Suid-Afrikaners hoef hulle darem nie te bekommer oor Eskom se vermoë om sy kraglewering voort te sit tydens die landwye staat van inperking wat Donderdag om middernag begin nie.

Steenkoolreserwes word aangevul by Eskom se Grootvlei-steenkoolkragstasie in Mpumalanga in hierdie argieffoto. Foto: Getty Images
By navraag het Eskom Dinsdag bevestig dat hy gemiddeld 50 dae se steenkoolvoorraad by elk van sy steenkoolkragstasies het.
Die kragreus sê dit is meer as die 20 dae se voorraad wat sy beleid hom dwing om te hê.
Sy opwekking sal kan voortgaan soos normaal midde-in die staat van inperking, en sy steenkoolreserwes is net nog ’n veiligheidsmaatreël om te verseker dat hy nie weens die Covid-19-uitbreking nóg opwekkingsvermoë verloor nie.
Eskom sê uitdruklik dat alle voorsieningskettings en dienste vir sy kragstasies ook geklassifiseer word as noodsaaklike dienste wat kwytskelding van die inperking deur die regering ontvang het.
“Die staat van inperking sal nie steenkool-aflewerings aan Eskom se kragstasies beïnvloed nie. Dit is omdat die produksie en verskaffing van elektrisiteit ’n kritieke en noodsaaklike diens is ingevolge die wet.”
Eskom sê hy het reeds reëlings met al sy verskaffers in die steenkool-waardeketting getref om hul bedrywighede te midde van die inperking voort te sit.
Steenkoolmyne, vervoerdienste, Transnet en selfs steenkoollaboratoriums is almal as noodsaaklike dienste geïdentifiseer en sal dus nie ontwrig word nie.
Beurtkrag
Sodra die staat van inperking Donderdagnag in werking tree, gaan die meeste ondernemings en nywerhede hul bedrywighede moet staak, wat die vraag na elektrisiteit sal laat afneem.
Eskom het Dinsdag gesê die uitwerking van talle mense wat reeds van die huis af werk, het nog nie noemenswaardig die vraag na krag beïnvloed nie, maar nywerhede en intensiewe kragverbruikers soos myne is tans nog oop.
Tans word net minder as 30 000 megawatt (MW) op die kragnetwerk vereis.
Eskom sê wel dat daar ’n beduidende verbetering is rakende die verlies van opwekkingsvermoë weens onbeplande foute, vergeleke met Desember.
Dié verlies is tans gemiddeld tussen 10 200 MW en 11 500 MW, waar dit in Desember so hoog as 16 000 MW was.
Die kans dat Suid-Afrika beurtkrag in die volgende drie weke sal kan systap, lyk dus ietwat beter as vantevore.
Eskom het Dinsdag gesê geen beurtkrag word vir Woensdag verwag nie.