Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
GRAFIKA: Só lyk Eskom se 3 dele

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede aangekondig Eskom word in drie verdeel onder Eskom Holdings. Gaan dit die nutsmaatskappy - en die land - red?

  

krag

Elk van die drie nuwe afsonderlike afdelings in Eskom sal sy eie direksie hê wat aan die Eskom-hoofkantoor in Megawatt Park in Centurion verslag sal doen.

Maar hoe dít vir Eskom geld gaan spaar is nog nie duidelik nie, het Khulu Phasiwe, mediawoordvoerder van die staatskragmonopolie, Vrydag toegegee.

SOWETO, SOUTH AFRICA  AUGUST 25: (SOUTH AFRICA OUT
Een van Eskom se werkers besig met instandhouding. Foto: Getty Images

Hy het wel bevestig die bestuur en direksie van Eskom sal binnekort ’n mediakonferensie belê waar meer detail oor sy plan duidelik gemaak sal word. Eskom moet ook nog sy werknemers self inlig presies wat die veranderinge gaan behels.

Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand soos verwag in die staatsrede aangedui het Eskom gaan dadelik met die proses begin om hom in sy drie afsonderlike bedryfsafdelings te verdeel - kragopwekking, transmissie en verspreiding.

Die klem is veral op die transmissie-afdeling as voorloper vir uiteindelik ’n onafhanklike netwerkoperateur.

Chris Yelland, energiekommentator van EE Publishers, sê Ramaphosa se aankondiging beteken Eskom hoef nie te wag vir die voorgestelde wetgewing oor ’n onafhanklike stelsel- en markoperateur nie.

“Hulle kan dadelik aan die werk spring en het nie eers die wetgewing nodig wat ’n baie uitgerekte proses kan wees nie.”

Hulle kan dadelik aan die werk spring en het nie eers die wetgewing nodig wat ’n baie uitgerekte proses kan wees nie.
Chris Yelland

Die idee met die onafhanklike netwerkoperateur is om die speelveld in die kragmark gelyk te maak sodat onafhanklike kragprodusente en Eskom op gelyke voet kan meeding om krag aan die netwerkoperateur te verkoop wat dit versprei na wie ook al krag benodig.

Brenda Martin, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging, het die nuus verwelkom en gesê dis ’n belangrike stap om “slimmer, skoner en meer bekostigbare energie” te koop en ’n bestuurde energie-oorgang moontlik te maak.

Martin verwag die stap sal die weg baan vir die bou van nuwe hernubare-energievermoë wat deur beleidsekerheid gesteun word.

Natasha Mazzone, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, meen Ramaphosa se aankondiging oor die verdeling van Eskom gaan nie ver genoeg nie. Dit berei volgens haar nie die kragopwekkingsafdeling voor vir privatisering om met ander onafhanklike kragprodusente mee te ding nie.

Dit laat ook nie goedbestuurde metropolitaanse owerhede toe om hul eie krag regstreeks van onafhanklike kragprodusente te koop nie.

Die DA het einde 2018 sy eie weergawe van die wetsontwerp oor ’n onafhanklike stelsel- en markoperateur (die Ismo-wetsontwerp) voorgestel, nadat die regering se eie weergawe onder oudpres. Jacob Zuma en ’n reeks vinnig opeenvolgende ministers van energie ’n stille dood gesterf het.

Peter Attard Montalto, ontleder van Intellidex, meen die risiko is dat min gaan verander as die drie afdelings bloot onder Eskom Holdings as beheermaatskappy bly pleks van drie onafhanklike maatskappye wat regstreeks aan die departement van openbare ondernemings verslag doen.

“ ’n Denkskuif is nodig by Eskom. Deur bloot binne Eskom te verdeel beteken die monopolie-denkwyse duur voort. Enige voordele uit meer deursigtige interne toedeling van kapitaal kan beperk wees. Die netwerkoperateur (transmissie) is dan ook nie werklik onafhanklik nie.”

Montalto meen die mark onderskat hoe ingewikkeld die skeidingsproses van die drie bedrywighede kan wees, veral as dit intern deur Eskom bestuur word. Dit kan tot twee jaar duur, self al sou die nuwe filiale dadelik as rakmaatskappye geskep word. Die risiko is daar dat duplisering en die oortollige vet sal voortbestaan.

Oor die feit dat Ramaphosa nie ’n bedrag kon noem vir die reddingsboei wat die regering hierdie keer na Eskom gaan gooi nie, meen Montalto dis waarskynlik omdat daar groot verskille binne die kabinet was oor watter vorm die reddingsboei moet aanneem teenoor wat die presidensiële taakspan aanbeveel het.

Prof. Jannie Rossouw van Wits se Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe sê afgesien van die verdeling sal Eskom sy arbeidsmag móét verklein. Ramaphosa het in sy staatsrede vakbonde belowe die regering sal die arbeidsektor “betekenisvol raadpleeg” oor die herstrukturering by Eskom, terwyl die vakbonde Numsa en NUM reeds dreig met landwye stakings.

Eskom self gee toe in sy 2018-jaarverslag dat hy ’n derde te veel personeel het. Eskom raam daarin dat sy optimale werksmag op 33 249 behoort te wees, teenoor die huidige 48 628.

Eskom se Hendrina-kragstasie naby Middelburg in Mpumalanga is een van drie kragstasies wat hy oor die volgende drie jaar kan sluit. Foto: Bloomberg

   

3 dele, vele uitdagings

  

Die omheining van Eskom se drie bedryfsafdelings in kragopwekking, transmissie en verspreiding is al vroeër deur Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof, genoem as deel van Eskom se omdraaiplan.

Hadebe wil sien dat elk van die afdelings sy eie potjie kan krap en rekeningkundig van die ander geskei word.

Dan kan Eskom volgens hom duideliker sien waar geld gemors word, waar koste gesny word en hoe bates doeltreffender aangewend kan word.

Elk van die afdelings het hul eie uitdagings.

Kragopwekking

  • Dié afdeling sit met steenkoolverskaffers wat nie die regte gehalte steenkool teen die regte prys kan of wil lewer nie. Eskom het belegging in sy koste-plus-myne verwaarloos en moet dit nou opskerp om steenkoolvoorraad te verseker.
  • Daar is ontwerp-probleme by die nuwe steenkoolkragstasies Medupi en Kusile.
  • Die ouer kragstasies verg al meer instandhouding. Dit veroorsaak kragonderbrekings wat beteken Eskom moet sy duur dieselkragstasies gebruik om die gapings te vul.

Transmissie

  • Die transmissie-afdeling kort nuwe belegging om al die nuwe wind- en sonkragaanlegte in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap aan die kragnetwerk te koppel. Die afdeling is veronderstel om uitgebou te word as ’n onafhanklike netwerkoperateur.

Verspreiding

Die verspreidingsafdeling se probleme word oorheers deur:

  • Kragdiefstal;
  • Kabeldiefstal; en die
  • Wanbetaling deur Soweto wat Eskom regstreeks van krag verskaf, asook die munisipaliteite wie se agterstallige skuld al meer as R13 miljard bedra.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.