Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom ‘hou SA gyselaar’, kry net nóg staatsgeld

Elke landsburger word deur Eskom as gyselaar gehou – deur hul beurtkrag wat tot massiewe ekonomiese verliese lei asook deur hul voortdurende eise vir reddingsboeie en eindelose bestuurskrisisse.

Denis Joseph, DA-lid van die parlement se staande komitee oor toedelings.
Ashor Sarupen, DA-lid van die staande komitee oor toedelings.

Só het Ashor Sarupen, DA-lid van die parlement se staande komitee oor toedelings, Dinsdag in die debat oor die spesiale toedelingswetsontwerp gesê.

Die Nasionale Vergadering het laatmiddag ten gunste daarvan gestem. Dit word nou na die raad van provinsies verwys. 

Die wetsontwerp maak voorsiening vir R59 miljard se ekstra hulp aan Eskom oor die volgende twee jaar, benewens die R23 miljard per jaar oor die volgende dekade wat in Februarie se begroting aangekondig is.

Sarupen het gewys op die haas waarmee die wetsontwerp deur die parlementêre prosesse gejaag is, want Eskom het daarop aangedring dat hy die geld teen einde Oktober kry.

Volgens hom is daar nie voorwaardes waaraan Eskom vooraf moes voldoen om die geld te kry nie, ondanks die DA se verskeie wysigings wat voorgestel is om streng voorwaardes te stel.

Eskom het verlede jaar ’n verlies van R2,3 miljard gely en in die boekjaar tot einde Maart vanjaar was die verlies R21 miljard. Hy kan nie die rente op sy skuld uit kontantvloei betaal nie, en het ’n skuldlas van meer as R440 miljard.

Sarupen meen die enigste oplossing vir Eskom is om kragopwekkingseenhede te privatiseer, weg te skuif van steenkool en om die voorstelle van die nasionale tesourie se ekonomiese beleidsdokument in werking te stel.

Die wetsontwerp soos dit tans lyk is ’n blanko tjek en beloon diefstal en staatskaping, het Sarupen gesê.

Denis Joseph, nog ’n DA-lid van die staande komitee oor toedelings, het gesê die komitee was verlede week op ’n toesigbesoek by Eskom se senior bestuur by sy hoofkantoor in Megawatt Park toe beurtkrag toegeslaan het.

Joseph het ook gewaarsku teen die gebrek aan voorwaardes vir die reddingsboei aan Eskom. Daar was te min tyd om die wysigings wat die DA voorgestel het in die wetsontwerp in te sluit.

Van die oorsake vir Eskom se insinking wat geblyk het uit die vergadering met Eskom se senior bestuur sluit volgens Joseph in:

  • Belangebotsings wat nie doeltreffend bestuur is nie;
  • Geen gevolge-bestuur nie;
  • Voorskrifte van die nasionale tesourie is as “te ingewikkeld” geïnterpreteer deur Eskom;
  • Foute by die nuwe kragstasies Medupi en Kusile;
  • Prosedures en wetsvereistes wat geïgnoreer of verkeerd geïnterpreteer is;
  • Swak dissipline van werknemers;
  • Die manier waarop daar oor tenders besluit word;
  • Onreëlmatige besteding ingevolge die wet op die bestuur van openbare finansies;
  • Onvoldoende opleiding;
  • ’n Eskom-direksie wat weens ’n gebrek aan vaardighede en genoeg toesig oor die administrasie nie sy mandaat kon uitvoer nie; en
  • Die bou van kragsentrales ver van steenkoolmyne wat tot stygende vervoerkoste gelei het.
Meer oor:  Eskom  |  Ashor Sarupen  |  Beurtkrag  |  Reddingsboei  |  Elektrisiteit  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.