Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom ‘het nog nie ingestem tot Optimum-plan’
Eskom se Hendrina-kragstasie suid van Middelburg in Mpumalanga.

Eskom is wel in gesprek met die Optimum-steenkoolmyn se sakeredders, maar het nog geen ooreenkoms gesluit nie.

Só het die kragreus Maandag gereageer op ’n berig Sondag in Rapport en City Press dat Eskom bereid is om twee keer meer vir steenkool te betaal ten einde Optimum te help voortbestaan.

Optimum verskaf op die oomblik 400 000 ton steenkool per maand aan die Hendrina-kragstasie in Mpumalanga teen R201,46 per ton.

Die sakeredders se voorstel is dat Optimum vir die oorblywende nege maande van die kontrak net 200 000 ton steenkool per maand lewer, maar teen dieselfde totale bedrag. Die kontrak van 40 jaar loop in Desember ten einde.

“Ons wil kategories verklaar dat Eskom tot op hede nog nie ingestem het tot enige prysaanpassing met die sakeredders nie en die bewerings in die berig is feitelik verkeerd en sonder gronde,” sê Eskom in ’n verklaring.

“Indien Eskom wel ’n vermindering in die tonnemaat verskaf aanvaar, soos deur die sakeredders voorgestel word, sal dit gedoen word teen die huidige gekontrakteerde prys.”

Rapport en City Press het berig dat Optimum R450 per ton wil hê.

Die laer tonnemaat word voorgestel sodat Optimum die ander 200 000 ton kan uitvoer teen ’n beter prys.

Eskom sê hy het nie die sakereddingsplan onder oë gehad nie en het toegang daartoe versoek “sodat Eskom vriendskaplik as ’n geraakte party in gesprek kan tree”.

Optimum en die Koornfontein-steenkoolmyn behoort aan maatskappye waarvan die omstrede Guptas die hoofaandeelhouers was.

Die twee myne lewer 7,9 miljoen ton steenkool per jaar aan Eskom.

Eskom het die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) verlede week ingelig dat die steenkoolvoorraad by sewe van sy kragstasies tot onder die vereiste vlak van 20 dae se voorraad gedaal het. Dít met die winter, wanneer die vraag na krag skerp styg, om die draai.

Terselfdertyd het Eskom so ’n ernstige likiditeitskrisis om onder meer steenkool te koop en salarisse te betaal dat hy nou al geruime tyd probeer om R20 miljard daarvoor te leen.

Die Optimum-myn lewer steenkool aan die 2 000 MW-Hendrina-kragstasie en die Koornfonteinmyn aan die 1 000 MW-Komati-kragstasie. Tans is dié twee myne die enigste verskaffers aan dié kragstasies.

Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, het aan Rapport gesê noodplanne word opgestel om steenkool van ander myne af na dié twee stasies te herlei.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Guptas  |  Khulu Phasiwe  |  Koornfontein  |  Hendrina  |  Optimum  |  Komatipoort  |  Steenkool  |  Steenkoolkontrakte  |  Krag  |  Sakeredding  |  Kragstasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.