Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom gaan volstoom voort met kernplan

Eskom gaan voort met sy planne vir kernkrag asof dit ’n feit is dat die regering gaan besluit om kernkragstasies te bou.

Jeff Radebe, minister van energie: “Wag tot Augustus om te hoor of kernkragstasies gebou gaan word. Foto: Morapedi Moshashe, Daily Sun

Deur die bou van die steenkoolkragstasies Medupi en Kusile het Eskom “lesse geleer” wat hulle “gaan toepas” wanneer kernkragstasies gebou word, het Loyiso Tyabashe, senior bestuurder van nuwe kernkrag by Eskom, die afgelope week in ’n voorlegging by die African Utility Week in Kaapstad gesê.

Tyabashe hou vol dat Suid-Afrika se krag hoofsaaklik deur steenkool- en kernkragstasies opgewek moet word en dat krag uit hernubare bronne soos son en wind net bykomend moet wees. Dit is omdat son- en windkrag volgens hom nie betroubaar genoeg is om die grondslag van energieopwekking te vorm nie.

Tyabashe se opmerkings is strydig met wat voorstanders van hernubare energie sedert einde verlede jaar begin glo het. Modellering wat die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) einde verlede jaar bekend gemaak het, wys dat as die goedkoopste energiebronne gekies word, kernkrag tot minstens 2050 nie nodig is nie.

Daar word geglo dat dié model gebruik gaan word om die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) vir elektrisiteit op te stel. Dié plan strek meer as 30 jaar die toekoms in en stippel uit wanneer die land hoeveel krag en uit watter bronne gaan nodig hê. Die plan word na verwagting in Augustus aan die kabinet voorgelê vir goedkeuring.

Ons kan nie deur koerantberigte en kantlynopmerkings in Davos, waarvoor ons nie die konteks het nie, gelei word nie.
Loyiso Tyabashe van Eskom

Prof. Anton Eberhard, ’n energiekenner aan die Universiteit van Kaapstad se sakeskool en voorstander van hernubare energie, het Tyabashe in vraetyd oor sy “aannames” uitgevra.

Prof. Anton Eberhard, energiekenner van die Universiteit van Kaapstad: “Waarop grond jy jou aannames dat kernkragstasies gebou gaan word?” Foto: Lindile Mbontsi, Daily Sun

“Die spreker neem aan dat kernkrag voortgaan,” het Eberhard gesê. Tog het pres. Cyril Ramaphosa by Davos gesê die land kan dit nie bekostig nie. Boonop is kernkrag nie deel van die goedkoopste model nie. “Wat regverdig jou aannames?”

Tyabashe het teruggeval op die verouderde IRP van 2010, wat voorsiening maak vir 9 600 MW kernkrag.

“Ons kan nie deur koerantberigte en kantlynopmerkings in Davos, waarvoor ons nie die konteks het nie, gelei word nie. Ons sal ons plig versuim as ons nie nou op grond van die IRP van 2010 voorberei nie,” sê hy. Tyabashe sê hul voorbereiding behels om seker te maak die infrastruktuur rondom die plekke waar kernkragstasies moontlik gebou gaan word, is voldoende. Dit sluit in byvoorbeeld paaie en verblyf vir werkers.

Die sprekers ten gunste van kernkrag het die sogenaamde mites oor dié kragbron probeer nekomdraai. Een daarvan is kwansuis dat Suid-Afrika kernkrag liefs moet vermy weens die hoë voorkoms van korrupsie.

“Korrupsie is nie eie aan kernkrag nie,” sê Des Muller, voorheen hoof van kernkrag by die konstruksiemaatskappy Group Five en deesdae verbonde aan die Kernkragbedryfsvereniging Niasa.

Hy sê politieke veranderinge in die streek laat hoop ontstaan dat daar minder korrupsie in die regering gaan wees. “Kernkragstasies moet op die mees etiese en deursigtige manier bekom word. Jy moet kernkrag vir die regte redes koop,” sê hy.

Intussen is maatskappye wat hernubare kragstasies bou en aan die departement van energie se program vir groenkrag (REIPPP) deelneem, bang dat Eskom weer “ ’n manier gaan vind” om in die toekoms nié kontrakte met hulle te sluit nie.

Gqi Raoleka, besturende direkteur van Pele Energy, het in ’n voorlegging gesê dié onsekerheid maak hulle huiwerig om groenkragprojekte te beplan. Beleggers is glo ook skepties.

Boitumelo Kiepile van Enel Green Power sê dit is steeds ’n struikelblok dat Eskom krag van onafhanklike verskaffers moet koop, maar eintlik met hom meeding. “Dit moet duidelik gemaak word hoe almal moet saamwerk, van die departement van energie tot Eskom, die tesourie en die reguleerder. Almal moet saamwerk om weer beleggers se vertroue te wen.”

Jeff Radebe, minister van energie, wou verlede week in ’n parlementêre portefeuljekomitee nie ’n vraag beantwoord oor die toekoms van kernkrag nie. Radebe sê dit sal eers duidelik wees nadat die IRP in Augustus aanvaar is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.