Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom aangekla oor hy mislei oor besoedeling

Eskom, die grootste lugbesoedelaar in Suid-Afrika, gaan strafregtelik aangekla word oor die lugbesoedeling wat by sy Kendal-steenkoolkragstasie in Mpumalanga plaasvind.

Die Kendal-steenkoolkragstasie naby Witbank. Foto: Brand South Africa

Chris Yelland, ’n kragsektorkenner op Moneyweb, berig Barbara Creecy, die minister van omgewing, bosbou en visserye, het Eskom in kennis gestel van die besluit deur die staatsaanklaer om hom strafregtelik te vervolg oor die lugbesoedeling by Kendal.

Eskom het aan Bloomberg bevestig die klagte hou verband met misleidende inligting wat aan ’n lugbesoedelingsamptenaar verskaf is, dat die kragstasie sy perke vir uitlaatgasse oorskry het en dat hy die voorwaardes van sy atmosferiese-uitlaatgas-lisensie oortree het.

Volgens Eskom gaan die saak op 28 Januarie aangehoor word.

Die kragstasie se besoedelingverlagingstoerusting is in 2018 tydens ’n staking beskadig.

LEES OOK: ‘Straf kragstasie oor hy inwoners vergif’

Sedertdien het die departement van omgewing talle bevele oor die spesifieke probleem uitgereik.

Die probleem by Kendal het die kragverskaffer se lugbesoedeling tot die hoogste vlak in 20 jaar verhoog.

Eskom dra ’n groot deel van die kweekhuisgasse by wat in Suid-Afrika vrygestel word.

Die departement het reeds opdrag gegee dat die aanleg gedeeltelik gesluit word sodat regstellende stappe geneem kan word.

“As die hof die wet toepas en die maatskappy word gestraf vir dié oortreding gaan dit ’n mylpaal wees wat bereik word,” sê Lauri Myllyvirta, hoofontleder van die onafhanklike navorsingsliggaam, die sentrum vir navorsing oor energie en skoon lug.

“Eskom het vereistes oor uitlaatgasse oortree en geïgnoreer sonder om gestraf te word. Enige stap om die maatskappy aanspreeklik te hou is ’n wesenlike een vorentoe.”

Eskom het in die verlede aangevoer as Kendal gesluit word, gaan dit tot die land se kragprobleme bydra.

Daily Maverick het berig Eskom het in ’n interne ondersoek bevind dat Kendal gereeld tien keer die vereiste stofdeeltjies vrygestel het wat toelaatbaar is.

Die besoedeling het van die begin van 2018 tot Oktober 2019 al tot 274 sterftes gelei, toon ’n verslag wat namens die Kaapstadse sentrum vir omgewingsregte bekend gemaak is.

“Die feit dat die regering optree teen bewyse van strafregtelike gedrag stuur ’n belangrike boodskap aan Eskom se ander kragstasies,” meen Timothy Lloyd, ’n prokureur van die sentrum.

Die departement van omgewing het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. – Bloomberg, bygewerk

Meer oor:  Eskom  |  Kragstasie  |  Staatsaanklaer  |  Lugbesoedeling  |  Klagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.