Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Energiefonds: Niemand nog vas oor olie-verkope

Parlementslede was Dinsdag nie beïndruk dat so min vordering gemaak is wat betref die vervolging van amptenare wat by die omstrede verkoop van Suid-Afrika se strategiese olievoorraad in 2015 geïmpliseer word nie.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie. Foto: Nelius Rademan

Die Sentrale Energiefonds (SEF) en die departement van minerale bronne en energie behoort teen Junie verslag te lewer oor wat gedoen is oor elke amptenaar wat betrokke was, het Sahlulele Luzipo, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor energie, gesê.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, asook sy amptenare het egter geskuil agter die sub judice-reël en die feit dat die Valke nog baie van dié sake ondersoek.

Mantashe en amptenare van die SEF en sy filiale het die komitee oor die vordering met die samesmelting van PetroSA, die Strategiese Brandstoffonds (SFF) en iGas tot een nasionale brandstofmaatskappy, asook oor verskeie forensiese ondersoeke ingelig.

Dr. Ishmael Poolo, uitvoerende hoof van die SEF, meen die samevoeging is ver gevorderd, dat dit tussen R1,4 miljard tot R2 miljard se sinergiebesparings kan meebring, en dat die nuwe maatskappy tussen R60 miljard en R90 miljard se markgeleenthede kan benut.

Op die vraag van Kevin Mileham, DA-lid van die komitee, oor hoeveel die samesmelting gaan kos, het Poolo gesê dit is tot dusver R65 miljoen, maar hy het gewys op die besparing van tot R2 miljard wat dit kan meebring.

Valentia Malinga, ANC-lid van die komitee, het opgemerk dat sy verskeie kantoordeure met titel van visepresident gesien het toe die komitee onlangs as deel van ’n oorsigbesoek by PetroSA se kantore in Parow was.

Frans Baleni, voorsitter van PetroSA, het haar verseker die saamgesmelte maatskappy sal totaal anders lyk as die proses eers afgehandel is en dat sy dit wat sy tans daar sien, moet ignoreer.

Projek Ikhwezi

Poolo het omvattend verduidelik hoe PetroSA se Projek Ikhwezi skeefgeloop het. Dit was die projek om sedert 2007 nuwe plaaslike aardgasbronne vir PetroSA te vind sodat sy gas-tot-brandstof-aanleg in Mosselbaai (voorheen bekend as Mossgas) kan voortbestaan.

Ondanks jaarlikse ondersoeke tussen 2011 en 2016 het die mislukte projek PetroSA uiteindelik R14,5 miljard gekos, terwyl net 56 miljard kubieke voet gas – vergeleke met die verwagte 240 miljard kubieke voet – teen April 2020 daar ontgin is. Daar is al in 2013 ’n forensiese ondersoek bevind dat die projek se begroting met 250% oorskry is.

Pragasen Naidoo, uitvoerende hoof van PetroSA, het verduidelik dat die oorblywende gas eerder aan Eskom of ander kopers vir kragopwekking verkoop gaan word, want dit is te min om in die aanleg vir brandstofvervaardiging te gebruik. Die voorkeuropsie vir die volgende vyf tot agt jaar is om vloeibare aardgas (LNG) in te voer, en die langtermynoplossing is om ’n LNG-aanleg te bou.

aardgas

PetroSA het al versoeke uitgestuur in die mark vir die aankoop van LNG, en hy onderhandel ook hard met die Franse oliereus Total oor die aardgasbronne wat Total verlede jaar aan die Suid-Kaapse kus ontdek het.

PetroSA het nie meer die hulpbronne om sulke groot kapitaalprojekte aan te pak nie.

Uit die beoogde vyf boorgate is net drie geboor en PetroSA loop die risiko om sy produksiereg te verloor.

Die laaste verslag in 2016 oor die mislukte projek word steeds geheim gehou omdat dit kwansuis vertroulike kommersiële inligting bevat, het die komitee gehoor.

Strategiese olievoorraad

Poolo sê die Valke se ondersoek na die omstrede verkoop van Suid-Afrika se strategiese olievoorraad is tans in ’n delikate fase.

In November het die hooggeregshof die transaksie omgekeer. Die olie is nou weer in Suid-Afrika se besit en die oliehandelaars is met rente terugbetaal. Twee handelaars eis egter ook hul verskansings- en regskoste, en die SEF het ’n appèl daarteen ingedien.

Parlementslede wou weet of regstappe ingestel gaan word teen Sibusiso Gamede, die destydse waarnemende hoof van SFF, wat die olie verkoop het.

Mantashe en Poolo het aangevoer die Valke ondersoek strafregtelike en siviele sake teen betrokke amptenare.

Thabo Mokoena, direkteur-generaal van die departement, sê hulle is byna weekliks in kontak met die Valke oor die vordering wat met die ondersoeke gemaak word.

Die komitee het gehoor Gamede het nooit die regte prosesse gevolg nie en het die destydse minister van energie, Tina Joemat-Pettersson, laat glo dat die transaksie ’n rotasie van voorraad is. Maar geen nuwe olie is aangekoop in die plek van die ou olie nie. Die SEF het eers die transaksie ontdek toe die betaling in die SFF se bankrekening beland het, want die SEF se tesourie-afdeling het die bankrekening bestuur. Dit is toe eers dat die SEF-direksie en die minister daaroor ingelig is.

Ondersoeke word ook oor die volgende gedoen:

  • ’n Forensiese ondersoek is aan die gang oor ernstige bewerings van wanbestuur by PetroSA wat betref verkrygings en kontrakte, die toekenning van vrywillige uitdienstredingspakkette en die verlengde sluiting van die aanleg in Mosselbaai. Dié verslag sal na verwagting vandeesmaand voltooi wees.
  • By die SEF self word bewerings van wanvoorstellings en afskrywings in finansiële state, geldwassery, diensweiering en vertraging in die projek vir die daarstelling van songeisers ondersoek.
  • By die Petroleumagentskap van Suid-Afrika word bedrog ondersoek, waar R1,2 miljoen verkeerdelik by ’n buitelandse bankrekening inbetaal is.
  • Die SFF het 10 miljoen liter diesel in Zimbabwe gekoop maar nooit die diesel ontvang nie. Die betrokke handelaar, Line Petroleum, is hof toe gevat maar hy het geen bates in Suid-Afrika nie en die SFF se regslui oorweeg nou regstappe teen Line Petroleum in Zimbabwe self.
  • By die filiaal AEMFC word bewerings ondersoek van die verkrygingsbeleid wat oortree is, en die destydse uitvoerende hoof wat strategiese projekte wanbestuur het en ’n oorsese reis sonder goedkeuring onderneem het.

Die uitvoerende hoof en drie bestuurders is afgedank, en nog drie senior bestuurders het self bedank. Die betrokke hoof is op ’n swartlys geplaas en mag nie weer vir die staat werk nie. Die persoon en nog twee voormalige bestuurders het egter by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie gaan kla.

  • 300 000 vate olie van die SFF se Ogies-oliebergplek wat onwettig aan Enviroshore geleen is.
  • ’n Eis van Mecuria wat die olie toe by Enviroshore gekoop het en met wie die SFF ’n bergingsooreenkoms gesluit het.
Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Brandstof  |  Energie  |  Ondersoek  |  Parlementêre Leiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.