Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Engen sluit vir eers raffinadery in Durban
Petrol stations
Engen gaan sy raffinadery in Durban sluit.

Die brandstofmaatskappy Engen het weens die nasionale inperking sy raffinadery in Durban tydelik gesluit en sowat 600 werkers is huis toe gestuur, het Engen aangekondig.

Weens die beperking op enige padvervoer buiten vir noodsaaklikhede, word ’n skerp afname in brandstofverkope verwag en Engen het besluit om van 27 Maart af sy raffinadery se bedrywighede af te skaal.

“Ons ervaar reeds ’n laer vraag en verwag dat selfs nog kan verlaag, wat ons dwing om ons raffinadery veilig af te sluit,” sê Yusa Hassan, uitvoerende hoof van Engen.

Engen se brandstofvoorraad het dus weens die laer brandstofverkope vinnig begin ophoop.

Hassan sê Engen sal nou meer brandstof van die binnelandse raffinaderye aankoop om te help sorg dat hulle steeds met produksie kan voortgaan. Dit is ’n verwysing na die Natref-raffinadery in Sasolburg wat gesamentlik deur Sasol en Total bedryf word, asook Sasol se brandstofaanleg op Secunda.

Die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfvereniging (Sapia) het nog nie gereageer op navrae oor die sluiting van ander raffinaderye nie. Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van Sapia, het wel verlede week in ’n verklaring gesê die bedryf sal voortgaan om tydens die inperking brandstof te produseer, in te voer, en per pad, spoor en pypleiding te versprei.

Jonathan Molapo, uitvoerende hoof van Astron Energy, wat die raffinadery in Milnerton in Kaapstad bedryf, wat voorheen aan die Amerikaanse oliereus Chevron behoort het, het in ’n verklaring bevestig dat sy bedrywighede voortgaan en sy sowat 850 Caltex-vulstasies landwyd steeds van brandstof voorsien sal word.

Engen se meer as 1 000 vulstasies landwyd sal ook steeds van brandstof voorsien word, het Hassan bevestig.

Derek Campbell, uitvoerende hoof van Energy & Natural Resource Security, waarsku intussen dat terroriste, misdadigers, kuberkrakers en vandale die huidige onsekere omstandighede kan uitbuit en dat energiemaatskappye in Afrika moet seker maak dat hul stelsels en infrastruktuur veilig gehou word.

Oliepryse val steeds

Terwyl Suid-Afrikaanse brandstofpryse Woensdag verlaag is, daal internasionale oliepryse steeds. Brent-ruolie in Londen is byna 6% laer op $24 per vat en Amerikaanse oliepryse het met byna 2% gedaal tot $20 per vat.

Oilprice.com berig internasionale olieproduksie kan weens die impak van die korona-pandemie vanjaar ineenstort. Amerikaanse oliepryse is op hul laagste vlak in 18 jaar, en die internasionale olievraag kan met meer as 20 miljoen vate per dag daal, volgens JBC Energy.

In Texas het pypleidingsoperateurs die produsente van olie uit skalierots gewaarsku om produksie af te skaal want daar is nie meer plek in die pypleidings, opgaartenks en raffinaderye nie.

Oliepryse val nou nie net meer weens die aanvanklike prysoorlog tussen Saoedi-Arabië en Rusland nie, maar ook weens die skerp val in aanvraag. Vir veral olieproduserende Afrikalande soos Angola, Senegal, Nigerië, Ghana en Kameroen sal die lae olieprys pynlik wees omdat hul ekonomieë so afhanklik is van inkomste uit olie-uitvoer om hul begrotings te laat klop.

Volgens die African Energy Chamber het Angola sy nasionale begroting reeds hersien en is kapitaalbesteding gestaak. Senegal sukkel nou om finansiering te kry vir sy eerste groot olie-ontwikkeling, Nigerië verwag aansienlike verliese asook vertragings en kansellasies van meer as $58 miljard se olieprojekte.

Ghana en Kameroen verwag ook vertragings en kansellasies by olieprojekte.

Meer oor:  Engen  |  Staat Van Inperking  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.