Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom gee toe steenkool kry wind van voor
steenkool, krag, energie
Steenkoolkragstasies raak al meer ongewild. Foto: Getty Images

Eskom kan nie alleen vir Suid-Afrika se kragvraag sorg nie, het Jeff Radebe, minister van energie, Dinsdag beklemtoon. “Ons kan nie al ons energie-eiers in een mandjie sit nie,” het hy by die opening van die Africa Utility Week in Kaapstad gesê.

Aansienlike nuwe kragopwekkingsvermoë sal van 2030 af bygevoeg moet word, maar dit val saam met ’n balansstaat by Eskom wat onder groot druk is, het hy gewaarsku.

Die regering besef slimkragnetwerke, gedesentraliseerde kragnetwerke en ander nuwe tegnologie ontwrig die tradisionele energiebedryf.

Suid-Afrikaanse huishoudings het al soveel as 150 MW se sonpanele op hul huise se dakke geïnstalleer.

Radebe sê die regering werk saam met die nasionale energiereguleerder aan die nodige wetgewing en regulasies wat dit makliker sal maak vir mense om hul eie krag so op te wek.

Die sakemodel vir munisipale kraglewering is egter onder intense druk en is onvoldoende. As dié probleem nie aangepak word nie, sal al meer munisipaliteite nie hul rekeninge by Eskom kan betaal nie.

Radebe het belowe dat die nuwe geïntegreerde hulpbronplan – die regering se bloudruk vir kraglewering tot 2050 – baie binnekort bekend gemaak sal word. Die Nasionale Ekonomiese en Arbeidsraad (Nedlac) werk nog daardeur.

Steenkool

Te midde van Suid-Afrika se verpligtinge om kweekhuisgasvrystellings te verlaag, het die land relatief lae plaaslike steenkoolpryse en oorvloedige steenkoolreserwes. Die regering moet dus ’n regverdige oorgang bestuur sodat dié wat deur die skuif na ’n skoner energietoekoms geraak word, nie benadeel word nie.

Skoon steenkooltegnologie soos ondergrondse steenkool-vergassing, koolstofopberging, en steenkool-tot-brandstofprosesse is belangrik om steeds voordeel te trek uit die land se steenkoolreserwes, want dit kan nie bloot “gesteriliseer” word nie, het Radebe gesê.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het in sy spreekbeurt op die konferensie gesê teen 2050 sal sowat 50% van alle elektrisiteit uit hernubare bronne opgewek word, volgens Bloomberg New Energy Finance, so die energiebedryf is vinnig besig om te verander.

Teen 2040 sal steenkool se bydrae tot Suid-Afrika se elektrisiteitsbedryf tot sowat 40% afneem, voorspel Hadebe.

Daar is elke jaar al minder beleggers wat bereid is om in fossielbrandstofprojekte te belê.

Die internasionale multilaterale finansieringsorganisasies is toenemend ook nie meer bereid om steenkoolkrag te finansier nie, het Hadebe Dinsdag op die Africa Utility Week in Kaapstad gewaarsku.

“Dit beteken ons kan nie dinge doen soos ons dit altyd gedoen het nie. ’n Nuwe ingesteldheid is nodig,” het hy gesê.

Maar Afrika het nie so vinnig soos die res van die wêreld in die rigting van hernubare energie nie beweeg nie.

Kragpoel

Hadebe wys op die werkinge van die Suider-Afrikaanse Kragpoel as voorbeeld van hoe lande kan saamwerk om die energie-uitdagings aan te pak. ’n Verslag oor die kragpoel wys dat die koste van kraglewering deur die samewerking tussen die buurlande verlaag kon word. Al meer onafhanklike kragprodusente lewer ook krag in die poel wat tot voordeel van almal oor die landsgrense heen versprei word.

Die bydrae van Cahora Bassa in Mosambiek aan Suid-Afrika vroeër vanjaar het volgens Hadebe gehelp om beurtkrag se impak te versag, maar die sikloon Idai het op sy beurt dié bydrae afgesny. Was dit nie vir dié bydrae (sowat 1 400 MW) en van onafhanklike kragprodusente (sowat 3 770 MW) nie, sou Suid-Afrika se kragkrisis baie erger gewees het, het Hadebe verduidelik.

Water

Maar hy het gewaarsku dat Eskom 2% van Suid-Afrika se vars water gebruik. Dit is nogal baie en Eskom het ’n plan om dit deur byvoorbeeld droëverkoelingstegnologie te verminder. Tans gebruik van die kragstasies 2 liter water per kilowatt-uur vir verkoeling, wat tot 0,1 liter verminder kan word as droë verkoeling geïnstalleer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.