Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom-data wys beurtkrag wag vir ons

’n Noukeurige ontleding van beskikbare data oor Eskom se opwekkingsvermoë wys dat die kragreus tans sukkel om genoeg krag op te wek. Dit beteken beurtkrag word ’n al hoe groter risiko.

Kraglyne en koeltorings van Eskom se Lethabo-steenkoolkragstasie naby Sasolburg. Foto: Reuters

Uit Eskom se verslae oor die kragnetwerk tydens spitstyd saans is dit duidelik dat die kragtekort al hoe groter word en enorme druk op die kragreus se infrastruktuur plaas.

Woensdagaand was die tekort aan opwekkingsvermoë 711 megawatt (MW). Dit het gevolg op ’n tekort van 158 MW Dinsdagaand en 254 MW Maandagaand.

Vir konteks, Eskom pas fase 1-beurtkrag toe wanneer daar ’n tekort van 1 000 MW is en ’n fase meer vir elke 1 000 MW tekort daar bo-op.

Die totale vraag na elektrisiteit landwyd beloop tans sowat 31 200 MW teen spitstyd en Eskom kan net sowat 30 500 met sy kragstasies opwek.

Dit beteken hy is besig om sy oopsiklusgasturbines (grootskaalse dieselopwekkers) toenemend in te span om die tekort aan te vul.

Die data wys dat Eskom oor die afgelope sewe dae bykans elke dag meer en meer van die oopsiklusgasturbines moes inspan om die ligte aan te hou. Terwyl slegs vier turbines verlede week Vrydag moes loop, het die kragreus vanaf Dinsdagaand 20 begin inspan om die ligte aan te hou. Dis al sy beskikbare dieselopwekkers wat nou elke aand loop.

Die opwekkers brand R10 miljoen se diesel elke uur as al 20 aan is.

Eskom het selfs onafhanklike kragprodusente se oopsiklusgasturbines begin inspan.

Dis egter nie waar sy pogings om die ligte aan te hou, stop nie.

Virtuele kragstasies

Die nutsmaatskappy span nou ook in wat hy “virtuele kragstasies” en “onderbreekbare kragtoevoer” noem wanneer dinge erg benoud begin raak.

Volgens Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, is “virtuele kragstasies” wanneer die kragreus aluminiumsmelters betaal sodat hy hulle krag tydens spitstyd kan afsit.

Dié smelters gebruik amper soveel krag as ’n kwart van ’n hele stad. Eskom betaal hulle dan ’n markverwante bedrag vir elke uur wat hulle nie mag sake doen nie.

Dieselfde geld die “onderbreekbare kragtoevoer”, waar Eskom ander hoë-intensiteit-kragverbruikers, soos fabrieke of myne, vra om hul krag ook af te sit tydens spitstyd sodat die land se ligte kan aanbly. Hulle word ook dienooreenkomstig vergoed vir die tyd wat hulle nie krag het nie.

Daar was nou al drie aande in die afgelope sewe dae waar Eskom onderbreekbare kragtoevoer benut het, met ’n hoogtepunt op Maandagaand toe hy 447 MW se krag uit hoë-intensiteit-verbruikers gespaar het.

Virtuele kragstasies is ook al drie keer die afgelope sewe dae benut. Maandagaand het Eskom 279 MW gespaar deur smelters se krag af te sny.

Só word die vermyding van beurtkrag toenemend ’n peperduur saak wat Eskom net vir ’n sekere hoeveelheid tyd kan handhaaf.

Noodreserwes

Eskom sal ook eersdaags weer sy noodreserwes moet aanvul.

Pompopgaarskemas is hidroëlektriese kragsentrales wat water na ’n hoëvlakdam pomp tydens ’n lae vraag na krag en dan krag opwek deur dit weer af te laat vloei wanneer dit spitstyd is. As dit te hard gedryf word, is daar nie tyd om die damme vol te tap nie.

Eskom sal ook weer sy dieselvoorraad moet aanvul.

Moeilike week lê voor

Eskom se eie weeklikse vooruitsig van die kragnetwerk voorsien dat volgende week problematies gaan wees.

Dit dui tans ’n rooi gevaarvlak aan, wat op ’n lopende tekort van meer as 2 000 MW neerkom, wat beurtkrag sal vereis.

Die goeie nuus is egter dat die vooruitsig vir die res van die jaar amper geen rooivlakweke bevat soos vroeër vanjaar nie.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het vroeër gesê beurtkrag sal al hoe minder toegepas word vanaf Mei soos die nutsmaatskappy se langtermyn-diepteherstelwerk aan sy ou kragstasies begin vrugte afwerp.

Teen September sal daar ’n “aansienlike verbetering” wees.

Meer oor:  Eskom  |  Kragkrisis  |  Steenkoolkragstasies  |  Instandhouding  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.