Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom dagvaar Deloitte vir R207 miljoen

Eskom het Deloitte Consulting vir R207 miljoen gedagvaar.

Jabu Mabuza, voorsitter en waarnemende uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Die kragreus sê Maandag in ’n verklaring dat hy reeds die hofdokumente vir dié eis ingedien het.

Dit gaan glo oor kontrakte wat volgens Eskom in 2016 nie na behore toegeken is nie.

Eskom vra die hof ook dat Anoj Singh, sy voormalige finansiële hoof, en Prish Govender, senior bestuurder, die koste van dié aansoek moet dra.

“Ons het Suid-Afrikaners belowe dat ons alle geld sal terugkry wat onregmatig gedurende staatskaping van Eskom bekom is,” sê Jabu Mabuza, waarnemende uitvoerende hoof en voorsitter van Eskom, in die verklaring.

Mabuza sê inligting wat tot hul beskikking is, wys dat Deloitte “besig was met onregverdige, onbillike, niedeursigtige en niemededingende aktiwiteite deur met beamptes van Eskom te vergader voordat voorstelle ingedien is en sonder dat notules daarvan geneem is”.

Mabuza sê verder daar is kontrakte aan Deloitte toegeken al was hul dienste veel duurder as dié van hul mededingers. Hy beskuldig hulle verder daarvan dat hulle “die omvang van die kontrakte laat aanpas het totdat dit net onder die boonste prysgrens was wat die goedkeuring van die provinsiale tesourie vereis volgens Eskom se prosesse”.

Eskom wil spesifiek kontrakte vir ’n laboratorium en die SM002- en SM004-tenders onwettig en ongrondwetlik laat verklaar en hulle ter syde laat stel. Deloitte moet dan die geld opdok wat hiervoor aan hom betaal is.

“Dit is teleurstellend om te sien hoe prosesse omseil is, voorstelle ingedien is nóg voordat die tenderproses begin is en dat die tenders wat deur Deloitte ingedien is nie volgens Eskom se vereistes gegradeer is en tellings toegeken is nie,” sê Mabuza.

Die prysaspek van ’n tender verteenwoordig 90% van dié telling.

“Daar is kontrakte aan Deloitte toegeken waar hy vyf keer meer as sy mededingers gevra het. In een geval het Deloitte R79 miljoen gevra teenoor net minder as R16 miljoen en R9 miljoen wat twee mededingers gevra het. In nog ’n geval het Deloitte R88,8 miljoen gevra terwyl die mededingers onderskeidelik R14,5 miljoen, R13,25 miljoen en R6,59 miljoen gevra het.

“Dit wys suiwer korrupsie aan die kant van Deloitte en die bestuurders by Eskom wat die proses hanteer het. Daar was geen ontsag vir Eskom se volhoubaarheid nie,” vaar hy uit.

Deloitte sê in 'n verklaring hy stem glad nie saam met Eskom nie en ontken die beweringe. 

"Deloitte werk al geruime tyd in goeie trou saam met Eskom om Eskom te help om te verstaan watter proses gevolg is en watter waarde Deloitte Consulting aan Eskom gebied het," sê hy in die verklaring. 

"Terwyl Deloitte Consulting teleurgesteld is oor hierdie onlangse ontwikkeling, verwelkom ons die geleentheid om ons weergawe en die feite van die saak voor 'n hof te stel. Ons regspan bestudeer tans die Eskom-regsdokumente om ons regsoptrede voor te berei." 

Meer oor:  Deloitte  |  Eskom  |  Prish Govender  |  Anoj Singh  |  Staatsondernemings  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.