Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom aan Moody’s: ‘Ons doen als wat ons kan’
Jabu Mabuza
Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, wat nou ook vir drie maande as uitvoerende hoof sal waarneem terwyl na ’n nuwe hoof gesoek word.

Eskom is “teleurgesteld” dat sy “diep deurdagte pogings” om die nutsmaatskappy te red, nie ’n verdere kredietafgradering van Moody’s Investors Service kon afweer nie.

In ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is, sê Eskom die huidige direksie doen sy uiterste bes om die “korporatiewe-bestuursprobleme van die vorige regime” om te keer.

Moody’s het Maandag Eskom se skuld wat nie deur die staat gewaarborg word nie, nóg verder, tot B3, afgegradeer – ses vlakke onder beleggingsgraad en net een vlak bo ’n C-klas van graderings wat dui op dreigende wanbetaling.

Eskom se onafhanklike kredietgradering is ook afgegradeer tot Caa3. Dit is die derde laagste vlak moontlik.

Jabu Mabuza, waarnemende uitvoerende hoof en voorsitter van Eskom, verduidelik egter dat die verskeie regrukplanne wat onlangs ter tafel gelê is om Eskom weer op koers te kry, sy vermoë om sy krediteure te betaal sal verseker.

Eskom het tans ’n skuldlas van R450 miljard en betaal gemiddeld R85 miljard per jaar oor die volgende drie jaar om dié las te dek.

Eskom sê hy is “versigtig optimisties” dat hy sy skuldverantwoordelikhede sal kan nakom, veral omdat die staat sowat R138 miljard se reddingsboeie oor die volgende drie jaar aan hom beloof het.

Maar Moody’s draai nie doekies hieroor om nie.

In sy hersiening van Eskom se kredietgradering sê die kredietgradeerder uit en uit dat nie reddingsboeie, staatswaarborge of die talle regrukplanne vinnig ’n verskil sal kan maak nie.

Moody’s waarsku dat selfs met die spesiale Eskom-besprekingsdokument, geïntegreerde hulpbronplan (IRP) en ander regrukplanne vir die nutsmaatskappy, sal dit “waarskynlik steeds nie veel meer as klein veranderinge op mediumtermyn kan meebring nie”.

Dit sal veral nie Eskom se bedryfs- of finansiële probleme direk kan aanpak nie, maan Moody’s, al is die planne positief en ambisieus.

LEES OOK: Cyril paai beleggers oor Eskom, staatskuld

Mabuza bly egter vasbeslote dat die planne kan werk.

“Ons erken die kommer wat Moody’s het, maar werk steeds nou saam met belanghebbende departemente om die huidige uitdagings op te los,” sê Mabuza.

“Watter opsie ook al in werking gestel word deur die ontbondelingsprosesse, ons sal verseker dat ons krediteure nie in die gedrang kom nie en dat die uitvoering van die opsies onder aanvaarbare wetlike raamwerke geskied.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.