Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom betaal rente van meer as R70 mjd. per jaar
Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg.

Eskom betaal meer as R70 miljard per jaar aan rente op skuld, en dit is steeds aan die styg.

Dis hoekom dit steeds dringend is dat Eskom sy skuld herstruktureer, het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, Dinsdag gesê.

Hy het in die parlement aan die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê Eskom werk “aggressief” om skuld van munisipaliteite en Soweto te verhaal, en het die betalingskoers in Soweto verbeter van ’n historiese 12% tot die huidige 25%.

Eskom werk saam met die nasionale tesourie om sy verkrygingsprosesse meer vaartbelyn te maak, maar om steeds binne die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies te wees.

Eskom gaan die Hendrina-, Camden- en Grootvlei-kragstasie vir ’n langer tyd in bedryf hou as die oorspronklike datum vir sluiting.

Eskom het ook nou ’n spesiale meganisme om kundiges van buite te werf vir kritieke take in die organisasie.

Die instandhoudingsplan vir 3 200 MW se kragstasies gaan aangepas word om die nodige kritieke instandhouding te doen.

Kontrakte

Solly Tshitangano, verkrygingshoof van Eskom, sê ’n nuwe komitee is gestig om alle oortredings en onreëlmatighede met kontrakte te ondersoek. In die afgelope boekjaar is 1 536 kontrakte toegeken, en meer moeite word gedoen om betyds te identifiseer watter kontrakte verstryk en om nuwe kontrakteurs deur ’n opemarkproses aan te stel. Ekstra maatreëls is ingestel om die groot getalle afwykings en uitbreidings van kontrakte te verminder.

Tshitangano het verwys na ’n konsultasiekontrak wat in 2005 teen R100 miljoen beklink is vir advies, projekbestuur en monitering by Kusile en Medupi, maar in totaal is sowat R20 miljard al bestee aan dié kontrak.

Die afwykings van oorspronklike kontrakbedrae het ’n norm by Eskom geword en dit is baie moeilik om weg te kom van dié kultuur, waarsku Tshitangano.

Skoor-lede was omgekrap dat Tshitangano net in algemene terme praat en nie spesifieke name en voorbeelde kon noem nie.

Bedrogondersoeke

Bartlett Hewu, waarnemende hoofbestuurder by Eskom vir wetgewing en voldoening, sê die Valke en die president se spesiale ondersoekeenheid, asook die Zondo-kommissie is voortdurend besig met hul ondersoeke oor bedrog en korrupsie by Eskom, benewens Eskom se eie forensiese ondersoeke.

Sedert Skoor se besoek in 2019 is bedrogondersoeke na 40 Eskom-werknemers na die Valke verwys, is twee vorige senior bestuurders in Desember op korrupsieverwante klagtes in hegtenis geneem, en het ’n eksterne forensiese paneel hulp verleen om 261 korrupsie-ondersoeke te versnel. Dit is gevalle wat via Eskom se fluitjieblaser-hulplyn aangemeld is.

Teen einde Desember is 59 Eskom-werknemers al afgedank weens bedrog en korrupsie.

Leefstyloudits is op 370 mense in senior poste gedoen.

Die departement van openbare ondernemings help Eskom met die oudits vir die res van werknemers, sê Hewu.

Terugbetalings

Hewu het terugvoering gegee oor geld wat Eskom probeer terugkry wat bedrieglik aan kontrakteurs betaal is.

  • Die Gupta-verwante firma Trillian het nou nog nie die R585 miljoen terugbetaal wat hy bedrieglik van Eskom ontvang het nie. Eskom het regstappe teen die betrokkenes geneem, insluitende Eric Wood, ’n direkteur van Trillian.
  • Die internasionale konsultasiefirma McKinsey het R1,1 miljard terugbetaal, rente ingesluit.
  • Eskom het ’n hofsaak aanhangig teen Impulse International, wat aanvoer Eskom skuld hom R81 miljoen.
  • ’n Kontrak met Dongfang van R4 miljard vir toerusting by die Duvha-kragstasie is in dispuut en ’n bemiddelingsproses is aan die gang.
  • Deloitte Consulting het R207 miljoen by Eskom ontvang sonder ’n oop tenderproses, en Eskom is in die hof om die geld terug te kry.

Medupi en Kusile

Bheki Khumalo, hoofbestuurder vir kragopwekking, sê die laaste eenheid van Medupi is nou met die nasionale kragnetwerk gesinchroniseer. Vyf van die ses eenhede is nou al van die projekspan oorhandig aan die kragopwekkingsafdeling. Die plan is om die laaste eenheid teen die tweede kwartaal finaal te oorhandig.

By Kusile word ’n nuwe kontrakteur gesoek om steenkool-as te verwyder omdat die bestaande kontrakteur finansiële probleme ondervind. Kusile se koste is op R161 miljard bepaal en Khumalo het belowe dié bedrag sal nie verder styg nie.

Direksie afwesig

Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van Skoor, was vies dat die Eskom-direksie nie verteenwoordig was by die terugvoersessie van Eskom oor die komitee se oorsigbesoek verlede jaar by die Medupi- en Kusile-bouperseel nie. Hlengwa meen dis onaanvaarbaar en die direksie versaak sy pligte deur nie eens die komitee vooraf in te lig dat die direksie nie die vergadering sou bywoon nie.

De Ruyter sê prof. Malegapuru Makgoba, tussentydse voorsitter, het hom Maandag ingelig dat hy gekies het om nie die terugvoervergadering by te woon nie.

Volgens Hlengwa is Eskom al op 11 Februarie ingelig oor die beplande terugvoersessie.

Meer oor:  Eskom  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening  |  Staatsondernemings  |  Skuld  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.