Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Banke kan staat tot drastiese stappe dwing

As die regering instem tot Eskom se voorstel om R100 miljard van sy skuld oor te neem, kan dit die staatskuld-tot-BBP verhouding met 1,9% verhoog en die tesourie se koste om rente op skuld te betaal met 0,3 persentasiepunt opstoot.

eskom
Eskom se R100 miljard skuld is ’n enorme risiko vir die staat se geldsake.

Dit is die gevolgtrekking van die ontleder Peter Attard Montalto.

Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex in Londen, meen so ’n stap sal die rand laat verswak en kan die kredietgraderingsagentskap Moody’s net oortuig om Suid-Afrika af te gradeer.

Montalto is skepties of die nasionale tesourie hoegenaamd sal instem tot die oorname van Eskom se skuld sonder dat Eskom sy koste drasties sny, byvoorbeeld deur sowat 16 000 poste te sny soos wat skynbaar in ’n konsepregrukplan genoem is.

Die regering sal wegskram van so ’n groot besnoeiing van poste voor 2019 se verkiesing, uit vrees vir vakbonde se reaksie en moontlike sabotasie soos wat tydens die loonstaking vroeër vanjaar plaasgevind het.

Montalto verwag wel banke sal die regering na die verkiesing bykans dwing tot die ongewilde stap om Eskom sy oortollige poste van sowat 16 000 oor ’n tydperk van drie jaar te laat sny, want hulle sal weier om verder geld aan Eskom te leen tensy daar ’n deeglike regrukplan is.

Montalto meen nie staatskaping het veel te doen met die huidige beurtkrag nie. Die Gupta-verwante staatskaping kry te maklik die skuld vir Eskom se probleme en het volgens hom net ’n klein bydrae gelewer tot Eskom se stygende skulddienskoste wat nou al by R45 miljard per jaar trek.

Wat volgens hom meer tot Eskom se skuldlas bygedra het is die regering se beleid om politiek-verbinde kontrakteurs en tussengangers aan te stel, stygende koste by Medupi en Kusile, en swak konstruksie by laasgenoemde twee bouprojekte.

Hy glo die regering se ontwikkelingstaat-beleid het daartoe bygedra dat Eskom meer as wat nodig is vir brandstof, komponente en ander insette betaal. Dit was om bemagtiging te stimuleer, ongeag die voorkoms van vertoonvenster-bemagtiging en waar geen waarde toegevoeg is deur bemagtigingsvennote nie.

Eskom het volgens Montalto soveel as ’n derde meer as wat nodig is vir sy steenkool van bemagtigingsverskaffers betaal.

Hierdie kwessies is so sentraal tot die regeringsbeleid dat dit egter nooit sal weggaan solank as wat Eskom aan die staat behoort nie.
Peter Attard Montalto

“Hierdie kwessies is so sentraal tot die regeringsbeleid dat dit egter nooit sal weggaan solank as wat Eskom aan die staat behoort nie.”

Montalto meen dus dit sal geen verskil maak om Eskom in twee dele te verdeel solank as wat die beleid en ’n monopolistiese ingesteldheid bestaan nie.

Peter Attard Montalto van Intellidex.

Hy glo om Eskom reg te ruk is ’n ernstige skok nodig, byvoorbeeld deur al die oortollige poste te sny, kragtariewe wesenlik te verhoog, sy skuld te herstruktureer en dan hom laat meeding in ’n gedereguleerde energiemark teen nuwe private kragopwekkers.

Eskom moet dan toegelaat word om stadigaan te krimp namate uitgediende kragstasies gesluit word. Die kansellasie van die bou van oorblywende opwekkingseenhede by Kusile en Medupi is volgens Montalto ’n goeie begin vir so ’n proses.

Chris Hattingh, ’n navorser by die Vryemarkstigting, waarsku mense moet onthou enigiets wat die staat finansier is eintlik deur belastingbetalers gefinansier.

Waar ’n onderneming soos Eskom met staatsteun aan die gang gehou word, is dit telkens die gevolg van sosialisme en staatsbeheer as beurtkrag toegepas word. Wanneer die regering soveel mag oor mense se lewe kry het enige misbruik of mislukking van daardie mag ’n vernietigende effek op die hele ekonomie.

Volgens Bloomberg het die internasionale bankgroep Morgan Stanley voorgestel die nasionale tesourie kan eerder aanbied om vir ’n tydperk Eskom se rente op sy skuld namens hom te betaal, pleks van om R100 miljard se Eskom-skuld net so by hom oor te neem.

Dit kan Eskom se kontantvloei verbeter teen ’n laer koste vir die regering.

Meer oor:  Eskom  |  Peter Attard Montalto  |  Bbp  |  Elektrisiteit  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.