Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: 10 dinge wat ons nou weet
Eskom se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg.

Eskom was die afgelope week in die nuus, meestal omdat hy daagliks landwyd beurtkrag ingestel het.

Hy het die afgelope paar weke verskeie mediakonferensies gehou om die publiek oor die stand van sake in te lig.

Hier is tien dinge wat Suid-Afrikaners nou weet:

1. Staatskaping

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het op 6 Desember erken staatskaping is deels verantwoordelik vir die probleme by Eskom.

“Suid-Afrika betaal nou die prys vir die staatskaping van Eskom en die verouderde kragstasies,” het hy Donderdag op ’n mediakonferensie by Megawatt Park in Johannesburg gesê.

2. Betaal is die wet van ...

Dit is duidelik dat betaal nie net die wet van Transvaal gaan wees nie, maar die Suid-Afrika.

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom se direksie, het op 28 November met die bekendmaking van die kragverskaffer se resultate vir die ses maande tot einde September gewaarsku Suid-Afrikaners sal moet betaal vir die skade by Eskom.

“Ek haat dit om dit te sê, maar ons gaan pyn ervaar. Ons het nie ’n keuse nie.

“Iemand gaan moet betaal, of dit ons klante is en of dit die verbruiker is, iemand gaan móét betaal.”

Eskom het in September sy jaarlikse aansoek om ’n prysverhoging by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien.

Hy wil sy kragprys met 15% verhoog.

Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof, sê Eskom verwag ’n verlies van sowat R15 miljard vir die huidige boekjaar.

3. Skuld

Eskom se skuld beloop R419,2 miljard teenoor R367 miljard ’n jaar gelede, sê Cassim.

Die staat het reeds waarborge van sowat R350 miljard aan Eskom vir dié skuld gegee.

Die eerste week van Desember was daar gerugte dat Eskom die tesourie wil vra dat die staat R100 miljard van sy skuld oorneem.

Natasha Mazzone, DA-LP, sê as dit waar is, sal dit die grootste reddingsboei vir enige staatsonderneming wees.

“Dit sal alle vorige reddingsboeie in die skadu stel.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het egter vroeër gesê Eskom moet internasionale effektemarkte nader eerder as om te vra dat die staat weer eens ’n reddingsboei aan hom gee.

4. Steenkool

Die kragverskaffer waarsku lank reeds dat ’n tekort aan steenkool by van sy kragstasies die risiko van beurtkrag verhoog.

Hadebe het op die oorsig van die stand van die kragnetwerk gesê tien van Eskom se steenkoolkragstasies het steenkoolvoorraad van minder as 20 dae en die voorraad by sommige kragstasies is so min as vyf dae.

Eskom se eie vereiste is om voorraad vir minstens 20 dae te hê.

Hadebe het egter laat in November in die parlement gesê dit lyk of dié probleem dalk vinnig iets van die verlede sal wees.

Hy het aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê verskeie nuwe kontrakte is onderteken om steenkool te kry.

Dit kom nadat hy glo gesukkel het met steenkool wat hy by die Guptas se Tegeta-myne moes kry.

Eskom gee al geruime tyd dié myne die skuld vir sy steenkooltekort.

Hy beplan om miljoene tonne steenkool wat by sy Medupi-kragstasie in Limpopo opgegaar is, per spoor na Mpumalanga te vervoer.

5. Ondersoeke

Hadebe sê Eskom is steeds besig met ondersoeke na ongerymdhede en bedrog by Eskom.

Hy het by die voorlegging van Eskom se halfjaarresultate gesê 14 senior bestuurders het reeds die Eskom verlaat en 12 strafregtelike klagte is ingedien.

Eskom het 1 049 klagte van ongerymdhede ondersoek, waarvan 858 reeds afgehandel is. In dié proses het 99 werknemers Eskom verlaat.

Eskom werk ook saam met owerhede om te besluit watter stappe teen die konsultantefirma McKinsey gedoen gaan word.

McKinsey het reeds R902 miljoen aan Eskom terugbetaal. Hy het egter nog nie die rente daarop terugbetaal nie.

6. Beurtkrag

Eskom waarsku reeds geruime tyd dat beurtkrag vir ’n ruk aan die orde van die dag gaan wees.

Beurtkrag word sedert 1 Desember daagliks toegepas.

Gordhan sê hy hoop egter dat Eskom sy probleme in só ’n mate kan hanteer dat die ligte wel teen Kersfees aan sal kan bly.

Eskom maak nou nie net voorsiening vir vier fases van beurtkrag nie, maar tot agt.

Dié nuwe fases is op 14 November gepubliseer en is glo ’n vereiste volgens die Wet op Rampbestuur.

7. Instandhouding

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het in November gesê onbeplande instandhouding is ’n enorme probleem.

Eskom het die afgelope jare nooit sy begroting vir instandhoudingswerk verhoog nie. As inflasie ingereken word, het die besteding aan instandhouding gedaal.

Die gevolg is dat noodinstandhoudingswerk gereeld gedoen moet word.

“Die status van die stelsel reflekteer die besluite wat by Eskom geneem is. Ons onbeplande instandhouding is heeltemal te hoog,” sê hy.

Eskom beplan 59 kragonderbrekings by verskeie van sy kragstasies tot in Desember 2019 om instandhoudingswerk te doen. Dié werk gaan hom R11,5 miljard uit die sak jaag.

8. Planne

Gordhan sê Eskom se topbestuur is besig om ’n noodplan op te stel oor wat in die volgende vyf jaar gedoen moet word. Dit sal later aan ’n groep deskundiges voorgelê word om te bepaal of dié planne haalbaar is.

Pres. Cyril Ramaphosa sal binnekort ’n interministeriële taakspan aanstel om Eskom te help.

Hadebe het op 16 November Eskom se nege-punt-plan bekendgemaak oor hoe om bedryfsprobleme op te los.

Hy wil onbeplande instandhouding onder beheer kry, die regte mense met die regte vaardighede in die regte poste aanstel en bestuurders van kragstasies verantwoordelik hou vir wat by die aanlegte gebeur.

9. Medupi en Kusile

Gordhan sê daar is probleme met die ontwerp en die toerusting van dié kragstasies.

Forensiese ondersoeke is aan die gang om te bepaal wie hiervoor verantwoordbaar gehou moet word.

Hadebe sê Eskom sal waarskynlik nóg R1,5 miljard moet bestee om seker te maak hulle werk.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, sê die kragverskaffer verwag nou dat Medupi hom R135 miljard en Kusile hom R157,5 miljard gaan kos.

Hadebe sê hoewel hulle besef daar is gewoonlik probleme wanneer ’n nuwe kragstasie in bedryf gestel word, is hulle teleurgesteld oor die omvang van die probleme by Kusile en wat dit Eskom gaan kos om dit reg te stel.

10. Munisipale skuld

Die totale munisipale skuld aan Eskom het einde Oktober op R18 miljard gestaan.

Soweto is die plek wat Eskom die meeste geld skuld. Dit het van R5,6 miljard op 30 September 2017 tot R12,5 miljard ’n jaar later gestyg.

Eskom

Meer oor:  Eskom  |  Pravin Gordhan  |  Jabu Mabuza  |  Phakamani Hadebe  |  Steenkool  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.