Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom het Soweto in die visier
Die Matla-kragstasie naby Kriel in Mpumalanga, soos gesien deur Marietjie Viljoen.

Eskom werk “aggressief” daaraan om skuld van munisipaliteite, asook Soweto, te verhaal, en het die betalingskoers in Soweto verbeter van ’n historiese 12% tot die huidige 25%.

Só het André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, Dinsdag in die parlement aan die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê.

Eskom gaan nou in Soweto in en sny krag af in gebiede waar 0% tot 30% van rekeninge betaal word. Dit is onafwendbaar as Eskom wil ophou om elektrisiteit verniet weg te gee, het hy gesê.

Volgens De Ruyter betaal Eskom meer as R70 miljard per jaar aan rente op skuld en dit styg steeds. Daarom is dit dringend dat hy sy skuld herstruktureer.

Hy het gesê Eskom werk saam met die tesourie om sy verkrygingsprosesse meer vaartbelyn te maak, maar só dat hy steeds binne die wetlike raamwerk bly.

Eskom gaan die Hendrina-, Camden- en Grootvlei-kragstasie nou langer in bedryf hou as die oorspronklike datum vir sluiting. Hy het ook nou ’n spe­siale meganisme om kundiges van buite te werf vir kritieke take.

Solly Tshitangano, verkrygingshoof van Eskom, het aan Skoor gesê ’n nuwe komitee is gestig om alle oortredings en onreëlmatighede met kontrakte te ondersoek. Meer moeite word gedoen om betyds te identifiseer watter kontrakte verstryk en om nuwe kontrakteurs deur ’n opemarkproses aan te stel.

Bykomende maatreëls is ingestel om die groot aantal afwykings en uitbreidings van kontrakte te verminder.

Solly Tshitangano

Tshitangano het verwys na ’n konsultasiekontrak wat in 2005 teen R100 miljoen beklink is vir advies, projekbestuur en monitering by die Kusile- en Medupi-kragstasie, maar in totaal is sowat R20 miljard al aan dié kontrak bestee.

Die afwykings van oorspronklike kontrakbedrae het ’n norm by Eskom geword en dit is baie moeilik om weg te kom van dié kultuur, het hy gewaarsku.

Skoor-lede was omgekrap dat Tshitangano net in algemene terme praat en nie spesifieke name en voorbeelde kon noem nie.

Bartlett Hewu, waarnemende hoofbestuurder by Eskom vir wetgewing en voldoening, het gesê benewens Eskom se eie forensiese ondersoeke ondersoek die Valke, die spesiale ondersoekeenheid, asook die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, voortdurend bedrog en korrupsie by Eskom.

Sedert Skoor se oorsigbesoek verlede jaar aan kragstasies is bedrogondersoeke na 40 Eskom-werknemers na die Valke verwys, twee vorige senior bestuurders is in Desember op korrupsieverwante klagtes in hegtenis geneem en ’n eksterne forensiese paneel het hulp verleen om 261 korrupsie-ondersoeke te versnel.

Dit is gevalle wat via Eskom se fluitjieblaser-hulplyn aangemeld is.

Teen einde Desember is 59 Eskom-werknemers al afgedank weens bedrog en korrupsie.

Leefstyloudits is op 370 mense in senior poste gedoen.

Die departement van openbare ondernemings help Eskom met die oudits vir die res van werknemers, het Hewu gesê.

Volgens hom probeer Eskom ook geld terugkry wat bedrieglik aan kontrakteurs betaal en nog nie terugbetaal is nie.

* De Ruyter het gesê dit gaan nog lank neem om Eskom reg te ruk. Hy het toegegee beheermeganismes moet verbeter. Pres. Cyril Ramaphosa se energie-oorlogskamer, wat twee maande gelede op die been gebring is, kom uiteindelik môre byeen, berig Bloomberg.

Die span word gelei deur adj.pres. David Mabuza en sluit ander ministers in. Hulle moet die land se kragkrisis help oplos.

Wat die uitbreiding van nuwe groenkragaanlegte betref, wil Eskom uit die staanspoor betrokke wees by die nuwe bod­rondes om seker te maak hoeveel kragopwekking aangebied word en teen watter prys.

Die kontrakte wat in die eerste twee rondes toegeken is, is teen baie gunstige tariewe (vir die verskaffer daarvan) beklink, en Eskom wil onderhandel om die koste van dié elektrisiteit te verlaag vir die hele Suid-Afrika.

Meer oor:  Skoor  |  Eskom  |  André De Ruyter  |  Soweto  |  Kragonderbrekings  |  Skuld  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.