Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom wil begin krag in battery berg
Kragpale naby ’n kragsentrale. Foto: Bloomberg

Een van Eskom se projekte om batterye saam met hernubare krag in te span, sal byna 10% van die Wes-Kaap se vraag na elektrisiteit kan stoor.

Dit is genoeg om fase een-beurtkrag af te weer.

Dié projek sal na verwagting teen einde Desember 2021 voltooi wees en is deel van Eskom se plan om batterye in te span om die elektrisiteit wat hernubare bronne opwek, te stoor vir gebruik wanneer dit benodig word.

Eskom het Woensdag ’n voorlegging in die Wes-Kaapse wetgewer gedoen oor sy energiestrategie vir die provinsie en projekte vir hernubare krag en instandhouding.

Alwie Lester, hoofbestuurder van Eskom in die Wes-Kaap, het gesê die batterystelsel om energie te berg (BESS) is deel van die ooreenkoms met die Wêreldbank vir die finansiering van die Medupi- en Kusile-kragstasies.

Die ooreenkoms maak voorsiening vir ’n venstertydperk van vyf jaar waartydens Eskom-personeel die vaardighede moet aanleer om die batterystelsel self in stand te hou.

Alwie Lester, hoofbestuurder van Eskom in die Wes-Kaap.Foto: Deon Raath

“Ons het nie tans die vermoë om die stelsel te bou en in stand te hou nie. Dit is nie gewone batterye nie. Dit is omtrent so groot soos ’n skeepsvraghouer en elke projek sal ’n paar daarvan hê.”

Lester het gesê daar is ’n aanvoorprojek in die Weskus naby die Sere-windplaas en by die Oesterbaai-windplaas in die Oos-Kaap as deel van fase 1 van die battery-projek.

Dié liggings is gekies omdat omgewingsgoedkeuring reeds daarvoor verkry is.

Teen einde Desember 2020 behoort die aanvoorprojek in die Wes-Kaap al 50 megawatt (MWh) te kan stoor.

Die meeste van die projekte in die tweede fase is ook in die Wes-Kaap omdat daar voldoende wind is en ook moontlikhede vir sonkrag, asook die substasie-netwerk wat dié soort energie kan hanteer.

Die tweede fase sal na verwagting teen 31 Desember 2021 voltooi word.

“Saam sal die batterye na verwagting byna 350 MWh kan stoor. Uit ’n beurtkrag-perspektief sal fase een-beurtkrag met dié stoorvermoë doeltreffend bestuur kan word.”

Eskom het die ooreenkoms in 2010 met die Wêreldbank gesluit en aanvanklik besluit om ’n gekonsentreerde sonkragaanleg van 100 MW te bou.

In 2016 het hy egter besluit om ’n alternatief te soek en voorgestel om fotovoltaïese sonpanele met batterye vir berging aan te skaf met die oog daarop om 1 440 MW te lewer.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom. Foto: Verskaf

Die projek is tans in die verkrygingstadium en verskaffers is versoek om ’n bod in te dien. Daarna sal die verskaffers se kwalifikasies nagegaan en die kontrak toegeken word.

Luidens die voorlegging word 398,6 MW windkrag en 133,8 MW sonkrag in die Wes-Kaap opgewek.

Nog windkragprojekte van altesame 558 MW word beplan by Laingsburg (140 MW), Matjiesfontein (279 MW), Touwsrivier (107 MW) en Swellendam (31 MW), wat tussen 2019 en 2021 aan die netwerk verbind sal word.

Lester het daarop gewys dat hernubare kragbronne nes ander kragbronne aan die nasionale netwerk verbind word en nie op plaaslike of provinsiale vlak elektrisiteit voorsien nie.

Eskom het ook R410 miljoen begroot vir instandhoudingswerk in die Wes-Kaap vir 2019 tot 2021, waarvan R95 miljoen al teen vandeesweek bestee is.

Volgens Lester is die instandhouding goed op dreef en is daar selde onderbesteding in die provinsie wat dié werk betref.

Dit sluit in R38 miljoen vir die bestuur van plantegroei, R25 miljoen vir die instandhouding van hout-kragpale, R162 miljoen vir voorkomende instandhouding, R60 miljoen vir grootskaalse instandhouding en roetine-instandhouding van R191 miljoen.

Sedert 1995 het Eskom 248 342 kragverbindings by wonings in die provinsie aangelê, waarvan formele elektrifisering van huise 212 231 uitmaak en 36 111 in informele gebiede is.

In die boekjaar 2018-’19 is 9 100 verbindings aangebring, waarvan 4 980 in informele en 4 120 in formele gebiede.

Daar is ook 9 314 wonings wat nie geëlektrifiseer kan word nie omdat dit onder meer op private grond, vleilande en pad- of spoorwegreserwes geleë is.

In dié gevalle werk Eskom met die munisipaliteit of provinsiale regering om dié mense te hervestig of die grond te koop sodat dit staatsgrond word om dienste te kan aanlê.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Elektrisiteit  |  Eskom  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.