengsel van verskillende tegnologieë met een gemeenskaplike oogmerk: om koolstofdioksied, ’n kweekhuisgas wat die aarde verhit, op te vang en te keer dat dit in die atmosfeer vrygelaat word. Dit kan geïnstalleer word om uitlaatgasse van kragstasies, fabrieke of selfs regstreeks uit die lug op te vang.
Daar is meer as twee dosyn grootskaalse aanlegte wêreldwyd wat sowat 40 miljoen ton koolstofdioksied kan opvang. Dis sowat 0,1% van die jaarlikse totaal.
Musk het al te kenne gegee die rede hoekom hy rykdom bymekaar maak, is om dit weg te gee, of ten minste te bestee aan projekte waaroor hy geesdriftig is, naamlik ruimteverkenning. – Bloomberg