Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Vaughan se aanstelling by Eskom ‘rassisties’
Richard Vaughan Foto: Argief

Mandla Maleka, voorheen waarnemende tesourier van Eskom, beskuldig die kragverskaffer van rassisme.

Dit kom nadat hy nie in Mei as tesourier van Eskom aangestel is nie.

Richard Vaughan, voorheen die finansiële hoof van Edcon, is in die pos aangestel.

Eskom het Vaughan se aanstelling op 15 Mei in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, bekend gemaak.

Luidens dokumente wat Bloomberg gesien het, het Maleka ’n klag oor dié aanstelling by Eskom ingedien.

Maleka vra in die dokument hoekom die finale kandidate vir die pos twee wit middeljarige mans was.

Eskom het bevestig dat hy Maleka se klag ontvang het.

Hy sê ’n onafhanklike prokureur het bevind dat Maleka se klag “geen substansie” het nie.

Die klag word glo steeds intern hanteer.

Vaughan het alle navrae na Eskom verwys.

Maleka sê in ’n verklaring gedateer 8 Junie, dat Calib Cassim, finansiële hoof van Eskom, verteenwoordigers van die maatskappy se afdeling vir mensehulpbronne en werwing, asook Maria Ramos, teenwoordig was tydens sy onderhoud vir die pos.

Hy sê hy weet nie hoekom Ramos daar was nie.

Hy is ingelig dat ’n tweede ronde onderhoude sal volg.

Maleka sê hy het in die maande ná die onderhoud, gereeld gevra wat die vordering met die besluit is. Daar is vir hom gesê dat André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, “daaroor dink”.

Hy is op 25 April vanjaar ingelig dat sy aansoek onsuksesvol was.

Hy het op 6 Mei sy klag ingedien.

“Eskom het nog nooit in sy jare lange bestaan ’n swart tesourier gehad nie en dit is ’n geleentheid wat nou misgeloop is ondanks baie ervaring en toepaslike kwalifikasies,” lui sy verklaring.

“Die persoon wat aangestel is, het nie die nodige ervaring nie,” sê hy.

Maleka verwys na sy suksesvolle insameling van R27 miljard van handelsbanke, die Chinese Ontwikkelingsbank en die Openbare Beleggingskorporasie as bewys van sy kwalifikasies.

Fana Nalane, die advokaat wat deur Eskom aangestel is om die klag te ondersoek, sê Eskom het vir hom gesê dat ander kandidate beter geskik was vir die pos.

Die EFF sê in ’n verklaring dat die aanstelling wys daar is “ ’n gesamentlike en stelselmatige aanval op swart professionele persone by Eskom”.

Die EFF voer aan dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en wie se departement verantwoordelik is vir Eskom, “haat swart mense met ’n passie”.

Die departement het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Die departement het ’n week gelede ook die aanstelling van Caroline Henry as voorsitter van Eskom se pensioen- en voorsorgfonds verdedig.

– Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Eff  |  Eskom  |  Andre De Ruyter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.