SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Energie
Eskom gooi handdoek in oor sy besoedeling

R300 miljard. Dit is wat dit Eskom vandag sou kos as hy op een slag al sy steenkoolkragstasies se vrystellings in lyn sou bring met besoedelingsregulasies.

“Ons het net nie die geld nie,” sê Jabu Mabuza, waarnemende uitvoerende hoof en voorsitter van Eskom, Woensdag op ’n mediakonferensie by sy hoofkantoor.

Eskom se Kriel-kragstasie waar honderde vragmotors daagliks heen en weer ry om steenkool te vervoer.

Eskom vra al sedert 2010 oor en oor vir uitstellings om sy verouderde en swaar besoedelende vloot steenkoolkragstasies op te gradeer sodat toksiese vrystellings binne die departement van omgewingsake se nuwe perke sal val.

Volgens Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, is dit ’n skande wat die nuwe direksie nie verder sal probeer ontduik nie.

“Wat het ons gedoen vir al die jare wat ons geweet het die sperdatum vir die nuwe omgewingsregulasies kom?

“Ons het niks gedoen nie!” sê Oberholzer.

As ons dit nie regstel en ons vrystellings verminder nie, is daar ’n risiko dat ons sommige van die kragstasies sal moet sluit
Jan Oberholzer

Volgens Eskom se beamptes vir omgewingsake sal die kragreus nie verder bloot korttermynopossings gebruik nie.

Hy bieg Woensdag dit sal onmoontlik wees om sy kragstasies volledig aan die perke op vrystellings te laat voldoen, en nie meer sal wegkruip agter nog aansoeke vir uitstellings nie.

“As ons dit nie regstel en ons vrystellings verminder nie, is daar ’n risiko dat ons sommige van die kragstasies sal moet sluit,” waarsku Oberholzer.

Eskom is verantwoordelik vir sowat ’n derde van Suid-Afrika se kweekhuisvrystellings.

Volgens Mabuza sal die nutsmaatskappy in die volgende sowat vier jaar teen 57% tot 60% aan die vrystellingsregulasies voldoen.

Dit sal Eskom sowat R68 miljard kos.

“Dit is wat ons kan doen en wat ons kan bekostig,” het Mabuza dit eenvoudig gestel.

Gemiddeld sal dit R30 miljard per steenkoolkragstasie kos om slegs sy partikelvrystellings binne regulasies te kry, verduidelik hy.

Dit sluit kweekhuis- en ander toksiese gasse uit, maar is die grootste kommer wanneer dit kom by nabygeleë inwoners se gesondheid.

Eskom sal dus partikelvrystellings prioritiseer en teen 2025 al sy steenkoolkragstasies aanpas om die regulasies na te kom. Die departement van omgewingsake se spertyd vir hierdie vorm van besoedeling is 2020.

As Eskom nie die aanpassings by sy kragstasies doen nie, sal hy self tussen 4 470 MW en 9 000 MW se opwekkingsvermoë moet sluit om sy besoedeling in toom te hou.

Die totale gemiddelde vraag na elektrisiteit wat Eskom tydens die somermaande verwag beloop 30 000 MW.

Meer oor:  Eskom  |  Jan Oberholzer  |  Jabu Mabuza  |  Omgewingsake  |  Besoedeling  |  Steenkoolkragstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.