Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: 130% meer olie vir kragstasies gebruik

Eskom moes in die 2019-’20-tariefjaar meer as dubbel soveel brandstofolie as verwag gebruik om sy kragstasies ná kragonderbrekings aan die gang te kry.

Stoom trek uit die koeltorings van Eskom se Duhva-steenkoolkragstasie. Foto: Reuters

Dit is van die fynere besonderhede in Eskom se jongste aansuiweringsaansoek vir R8,4 miljard se ekstra inkomste.

Dit dui op die vrugte wat Eskom nou pluk van verouderde kragstasies en die onbedoelde gevolge van beurtkrag.

Onverkoopte krag

Sowat 4,5% van die elektrisiteit wat Eskom in sy 2019-’20-tariefjaar in steenkoolkragstasies opgewek het, kon hy nie verkoop nie.

Dit verteenwoordig 8 698 GWh (gigawatt-uur) se elektrisiteit wat opgewek is terwyl kragopwekkingseenhede besig was om aan die gang te kom. Dit is wanneer nuwe eenhede met die netwerk gesinchroniseer moet word, of waar eenhede vir instandhouding of herstelwerk afgeskakel was.

Dit verduidelik deels hoekom Eskom in dié jaar wel meer elektrisiteit opgewek het as wat aanvanklik verwag is, maar steeds minder krag verkoop het.

Minder steenkool gekoop

Syfers uit Eskom se terugwerkende aansuiweringsaansoek vir die 2019-’20-tariefjaar wys hy het R64,547 miljard betaal vir byna 120 miljoen ton steenkool.

Dit was sowat 12,2 miljoen ton minder as wat hy in sy oorspronklike tariefaansoek verwag het om te koop, en waarvoor hy R73,8 miljard sou betaal.

Dit kom daarop neer dat Eskom in die betrokke jaar R541 per ton aan steenkool bestee het, wat 4% minder is as sy verwagte prys van R562 per ton, en hy het R9,3 miljard minder as verwag aan die aankoop van steenkool bestee.

Meer water

Eskom het in die jaar meer water gebruik as verwag. Die steenkoolkragstasies het 51,624 miljard liter meer water as verwag gebruik. Dit is weens verouderde waterinfrastruktuur wat nie in stand gehou is nie, asook minder kragopwekking in die kragstasies  – die droëverkoelingkragstasies Medupi, Kusile en Kendal – wat eintlik veronderstel is om minder water te gebruik.

In die oorspronklike tariefaansoek is verwag die Grootvlei- en Hendrina-kragstasies, wat oud is en meer water as die res gebruik, sou net vir ’n deel van die jaar krag opwek, maar dit is op die ou end die hele jaar gebruik.

Brandstofolie

Eskom het in die jaar R3,96 miljard aan brandstofolie en gas bestee waarmee steenkoolkragstasies aan die gang gesit word. Dit is R2,2 miljard meer as wat Nersa in 2019-’20 se tarief aan hom toegeken het.

Eskom verduidelik die aantal onbeplande en beplande afskakelings van kragstasies, en die aantal kere wat opwekkingseenhede uitskakel (trip), het tot ’n aansienlike toename in die verbruik van brandstofolie gelei.

Teenoor die 414 keer dat eenhede in die 2018-’19-tariefjaar afgeskop het, het dit in die 2019-’20-tariefjaar met byna 72% tot 711 opgeskiet.

Eskom het 525,2 miljoen liter brandstofolie in die jaar gebruik, wat 130% meer is as wat Nersa hom toegelaat het.

Só het kragverkope gekrimp

Nywerhede se laer kragverbruik word as die vernaamste rede vir Eskom se laer Suid-Afrikaanse kragverkope in 2019-’20 beskou.

Nywerhede het 3 217 GWh minder krag gebruik in die jaar, sê Eskom in sy aansuiweringsaansoek.

In totaal het hy in die betrokke jaar 2,8% minder krag aan Suid-Afrikaanse kliënte verkoop as wat Nersa verwag het – oftewel 190,5 TWh (terawatt-uur) teenoor 196 TWh.

Die ferrochroom-sektor is getref deur minder bestellings, ’n krimpende ekonomie en beurtkrag, en gevolglik het aanlegte in dié sektor aansienlik minder krag verbruik. Tubatse Alloys het skerp laer verkope ervaar, Hernic is in sakeredding geplaas en het al sy oonde gesluit, en Xtrata Wonderkop se aanleg het in Augustus 2019 gebreek.

Die feit dat Sasol sedert April 2019 sy eie krag opwek in sy aanleg vir sintetiese brandstof in Secunda, het ook tot laer kragverkope aan Sasol gelei.

In die titaniumsektor is minder krag gebruik weens die tydelike sluiting van die aanleg in Richardsbay Minerals weens onrus in die gemeenskap.

Laer produksie en afleggings by myne asook beurtkrag het tot laer kragverkope in die mynbousektor gelei

Die landbou het wel meer krag verbruik weens die landwye droogte wat boere meer water laat pomp het.

Laer verkope is onder Eskom se regstreekse residensiële kliënte aangeteken, volgens hom veral weens die swak ekonomie wat gelei het tot minder besteebare inkomste, werkloosheid en die toename in kragdiefstal en bedrog met kragkooptoestelle.

Meer oor:  Eskom  |  Kragkrisis  |  Olie  |  Kragstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.