Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: Beurtkrag is SA se voorland
André de RuyterFoto: Reuters

’n Donker 18 maande lê vir Suid-Afrikaners voor, maar dit is omdat Eskom die noodsaaklike instandhouding en herstelwerk rég wil doen.

Selfs Chris Yelland, die energiekenner wat gewoonlik baie krities is oor Eskom se gebreke, het ná ’n mediakonferensie wat André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, Vrydag gehou het, gesê dit is duidelik dat die kragverskaffer die bul by die horings wil pak.

Yelland waarsku dat Suid-Afrikaners moet besef dat beurtkrag waarskynlik baie gereelder ingestel gaan word as wat tans die geval is.

De Ruyter het by Eskom se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg, gesê die situasie by Eskom sal gereelde beurtkrag “op mediumtermyn” onafwendbaar maak terwyl broodnodige instandhoudingswerk aan die verouderde kragstasies gedoen word.

Hy het saam met Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, ’n oorsig gegee van wat die stand van sake is.

De Ruyter en Oberholzer het albei gefokus op die planne om die instandhoudingswerk uit te voer.

Dit is nodig sodat Eskom kan terugkeer na ’n siklus van instandhoudingswerk soos deur die oorspronklike vervaardigers van die kragstasies se toerusting voorgeskryf.

“Dit gaan ongelukkig beteken dat die risiko vir beurtkrag op mediumtermyn sal toeneem,” sê De Ruyter.

Hy het later in antwoord op ’n vraag gesê “mediumtermyn” beteken minstens 18 maande, hoewel dit tans nog te vroeg is om ’n vasgestelde tydperk vir die duur van die beurtkrag te verskaf.

Net vanjaar het Eskom reeds 471 keer gevalle gehad waarin die krag uitgeskop het nadat die toevoer ná instandhoudingswerk weer aangeskakel is.

“Ons moet verseker dat wanneer ’n eenheid weer in bedryf gestel word, dit aan bly. Dit help niks as ons dit uit bedryf haal en dit uitskop sodra dit weer aan­geskakel word nie,” sê Oberholzer.

Ons moet verseker dat wanneer ’n eenheid weer in bedryf gestel word, dit aan bly. Dit help niks as ons dit uit bedryf haal en dit uitskop sodra dit weer aan­geskakel word nie.

Benewens dat Eskom met ou en onbetroubare kragstasies sukkel, is daar ook probleme soos vandalisme en kabels wat gesteel word. “Die probleme met al hoe meer onwettige koppelings aan die stelsel en die gepeuter met meters neem ook toe.”

Die vier kragstasies wat die meeste probleme veroorsaak, is Tutuka, Kendal, Medupi en Arnot. “Dié vier dra by tot sowat 48% van die opwekkingsvermoë wat verloor word,” sê Oberholzer.

Eskom hou tans die land se ligte met behulp van diesel aangeskakel. Gasturbines – Eskom se noodkragopwekking – gebruik 14 liter diesel per sekonde. Eskom het sedert 1 April 2019, wat die begin van sy boekjaar is, reeds R2,5 miljard aan diesel bestee.

Nog ’n kwessie wat gister baie aandag geniet het, is die ontbondeling van Eskom. Pres. Cyril Ramaphosa het in Februarie 2019 in sy staatsrede gesê Eskom gaan in drie afsonderlike eenhede – opwekking, transmissie en verspreiding – ontbondel word.

De Ruyter het bevestig dat Eskom reeds besig is om direksies aan te wys vir die afdelings.

“Die voorstelle is by die direksie en ons hoop om binne die volgende week die direksielede aan te stel. Dan kan met die bestuur van die drie afdelings begin word.”

De Ruyter waarsku wel dat dit tyd sal neem om die ontbondeling ’n werklikheid te maak.

Hy vergelyk dié proses met dié van Old Mutual, wat drie en ’n half jaar geduur het. 

Daar is groot uitdagings en risiko’s oor hoe ons dit gaan doen. Ons trap nie die rem oor ontbondeling nie, maar eerder die petrol. Ons is net besig om die strukture op die regte manier te skep.

De Ruyter moes erg vure doodslaan oor berigte dat Eskom modulêre korrelbed-kernkragopwekkers (PBMR) wil bou nadat Eskom Donderdag ’n dokument gepubliseer het waarin ’n “uitdrukking van belangstelling” vir die PBMR’s gevra word.

Volgens De Ruyter wil Eskom nie die PBMR’s self verder ontwikkel nie, maar eerder die mark se aptyt toets om daarvan ontslae te raak.

“Ek wil dit baie duidelik stel: Ons is glad nie van plan om nuwe PBMR’s te bou nie. Ek erken ons bewoording was baie swak,” sê hy met verwysing na die dokument.

“Dit kos ons geld en ons soek iemand wat dit by ons kan oorneem.”

De Ruyter sê hy het nie die bewoording van die dokument gesien voordat dit gepubliseer is nie.

Eskom het ná die mediakonferensie ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy dit duidelik stel dat hy die tegnologie wil verkoop.

Meer oor:  Beurtkrag  |  André De Ruyter  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.