Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom betaal OBK se R5 mjd. terug
Eskom betaal Donderdag die R5 miljard wat hy by die OBK geleen het terug.

Eskom het bevestig hy betaal vandag (Donderdag) die korttermynlening van R5 miljard terug wat hy van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ontvang het.

Dit is luidens ’n WhatsApp-boodskap van Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, aan Fin24.

Eskom het Woensdag bevestig dat hy ’n kredietgerief van R20 miljard met ’n konsortium van sewe plaaslike en internasionale banke beklink het.

Dit kom ’n dag nadat Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) die kragvoorsiener se skuldgradering van B- tot CCC+ afgegradeer het.

S&P sê hy is bekommerd dat Eskom binne die volgende ses maande nie sy skuld sal kan terugbetaal nie.

Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) het in Februarie toe die OBK die lening toegestaan het, gesê hy voel “hy is verraai” omdat dit kan beteken staatsamptenare se pensioene word vasgevang in staatsondernemings wat agteruitgaan.

Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, het aan die parlement verduidelik dat die R5 miljard net ’n oorbruggingsgerief tot die einde van die maand was.

Dit sou hoër as die markverwante rente vir die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) bied.

Eskom moes rente van 7,65%, oftewel 0,75 persentasiepunte meer as die Johannesburg Interbank Ooreengekome Koers (Jibar), vir een maand op die lening betaal.

Nie die einde

Die PSA het die terugbetaling van die lening verwelkom, maar sê “dit is nog nie die einde nie”.

“Dit is steeds ’n onreëlmatige betaling . . . [ons] moet seker maak dat ’n transaksie soos dié nie weer gebeur nie,” het Tahir Moepa, adjunkhoofbestuurder, aan Fin24 gesê.

Moepa sê hulle dring steeds op die herkonfigurasie van die OBK aan.

Hy sê hulle sal egter Nhlanhla Nene, wat pas weer as minister van finansies aangestel is, ’n paar dae gee om sy voete te vind voordat hulle gaan begin dreig om met regsaksie voort te gaan.

Die vakbond was bereid om hof toe te gaan om Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, te dwing om meer arbeidsverteenwoordigers in die direksie van die OBK aan te stel.

“Ons hoop hy sal meer ontvanklik wees vir die lot van staatsamptenare en die GEPF,” sê Moepa.

Die PSA, wat meer as 200 000 staatsamptenare verteenwoordig, is ook gekant teen die aanstelling van Mondli Gungubele, die nuwe adjunkminister van finansies, as voorsitter van die direksie van die OBK.

Hulle wil iemand hê wat onafhanklik is en ’n sakeagtergrond het, eerder as ’n politikus.

S’dumo Dlamini, president van die vakverbond Cosatu, het ook die terugbetaling verwelkom. Hy sê die R1 900 miljard se bates wat deur die OBK bestuur word, is “vir die werkers”.

– Fin24

Meer oor:  Openbare Beleggingskorporasie  |  Gepf  |  Obk  |  Eskom  |  Lening  |  Kredietgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.