Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Eskom het geweet steenkool is nie goed’

Eskom was bewus daarvan dat die Optimum-myn nie genoeg goeie steenkool kon lewer nie, maar het desondanks ’n nuwe kontrak gesluit vir steenkool van dié myn nadat dit deur die Guptas oorgeneem is.

Adv. Vincent Maleka SC, getuienisleier voor die Zondo-kommissie, het Vrydag aangehaal uit ’n verklaring van Gert Opperman, wat getuig het. Hy was bestuurder van die Optimum-kontrak namens Eskom.

Maleka het gesê “histories was daar probleme” met die verskaffing van steenkool toe die oorsese maatskappy Glencore nog die Optimum-myn besit het.

Eskom het dus dieselfde probleme geërf, maar was tog bereid om ’n nuwe kontrak met die Gupta-maatskappy Tegeta te onderhandel toe dié die myn oorgeneem het.

Maleka het gesê die probleme was in daardie stadium duidelik sigbaar. Dit was nie nuwe probleme nie.

Opperman het hierop instemmend geantwoord.

Hy het getuig in ’n stadium het Optimum te min steenkool aan die Hendrina-kragstasie gelewer omdat die myn in sakeredding was.

Waar die myn gewoonlik sowat 458 kiloton steenkool per maand gelewer het, het dit gedaal tot tussen 300 en 400 kiloton.

Dit het daartoe gelei dat Hendrina se voorraad gesak het tot 25,2 dae se opgepotte steenkool.

Eskom het toe ’n tweede, korttermynkontrak met ’n ander myn gesluit om aan Hendrina te lewer om te verseker die voorraad daal nie te ver nie.

Steenkool is per vragmotor daarheen vervoer totdat die voorraad tot 30 dae s’n gestyg het.

Dit was in Oktober en steenkool was nodig voor die reënseisoen asook die Desember-reses, het Opperman getuig.

Al kon Optimum nie eens genoeg steenkool vir Hendrina lewer nie, is ’n tweede kontrak egter aan Tegeta toegestaan vir lewering van steenkool aan die Arnot-kragstasie.

Opperman het getuig Hendrina het in daardie stadium steenkool vir 52 dae gehad.

’n Paar maande later het Hendrina se voorraad gedaal tot 29 dae s’n.

Dit was baie duidelik dat die steenkool wat veronderstel was om na Hendrina te gaan na die Arnot-kragstasie gestuur is, het Opperman getuig.

Weens die afstand en die koste van padvervoer was die Arnot-steenkool duurder as dié wat aan Hendrina gelewer is.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.