Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom begin eersdaags soek na nuwe hoof
Eskom gaan binnekort begin adverteer vir 'n nuwe hoof. Foto: Getty Images

Eskom sal binnekort amptelik begin adverteer vir ’n nuwe persoon in die plek van Phakamani Hadebe, uittredende uitvoerende hoof.

Eskom het Vrydag by navraag bevestig die Eskom-direksie het eers tyd bestee om saam met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, deur die soort vaardighede te werk waaroor so ’n nuwe aanstelling sal moet beskik in die lig van die herstrukturering wat by Eskom beoog word.

“Die pos sal binnekort amptelik geadverteer word, waarna ons die normale proses sal volg om aansoeke te oorweeg. In dié stadium is geen werwingsagentskap aangestel nie.”

Eskom het beklemtoon ’n geloofwaardige tussentydse oplossing sal gevind word om Hadebe se pos te vul teen die tyd dat hy vertrek, en aankondigings hieroor sal kom wanneer die tyd reg is.

Hadebe het in Mei aangedui hy wil teen einde Julie bedank weens die negatiewe impak van die veeleisende pos op sy gesondheid.

Die herstrukturering by Eskom behels die verdeling van die kragmaatskappy in drie dele: ’n kragopwekkingsmaatskappy, ’n onafhanklike transmissienetwerk, en ’n kragverspreidingsmaatskappy.

Met die begroting in Februarie het Tito Mboweni, minister van finansies, gesê ’n herstruktureringshoof gaan by Eskom aangestel word. Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het in Junie gesê die herstruktureringshoof en sy of haar span is reeds geïdentifiseer en sal teen middel Julie aangekondig word.

Maar Gordhan het Donderdag voor sy begrotingsposdebat gesê daar word nog gepraat oor die herstruktureringshoof.

Die taak van dié persoon sal wees om binne 18 maande ’n plan op te stel oor hoe Eskom se skuld van meer as R440 miljard hanteer moet word.

Die ontknoping van Eskom sal oor twee jaar gedoen word, het Mogajane in Junie gesê.

Waarnemers het al gegis waarom ’n herstruktureringshoof nodig is en hoe die persoon met die uitvoerende hoof sal skakel. Eskom het reeds vir Jan Oberholzer as bedryfshoof aangestel om na die dag-tot-dag-bestuur van Eskom se bedrywighede te kyk sodat Hadebe kon fokus op meer strategiese kwessies.

Meer oor:  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Staatsinstellings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.