Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom hof toe vir meer wins

Selfs al gee die regering R100 miljard aan Eskom, sal hulle oor vier jaar weer op die rand van die afgrond wees, sê Jabu Mabuza, Eskom-voorsitter.

Eskom se Kendal-kragstasie. Foto: Bloomberg

Die enigste volhoubare oplossing is om kragtariewe drasties te verhoog en daarom het Eskom besluit om die onafhanklike energiereguleerder (Nersa) in die hof te takel oor die skamele verhoging wat hy gekry het, sê Mabuza.

Uit hofstukke blyk dit Eskom wil sy wins uit die verkoop van krag verdubbel net sodat hy sy enorme skuld kan diens.

Mabuza sê die enigste uitweg vir Eskom se voortslepende geldknyp is om die ebitda-winsgrens (wins voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie) op die vlak van 39-41% te kry.

Luidens Eskom se jongste beskikbare voljaarstate was die winsgrens 21,2% in 2017 en 20% in 2016.

Eskom probeer met sy hofaansoek wat Donderdag aan Nersa beteken is om ’n tariefverhoging van sowat 20% vir verbruikers teweeg te bring, volgens ingeligtes.

As Eskom se aansoek slaag, sal die tariefbepaling terugverwys word na Nersa en enige verandering sal op die vroegste in Maart volgende jaar aan verbruikers deurgegee kan word. Nersa moet nog aandui of hy die hofaansoek teenstaan.

Die aansoek in die hooggeregshof in Pretoria kom terwyl Nersa oor minder as twee weke uitspraak moet gee oor Eskom se drie aansoeke om altesame R66 miljard bykomend uit kragtariewe te kry weens onderverhalings in vorige jare.

Eskom sê in hofstukke Nersa het irrasioneel opgetree toe hy in Desember verlede jaar vir Eskom net ’n 5,23%-tariefverhoging gegee het.

As Nersa voortgaan met die irrasionele optrede sal Eskom nie kan voortbestaan as lopende saak nie, en dit sal rampspoedig wees vir die landsekonomie, sê Eskom.

Calib Cassim, waarnemende finansiële hoof van Eskom. Foto: Felix Dlangamandla

Calib Cassim, waarnemende finansiële hoof, sê in sy verklaring Nersa se metodologie was foutief en onregmatig.

Cassim sê verder Nersa het onregmatig opgetree deur so lank te sloer met Eskom se drie aansoeke om tussentydse verhogings. Eskom wag vir beslissings oor aansoeke wat sover terug as 2014 dateer.

Die aansoek vir onderverhalings in 2017-’18 is al op pad Nersa toe en die hof behoort hulle te dwing om dadelik daaraan aandag te skenk, sê hy.

Volgens Cassim is die skamele verhogings wat Nersa aan hom toestaan een van die redes wat kredietagentskappe aanvoer vir hul afgradering van Eskom. Die afgraderings veroorsaak dat Eskom se finansieringskoste die hoogte inskiet.

Standard & Poor’s het volgens Cassim aangedui dat Eskom reeds groot kostebesparings bewerkstellig het en sê dit is te betwyfel of Eskom veel meer bloed uit daardie klip kan tap.

Cassim haal ook ’n studie van die Wêreldbank aan waarvolgens 81% van Eskom se geldtekort te wyte is aan lae tariewe. Dit, sê hy, is strydig met die algemene opvatting dat wanbestuur en korrupsie die oorsaak van Eskom se geldprobleme is.

Dit speel ’n “relatief klein rol” in Eskom se probleme, sê hy.

Nersa het volgens Eskom sy magte oorskry deur byvoorbeeld te besluit dat Eskom kragstasies behoort te sluit en sommer die somme vir die verhogings te maak asof die kragstasies reeds gesluit is en die besparings reeds bewerkstellig is.

Die kwessie is regtig nie so eenvoudig nie, sê Eskom.

Cassim verwys na die openbare mening dat die bouwerk aan Kusile en Medupi gestaak moet word.

Netwerk24 het die afgelope week berig Ted Blom, vennoot by Mining & Energy Advisors, reken die bouwerk gaan nie teen 2026 klaar wees nie en gaan boonop sowat R300 miljard per stasie kos. Die aanvanklike kwotasie vir Medupi was R32 miljard.

Maar Cassim sê in sy hofstukke Eskom kan die hele land kelder deur bouwerk aan dié stasies te staak. Dis weens ’n klousule in Eskom se kontrak dat dit ’n wanprestasie sal wees om bouwerk te staak.

Die finansiers kan onmiddellik die lenings oproep en die domino-effek is dat die regering moontlik R760 miljard se skuld gaan moet betaal, sê Cassim.

“Katastrofies”, is hoe hy die gevolge beskryf.

Eskom sê hy doen alles in sy vermoë om korrupsie te beveg en kostes te besnoei.

Die twee grootste koste-items is primêre energie, wat hoofsaaklik gaan oor steenkoolaankope, en personeelkoste.

Eskom is tans gewikkel in ’n stryd met vakbonde nadat hy besluit het om die weghol-salariskoste stop te sit en sy 47 000 werkers vanjaar geen verhogings of bonusse te gee nie. Van die vakbonde dring aan op ’n 15%-verhoging en dreig om te staak as hulle nie hul sin kry nie.

In die vorige boekjaar het Eskom se koste aan bonusse feitlik verdubbel tot R4,2 miljard en byna alle personeel het bonusse gekry van gemiddeld R88 000 elk.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Calib Cassim  |  Jabu Mabuza  |  Phakamani Hadebe  |  Elektrisiteit  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.