Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
'Erge beurtkrag' tot 2023 verwag
Eskom het Woensdag weer gewaarsku die kragnetwerk is onder vreeslike druk. Foto: Unsplash

Kragonderbrekings gaan oor die volgende twee jaar net vererger, waarsku ’n WNNR-navorser.

As 2019 se beurtkrag erg was, kan dit in 2021 dubbeld so erg wees, en in 2022 drie keer soveel as in 2019, wys die jongste navorsing deur die WNNR.

Dr. Jarrad Wright van die WNNR het Woensdag op ’n webinaar saam met GreenCape gewys beurtkrag kan verbruikers en die ekonomie nog vir tot drie jaar erg knou tensy belangrike besluite geneem en dringend opgetree word.

Maar die energiekommentator Chris Yelland meen dit lyk nie of die regering die krisis besef nie en daar is nie ’n sin vir dringendheid nie. Waar die regering se planne vir Eskom en sy geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) gegrond is op ’n energiebeskikbaarheidsfaktor van 70% of meer, is die realiteit dat Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor vanjaar gemiddeld op 66% was, en dit gaan net verswak en nie verbeter nie.

Dié faktor is die persentasie van kragopwekkingsvermoë wat op enige gegewe tyd beskikbaar is om elektrisiteit te lewer.

In Januarie het Wright en Joanne Calitz van die WNNR in ’n navorsingstuk nog gereken 2019 se beurtkrag was die ergste tot nóg toe, met 1 352 gigawatt-uur (GWh) se elektrisiteit wat nie gelewer is nie – oftewel 530 uur van beurtkrag.

Maar met beurtkrag wat in Januarie tot Maart vanjaar en toe weer in Julie toegeslaan het, is 2020 alreeds erger as 2019. Ná sewe maande van 2020 is 1 383 GWh se elektrisiteit nie gelewer nie, wat reeds erger as verlede jaar se syfer is, het Wright gewys.

beurtkrag

Die kragsituasie sal na verwagting eers teen 2023 herstel namate nuwe kragstasies in bedryf kom, wat ingevolge die IRP2019 beoog word. Wright waarsku egter dat die departement van minerale bronne en energie ook met sy spesiale noodkragprogram sal moet opskud. ’n Amptelike versoek om voorstelle van die departement hieroor, word binne enkele weke verwag.

Die WNNR se vooruitsig neem reeds laer kragvraag ná die Covid-19-pandemie en die meegaande inperking in ag. Die WNNR glo ook soos Yelland dat Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor eers sal verswak voordat dit verbeter. Yelland verduidelik die diepgaande instandhouding wat Eskom in April sou begin, wat toe na Julie uitgestel is, het weens die Covid-19 inperking nou nog nie begin nie.

Benewens die noodkragprogram en die IRP2019 sal ’n grootskaalse reaksie van kragverbruikers vereis word, waarsku Wright. Hy stel voor soveel moontlik ondernemings en huishoudings moet so gou moontlik hul eie kragvoorsiening ontwikkel.

Eskom het nog nie op navrae hieroor gereageer nie, behalwe om Woensdagmiddag te waarsku dat die risiko vir beurtkrag vir die res van die week hoog is weens vertragings om vyf opwekkingseenhede te herstel, en twee ander eenhede wat uitgeskop het.

Meer oor:  Wnnr  |  Eskom  |  Kragopwekking  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.