Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: 4 vorms later, R9,7 mjd. te veel betaal

Net vier vorms wat onderteken is sonder dat dit enige goeie redes bevat, het beteken dat Eskom R9,7 miljard te veel vir ’n enkele kontrak betaal het.

Eskom se Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Elvira Wood

Dit blyk uit ’n voorlegging wat Eskom Vrydagoggend aan die parlement se staande komitee oor openbare rekenings (Skoor) voorgelê het.

Bob Sookrajh, hoof van interne oudits by Eskom, het aan Skoor verduidelik dat hul ondersoeke wys dat die delegering van toestemmingsvorms gebruik is om die waarde van die kontrak tussen Eskom en Black and Veatch van R2,47 miljard tot R12,18 miljard te verhoog.

Dié vier vorms is tussen April 2010 en April 2016 onderteken.

Sookrajh het verduidelik dat dié vorms glad nie vir dié doel gebruik mag word nie. Hy sê dit word gewoonlik gebruik om aanpassings van minder as 10% van die totale kontrakwaarde te doen nadat behoorlike prosesse gevolg is.

In dié geval, sê Sookrajh, kry hulle geen bewyse dat enige prosesse gevolg is of dat selfs behoorlike redes gegee is vir waarom die kontrakwaardes aangepas is nie.

Die twee grootste bedrae waarmee die kontrakte verhoog is, beloop R3,18 miljard in Augustus 2011 en R4 miljard in Maart 2013.

Black and Veatch is in 2005 deur Eskom gekontrakteer om die bouwerk van die Kusile-kragstasie te bestuur, en sou R75 miljoen daarvoor kry. Dié kontrakwaarde het met tyd egter aanhou styg. Luidens Eskom se voorlegging beloop die totale waarde van die kontrak R12,47 miljard.

Dié kontrak het ook sentraal gestaan in ’n ondersoek na die betrokkenheid van Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, hierby.

Eskom het drie keer ondersoeke gedoen oor dié aangeleentheid, en elke keer bevind dat Oberholzer hom nie skuldig gemaak het aan ongerymdhede nie.

LEES OOK: Eskom sê weer: Oberholzer het niks verkeerd gedoen

André de Ruyter, uitvoerende hoof, het aan Skoor gesê dat Eskom nou die ondersoek oor die kontrak met Black and Veatch aan die Spesiale Ondersoekeenheid oorhandig.

Hy sê dit is ’n uiters komplekse ondersoek en dat kenners se insette nodig is.

De Ruyter sê waar nodig, sal Eskom regstappe doen teen oortreders, hetsy of hulle by Eskom werksaam is/was en/of by Black and Veatch.

Buiten vir die ondersoek na die oorbetaling aan Black and Veatch, werk Eskom ook saam met die owerhede om ander beweerde oorbetalings te ondersoek. Dit sluit in:

  • R1 miljard aan ABB;
  • R735 miljoen aan Tenova Mining and Minerals;
  • R450 miljoen en R163 miljoen aan Tubular Construction Projects;
  • R400 miljoen aan General Electric;
  • R1 miljard aan die vennootskap van Stefanutti Stocks en Basil Read; en
  • R180 miljoen in kleiner betalings aan ander verskaffers.
Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Skoor  |  Elektrisiteit  |  Staatskaping  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.