Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Engen se plan met raffinadery maak dalk tóg sin

Die omskepping van Engen se olieraffinadery in Durban na ’n invoervrageindpunt vir brandstof lyk toenemend na nie so ’n slegte idee nie.

’n Deel van die Engen-raffinadery se perseel sal dalk in ’n nywerheidspark omskep word.

Die departement van minerale hulpbronne en energie is besorg oor die risiko van verdere raffinaderye wat kan sluit, want dit impliseer Suid-Afrika word al hoe afhankliker van brandstofinvoer. Dis negatief vir die betalingsbalans.

Met ’n groter invoervermoë sal Suid-Afrikaanse vulstasies dalk egter uiteindelik aan motorvervaardigers die hoëspesifikasiebrandstof kan lewer wat moderne enjins vereis. Dit kan beteken die jongste gevorderde enjintegnologie wat motoriste in onder meer Europa kan geniet, kan dan gouer ook in Suid-Afrikaanse motormodelle gebruik word.

Suid-Afrika moes al in 2017, nadat vroeëre sperdatums ook al misgeloop is, na sogenaamde Clean Fuels II-spesifikasies oorgeslaan het. Dit stem ooreen met Euro 5-brandstofstandaarde, teenoor die huidige Euro 2, waarmee plaaslike motoriste tevrede moet wees.

Wat is Euro 5?

Euro 5-standaarde behels dat die swaelinhoud in sowel petrol as diesel na tien deeltjies per miljoen verlaag word. Tans het die “skoonste” diesel by vulstasies 50 deeltjies swael per miljoen en gewone diesel het 500 deeltjies per miljoen.

Tot dusver was plaaslike brandstofmaatskappye traag om die miljarde rande te bestee om hul raffinaderye aan te pas sodat dit die skoner brandstof kan produseer, want die regering en die bedryf stamp kop oor presies hoe die koste daarvan verhaal moet word.

Die koste vir die nodige opgraderings is al op meer as R65 miljard geraam.

“Die mark sal die bedryf eenvoudig dwing om na die hoër spesifikasies te skuif en Engen se invoerpunt sal goed vir dié skuif geposisioneer wees,” sê Yusa Hassan, uitvoerende hoof van Engen.

Yusa Hassan, uitvoerende hoof van Engen.

Die sluit van die Engen-raffinadery sal ook ’n groot bydrae lewer om Suid-Afrika se kweekhuisgasvrystellings te verlaag, het Hassan in ’n onderhoud met Bloomberg gesê.

Die nuus oor die omskepping van die raffinadery na ’n invoereindpunt het bekend geword in ’n voorlegging deur amptenare van die departement aan die parlement se portefeuljekomitee oor minerale energie verlede week.

Engen het daarna die besluit bevestig.

LEES OOK: Engen wil Durban-raffinadery sluit

Volgens Hassan het die raffinadery die afgelope dekade meestal verliese gely. Dit sal te duur wees om die raffinadery, wat in 1954 gebou is, op te knap vir die hoër brandstofspesifikasies, sê hy.

Glencore, eienaar van die Altron Energy-raffinadery in Kaapstad, en Shell en BP, eienaars van die Sapref-raffinadery in Durban, sal waarskynlik Engen se planne fyn dophou.

Die Altron-raffinadery is ná ’n ontploffing in Julie 2020 gesluit en sal na verwagting eers teen 2022 weer brandstof produseer.

Engen, wat aan die Maleisiese staatsoliegroep Petronas behoort, gaan sy raffinadery teen 2023 in ’n invoereindpunt verander om die volhoubaarheid van die onderneming te bevorder, sê Hassan.

Engen se raffinadery is reg langs ’n woonbuurt in Merebank, Durban.

Beperkte bedrywighede sal intussen voortgaan, poste sal behou word en ’n deel van die perseel kan dalk in ’n nywerheidspark omskep word.

Engen se besluit is in pas met ’n internasionale tendens waar kleiner en ouer raffinaderye nie meer met groot nuwe raffinaderye kan meeding nie. ExxonMobil gaan sy Altona-raffinadery naby Melbourne, Australië, ook na ’n invoereindpunt omskakel en hy oorweeg dieselfde met ’n raffinadery in Noorweë.

Die Covid-19-pandemie se perk op reise het brandstofverkope verlede jaar skerp laat val en daar is boonop kommer dat brandstofverbruik straks nooit weer na vorige hoogtepunte sal terugkeer nie namate reëls oor klimaatsverandering verbruikers van tradisionele brandstowwe probeer wegdwing.

Impak van sanksies teen Iran

Hasssan verduidelik die Engen-raffinadery sukkel al sedert Amerikaanse sanksies teen ruolie van Iran. Die raffinadery is juis ontwerp om Iranse olie te verwerk en moes noodgedwonge na ’n mengsel van ander soorte ruolie oorskuif.

Dit maak meer sin om bloot brandstof in te voer, want dis die helfte gouer.

Engen het ook gedurig raas gekry van die omliggende gemeenskap en omgewingsgroepe in Durban weens gesondheids- en besoedelingsprobleme in die woonbuurt reg langs die raffinadery.

Die raffinadery lewer luidens ’n verklaring van Engen Vrydag sowat 17% van Suid-Afrika se brandstof.

Die volume brandstof wat deur die nuwe invoerpunt ingevoer sal word, sal afhang van hoe Engen sy vulstasienetwerk uitbrei, sê Hassan.

Engen het meer as 1 000 vulstasies in Suid-Afrika en nog 230 in buurlande.

Meer oor:  Engen  |  Durban  |  Petrol  |  Brandstof  |  Diesel  |  Raffinadery  |  Ruolie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.